Suzuki se nuwe interessante buksie in Indië op die proef gestel

Die Suzuki S-Presso. Foto: Verskaf

Maroela Media was onlangs bevoorreg genoeg om vir die eerste keer ʼn internasionale motorbekendstelling by te woon.

Hoekom oorsee? Suzuki Suid-Afrika is die afgelope paar jaar ietwat van ʼn suksesverhaal. Om in ʼn mededingende mark jou toetrede te maak is bitter moeilik, soos baie vervaardigers sal weet. Indien daar aanvanklik merkwaardige sukses is, beteken dit ook nie dat dit vir altyd gaan hou nie.

Die Suzuki S-Presso. Foto: Verskaf

Suzuki het in 2008 met twee modelle, die Swift en die SX4, na Suid-Afrika teruggekeer. Albei het redelike sukses behaal en Suzuki het in 2008 altesaam 2 819 voertuie verkoop. In Januarie 2020 is ʼn indrukwekkende 1 632 voertuie vir die maand verkoop, nie ver agter 2008 se jaarsyfer nie. Dit plaas Suzuki veilig in die sewende posisie in Suid-Afrika, ná fabrikate soos Toyota, Volkswagen en Ford, maar onder andere voor Mercedes-Benz, Kia, Haval, Mazda en Isuzu.

Suzuki se brood en botter, met ʼn reusemarge, is die Swift. Daar is 824 eenhede in Januarie verkoop. Ek voorspel soortgelyke sukses vir die Suzuki S-Presso, omdat dit ʼn ruimer, gemakliker en beter gehalte produk is as Renault se Kwid – vir minder geld (ten minste in Indië, want pryse is nog nie vir Suid-Afrika vasgestel nie). Ek glo egter hulle gaan die S-Presso ʼn direkte mededinger vir die Kwid maak.

Die Suzuki S-Presso. Foto: Verskaf

Die S-Presso deel ook die HEARTECT-platform met Suzuki se luukser Baleno en die oulike Ignis. Dis ʼn goeie beginpunt. Die S-Presso maak gebruik van Suzuki se K10B atmosferiese 1.0 driesilinderpetrolenjin. Dié enjin bied 50 kW en 90 Nm. Dit klink dalk min – maar die S-Presso weeg slegs 726 kg.

Die ontwerp van die S-Presso is ʼn klein dorpsportnutsvoertuig as ek dié nuwe woord kan skep. Hy het 180 mm grondvryhoogte en baie slim proporsies. Daar was talle lang mans tydens die bekendstelling en indien vier groot volwassenes in die buksie ry is daar nog heeltemal genoeg beenruimte om gemaklik te wees. Dis toordery.

Die Suzuki S-Presso. Foto: Verskaf

Die bestuurdersitplek kan effe hoog voel, maar ons het ons terugvoer vir die ingenieurs gegee – kom ons kyk of hy met tyd ʼn hoogteversteller kry. Verder is dit ʼn puik klein 5-spoed handrat met ʼn gretige enjintjie. Die lugreëling hou dinge lekker vars in die kajuit – al is dit tans winter in Indië, was die temperature so by 25 grade Celsius in die woestyn.

Ongelukkig gaan Suid-Afrika nie aanvanklik Suzuki se SLDA-inligtingstelsel met Carplay en Android Auto sien nie, maar ek is verseker dat hulle daaraan werk. In Indië is die verkeer chaoties en mense hou nie regtig by enige padreëls nie, almal maak maar nes hulle wil – al is dit teen ʼn laer spoed.

Die Suzuki S-Presso. Foto: Verskaf

Ons het vir die manne mooi gevra of ons bietjie meer “Suid-Afrikaanse” spoed kan toepas en hul rubberarms is later genoeg gedraai sodat ons op ʼn stuk ongeveer 110 km/h kon ry. Dit, vir Indië, is soos die man wat nou die dag 309 km/h in sy Audi in Midrand gery het. Dis mal. Nietemin, die stabiliteit van die S-Presso is beslis beter as wat die Kwid kan bied.

Die S-Presso sal na verwagting in Maart sy buiging in Suid-Afrika maak. Indien die wisselkoerse en Jan Taks hul gedra dink ek ons gaan derduisende S-Pressos op die paaie sien rondkerjakker.

Daar sal waarskynlik drie modelle in die reeks wees, naamlik ʼn intreemodel, ʼn luukser model en ʼn luukse outomatiese model. Ons sal die plaaslike bekendstelling bywoon en sal in daardie stadium meer inligting oor pryse, waarborg, diensplan en mededingers kan gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wielspore ·

Motor vervaardigers ontwikkel gereeld veiligheids stelsels om verbruikers te beskerm en te help indien die bestuurder ‘n fout sou maak, ek verwys onder meer na ABS, ECS en lugsakke.
Dan kry jy modelle soos in die bostaande berig wat moontlik oor al die veiligheids eienskappe voldoen, maar die voertuig is klein, lig in gewig en het bande wat jou herinner aan Marie beskuite. Ry met daardie rolbos in die Oos Kaap tussen PE en Jeffreysbaai gedurende winderige toestande dan beteken ABS en ECS niks, die voertuig is so onstabiel op die pad soos seep in die bad.
Hou maar die rolbosse vir die stad, winkel toe en terug, skool toe en terug.
Lekker ry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.