Suzuki se Gixxer SF kry blink nuwe baadjie

(Foto: Brian Cheyne)

Vier jaar lank was ’n 150 cc- Suzuki Gixxer SF my getroue pendelfietsie van die Gautreinstasie na my kantoor. Vir so ’n klein fiets het hy baie goed vertoon en is hy meer as een keer aangesien vir ’n baie groter fiets. Suzuki het dit egter reggekry om hierdie fiets nog beter te laat lyk. Die 2021- Gixxer SF het ’n spoggerige nuwe baadjie en so ’n paar klein kosmetiese veranderinge.

Meganies is die fiets egter onveranderd. Dit het steeds die 155 cc- lugverkoelde enkelsilinderenjin gekoppel aan ’n vyfspoedratkas. ’n Mens kan seker redeneer as dit nie stukkend is nie, hoef jy dit nie reg te maak nie. Suzuki het egter ’n gulde geleentheid laat verbygaan om hier ook klein verbeterings aan te bring.

(Foto: Brian Cheyne)

Die enjin word deur ’n vergasser bedien en die Gixxer kan maklik 120 km/h haal. Maar dan is dit asof die klein Gixxer uitasem raak, want ek dink nie die vergasser kan brandstof vinnig genoeg verskaf nie. Ek is oortuig daarvan dat ’n klein verandering aan die finale aandrywing ’n reuseverskil sou maak aan die topsnelheid van die Gixxer.

Die fiets is dalk meganies onveranderd, maar hy lyk nou heelwat beter en meer aggressief. Die nuwe bakpanele lyk of hulle oorgedra is van die GSX 250 F, want hulle vertoon baie breër as die vorige model. Die neus is ook laer met ’n skerp punt. Dit huisves nou ’n heelwat groter LED-hooflig.

(Foto: Brian Cheyne)

Agter die windskermpie is daar steeds ’n vloeikristal-instrumentepaneel wat nou bygewerk is. Dit vertoon nog steeds presies dieselfde inligting as die vorige model, maar die uitleg is anders. Om die kleiner Gixxer te onderskei van die 250-model is daar swart aksente op die brandstoftenk en die neus aangebring. Die saal is nou opgedeel in twee afsonderlike kussings en daar is ’n modderskerm oor die agterwiel. Die agterlig is ook nou ’n LED-eenheid.

Die handvatsels is herontwerp en baie meer sportief gemonteer. Dit maak dat jy meer vooroor lê as by die vorige model, maar dit is steeds nie ongemaklik op die gewrigte nie.

Een ding wat Suzuki behou het, was die fiets se karakter. Dit bly nog steeds ’n ongelooflike lekker fiets om mee te ry. In draaie kan jy regtig maar die krane oophou, want die vering sal vir jou sorg. Ek kan ook getuig van die fiets se betroubaarheid. Dit is immers ’n Suzuki. So, as jy op soek is na ’n doodeerlike, betroubare fiets, moet die klein Gixxer op jou kortlys wees.

Spesifikasies:

Enjin154.9 cc-enkelsilinder
Gewig (Nat)139 kg
Kraglewering14.8 pk @ 8 000 rpm
Wringkrag14 Nm @ 6 000 rpm
Tenkkapasiteit12 L
Saalhoogte780 mm
PrysR35 750

Klik hier vir die produkblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Belinda ·

Nice, dink dis n billike prys vir n 150cc nuut en dit nog vir n Suz ook!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.