Suzuki slaan nóg ʼn ses

Suzuki het pas sy jongste model in Suid-Afrika bekend gestel. Die nuwe model heet Fronx … ʼn vreemde naam, só heeltemal anders dat Suzuki Suid-Afrika self tydens die plaaslike bekendstelling van dié karretjie vra – “WTF!?” What the Fronx …

Dit is ʼn aantreklike outjie met ʼn moderne ontwerp. Suzuki praat steeds van ʼn sportnutsvoertuig, maar ek dink dis eerder net ʼn lekker luikrug op hakskoene. Die uitklophou is die prys, maar meer daaroor later.

Die kajuit is netjies uitgelê – soos mens nou al verwag van Suzuki. Ja, die materiale is duursame plastiek eerder as leer, maar teen dié pryspunt is dit beslis in die kol.

Die speelgoed in die GLX-model is werklik baie. Daar is ʼn enorme 9″-raakskerm vir die inligtingstelsel wat CarPlay en Android Auto bied, asook twee USB-poorte agter in die kajuit vir die kinders of passasiers om hul fone mee te laai. Terwyl hulle op hul fone speel, is daar ook twee lugopeninge agter in die middelkonsole om lugreëling te bied vir die agterste sitplekke.

Onder die kap sit Suzuki se atmosferiese 1.5-viersilinderpetrolenjin. Die enjin bied 77 kW en 138 Nm. Dit klink dalk nie baie sterk nie, maar as mens al met ʼn Suzuki-enjin te doen gehad het, dan weet jy hul karakter is fantasties. Indien mens meer krag nodig het, skakel ʼn rat terug en sit voet in die hoek – sodra die omwentelinge bó 4 500 r/min opbou, tel hy sy sokkies op en hol vir ʼn vale.

Op die pad kon ek aanvanklik nie besluit of die padhouvermoë goed is nie – maar ná ons uit die kar geklim het en self skaars kon regop staan in die Suidooster het dit heeltemal sin gemaak. In ʼn stadium draai ons saam met die wind en toe loop die Fronx werklik mooi in sy spoor. Suzuki het steeds ʼn irriterende stuurkalibrasieprobleem waar die kar sukkel om rustig te wees in ʼn reguit lyn, asook so ʼn vreemde stywe gevoel aan die stuur tussen -2 en +2 grade. Dit is egter net ʼn kalibrasiefoefie wat ek glo hulle vinnig kan uitsorteer.

Op die eerste dag ry ons met die 4-spoed-outo. Indien mens nie sag werk met jou versnellerinsette nie, kan hy bietjie rondsoek vir ratte … mens moet net jou bestuurstyl effens aanpas. Die tweede dag het ons met die handrat gery, en dié karretjie het my uit die veld geslaan. Hulle het die 5de ratverhouding mooi reggetrek dat die Fronx nie teen 120 km/h op die snelweg teen 4 000 r/min dreun nie. ʼn Lieflike, stil 3 000 r/min – mooi in die begin van die wringkragkurwe dat mens ook nie vir elke bult moet ratte terugskakel nie.

Vanuit ʼn veiligheidsoogpunt is die Fronx vol gelaai. Daar is ses lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, stabiliteitsbeheer én vastrapbeheer. Daar is isofix-monteringspunte vir die kinderstoeltjies ook – so al die insittendes is werklik veilig.

Op die laaste dag ry een van Suzuki se senior bestuurders saam met ons. Haar enorme 71 cm-tas, ons twee 56 cm-tasse en drie rugsakke het lag-lag in die kattebak gepas. Dít wil gedoen wees.

Ek sal die Fronx só opsom: Dié spesifikasievlak sou nie uit plek voel op ʼn voertuig van R400 000 en opwaarts nie, maar die Fronx begin by R279 900 vir die GL-model.

Dit lyk asof Suzuki tans nie ʼn voet verkeerd kan sit nie.

Die reeks lyk só:

Suzuki Fronx 1.5 GL handratR279 900
Suzuki Fronx 1.5 GL outoR299 900
Suzuki Fronx 1.5 GLX handratR315 900
Suzuki Fronx 1.5 GLX outoR335 900

Die reeks word gedek deur ʼn vyfjaar/200 000 km-waarborg en vierjaar/60 000 km-diensplan.

Ons sal weer tyd met die Fronx deurbring en hom dán teen sy mededingers vergelyk, maar indien jy die mark verken vir ʼn nuwe motor, gaan toetsbestuur beslis die splinternuwe Suzuki Fronx.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter ·

In my opinie : Ek het verskeie klein motors onlangs gaan toetsbestuur. Die probleem wat ek gesien ghet met motors sonder TURBO’s is dat hulle uiters swak trek in Gauteng met die hoogte bo seevlak. Na lang gesoek het ons op die VW Polo Tsi afgekom met die turbo en DSG ratkas – trek so sterk enm is is lig op sous. die prys was baie goed en die kwalitieyt is beste ooit. So ek dink Suzuki maak goeie motors, maar daai 1.5 engine sonder ‘n turbo is ‘n fout. Die kar gaan maar sukkel met 77KW as ek die ander motors in daai klas vergelyk. Dalk by seevlak sal dit beter wees.

Koos 100 ·

Voordat ek Pieter se kommentaar gelees het, het ek ook my opinie oor die enjin. Ek ry ‘n Ertiga met dieselfde enjin. My skoonpa ry ‘n Brezza, met dieselde enjin. Suzuki moet nog net die enjin in ‘n motorfiets inbou, dan is die enjin in al hulle produkte. Ek verstaan dat dit gedoen word om kostes laag te hou, maar Suzuki, as ek wil opgradeer, soek ek ‘n ander enjin ook, anders voel die bestuurservaring dieselfde. Daar is niks fout met die enjin en ratkaste nie, maar verveling het al motorvervaardigers se verkope liederik geknou! Ek onthou hoe VW in die vroeë 2000 jare hulle Golf 4 en Jetta 4 met kasetspelers verkoop het. Dit was deurslagewend vir baie kopers wat CD spelers in ander vervaardigers as standaard kon kry. Suzuki, julle het puik motors, maar pasop om vervelend te wees. My volgende Ertiga aankoop sal afhang van die enjin.

Marco ·

Die enjin vir die spesefieke motor is in die kol, maar dit is n groot teleurstelling in die Grand Vitara. Na my mening moes die Grand Vitara eerder die 1.4 Boosterjet wat in die Vitara is gekry het. Dit wil vir my voorkom of die ouer Vitara n heelwat beter koopie is. Die materiale in die binneruim van die Vitara is ook heelwat beter as in die Grand Vitara. Bv. die boonste paneelbord is molded plastic waar die “Grand” Vitara sin kliphard is.

andre ·

Die ou,of gewone Vitara is in n ander klas ,ook sy prys .In Europa gebou ,wat hom daai soliede gevoel gee,en dan is daar die 1.4 Boosterjet engin.n 9jaar oue ontwerp voer die botoon.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.