Suzuki slaan nóg ʼn ses met die Brezza   

Suzuki is ʼn handelsmerk wat lyk of hy tans nie ʼn voet verkeerd kan sit nie. Dit is die einste Suzuki wat in Junie 2008 na Suid-Afrika teruggekeer het met ʼn billike 230 verkope en in Januarie 2021 algeheel sesde was met ʼn puik 1 861 eenhede wat verkoop is.

In Oktober 2020 is ʼn rekord van 2 032 eenhede verkoop – en ek is oortuig dat die Brezza-buksie, die goedkoopste B-segment-sportnuts in Suid-Afrika, hulle behoorlik sal help tot 2 500 eenhede per maand.

Kom ek verduidelik hoekom. Die B-sportnuts-segment is tans die enigste segment wat werklik groei en die Suzuki Vitara Brezza is presies só ʼn B-sportnuts-mededinger.

Die ontwerp is netjies. Daar is nie te veel aan hom getorring nie, en ook geen fieterjasies wat die ontwerp vinnig laat verouder nie. Aan die binneruim is die Brezza ʼn eenvoudige vyfsitplek gesinsbuks. Geen nonsies. Die paneelbord is konserwatief en al die kontroles en instrumentasie is ergonomies uitgelê. Dit bring my wel dan by die spesifikasievlak van die Brezza. Al die truuks wat Suzuki teen dié prys in die Brezza ingeprop het, is verstommend.

Daar is outomatiese ligte en ruitveërs, spoedkontrole, klimaatbeheer, blindekolwaarskuwing, selftoevoukantspieëltjies en ʼn selfverduisterendetruspieël, parkeersensors en truratkamera én outomatiese ruite op al vier deure. Aan die veiligheidkant is daar twee lugsakke, ABS met remkragverspreiding en noodremhulp. Daar is styfspanners op die gordels en Isofix-monteringspunte vir babastoeltjies.

Die Brezza word aangedryf deur ʼn juweel van ʼn atmosferiese 4-silinder petrolenjin. Hy bied 77 kW en 138 Nm, maar te danke aan puik kalibrasie van dié enjin, versneller, koppelaar en ratkas ry die Brezza soos ʼn droom. Daar is ʼn 4-spoed outomatiese ratkas wat ons binnekort onder hande sal kry.

Op die pad is waar die Brezza regtig uitblink. Danksy die puik kalibrasie is hy bitter maklik om te bestuur. Ritgehalte is voorwaar gemaklik, in teenstelling met ʼn hele aantal voertuie wat deesdae heeltemal te hard ry vir geen rede nie. Padhouvermoë is in die kol vir só tipe voertuig.

Ek het die Brezza ʼn jaar terug in Indië gesien toe ons daar was vir die bekendstelling van die Suzuki S-Presso. Ek het daai tyd al gesê dat die Brezza teen die regte prys groot opslae in Suid-Afrika sal maak.

Já, die handrat sou kon doen met ʼn sesde rat – maar nou soek ek regtig rede om te kla. Teen dié prys is die Brezza ʼn ware winskoop, en die spesifikasievlak op die GLX-model is puik!

Die reeks lyk só:

Suzuki Vitara Brezza 1.5 GL handrat77 kW/ 138 Nm6,2 ℓ/ 100 kmR244 900
Suzuki Vitara Brezza 1.5 GL outo77 kW/ 138 Nm6,2 ℓ/ 100 kmR264 900
Suzuki Vitara Brezza

1.5 GLX handrat

77 kW/ 138 Nm6,2 ℓ/ 100 kmR289 900
Suzuki Vitara Brezza 1.5 GLX outo77 kW/ 138 Nm6,2 ℓ/ 100 kmR309 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 200 000 km waarborg en 4 jaar/ 60 000 km diensplan.

Ons sal weer tyd met die Suzuki Vitara Brezza deurbring en hom dán met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MT ·

Ek moet darem diep in die geheue delf vir nog ‘n voertuig wat nuut met ‘n 4-spoed outomatiese ratkas uitgereik is, en dit met ‘n verkoopprys aan die verkeerde kant van R300, 000.

Ek reken egter dit is in pas met Suid-Afrika se status as ‘n derde wereld land dat ou selfoon- en rekenaartegnologie (met die uitsondering van ‘n paar items), duur motors, peperduur en onbetroubare elektristeitsvoorsiening, kleiner volumes en groottes van bv. waspoeiers, brood, sjokolade, koeldranke, ens. so deel van ons daaglikse bestaan geword het, dat dit as van normaal aanvaar word.

andre ·

Dieselfde voertuig word as die Toyota Urban Cruiser verkoop.
Die voertuig behoort met sy bewese 4-spoed outo ratkas baie betroubaar te wees.
Net wat n mens in Suid-Afrika nodig het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.