Suzuki Swift DZire-sedan

Die netjiese Suzuki DZire met sy 300 liter bagasiebak Foto: QuickPic/Suzuki

Die netjiese Suzuki DZire met sy 300 liter bagasiebak Foto: QuickPic/Suzuki

Suzuki Auto Suid-Afrika het die gewilde Swift-luikrugreeks uitgebrei met die toevoeging van ’n nuwe sedanweergawe. Die ondeunde vierdeursedan word onder die DZire-naam bemark, en benut dieselfde onderstel as die luikrugmodel, maar bied die bykomende voordeel van ’n praktiese toesluit-bagasieruim, en meer ruimte vir insittendes agter.

Die nuwe Swift DZire se kragbron van 1,2 liter is ’n nuwegeslag-ontwerp wat redelike wakker verrigting aan uitstekende brandstofdoeltreffendheid koppel. Die viersilinder-sestienklepenjin is met ’n keuse van outomatiese of handratkaste beskikbaar. Tydens die onlangs bekendstellingsrit in die Wes-Kaap is net die handratmodel aangebied.

DZire-kopers kan tussen GA- en GL-weergawes kies, maar selfs die GA-model bied ’n aantreklike lys standaardtoerusting, kenmerke en afwerkings. Die klem val veral op tasbare gehalte, estetiese voorkoms en gebruiksvriendelikheid.

Die kajuit bied derhalwe sitplek vir vier of selfs vyf (skraal) insittendes, en die bagasiebak van 300 liter het hope pakplek. Wat binne-afwerking betref, is die kontras tussen die donker en ligte skakerings van die instrumentepaneel, asook die ligkleurige afwerkings van die sitplekke en deurpanele, ’n unieke kenmerk van die DZire.

Afhangend van die spesifieke model, bied die DZire bykomende veiligheidskenmerke soos dubbele lugsakke voor, afstandbeheerde sentrale sluiting, en voorste rukstopgordels met lasbeperkers en voorspanners (pre-tensioners).

Die onderstel van die DZire is spesifiek aangepas om swak padoppervlaktes baas te raak – iets wat binne die raamwerk van Suid-Afrika se onvoorspelbare padtoestande van besondere belang is. ’n Effens hoër grondvryhoogte en hoëprofielbande sorg dat die DZire stamperige teer, slaggate en grondpaaie met gemak baasraak. Die nadeel is egter dat hierdie hoë grondvryhoogte die motor onder winderige toestande ietwat onstabiel maak.

Die nuwe Suzuki DZire is onmiskenbaar lid van die Swift-familie. Die nuweling het dieselfde vars, aantreklike vooraansig, wat onlangs vir die 2014-modeljaar opgeknap is. Onder die sleutelkenmerke tel die dinamies gekurfde enjinkap, ‘n smal, netjies ontwerpte sierrooster, en groot, helder hoofligte met deursigtige lense.

Die aansig van agter skep ’n sportiewe, doelgerigte indruk, met ’n kort bakoorhang, relatief breë spoorwydte, en opmerklik groot agterligte. ’n Blink sierstrook verbind die twee agterlig-samestellings, terwyl ’n derde, hooggeplaaste remlig met helder ligdiode-elemente toegerus is.

Die bagasiebakdeksel maak besonder wyd oop, en bied gerieflike toegang tot ’n groot laairuim van sowat 300 liter.

Diegene wat reeds die vars, hedendaagse uitvoering van die Swift-luikrug se binneruim ervaar het, sal nie net onmiddellik tuis voel in die DZire se kajuit nie, maar ook dadelik besef dat die binneruim sy eie, unieke kenmerke bied.

Die blinknuwe instrumentepaneel se instrumentehuisie sorg dat die wyserinstrument duidelik sigbaar bly, terwyl die stuurwiel kantelverstelbaar is. Die kontroles vir die lugversorging is in die middel van die instrumentepaneel geplaas.

Dit geld ook die klankstelsel, wat deel van die GL-weergawe se lys standaardtoerusting is, maar as ’n opsie vir die GA-model beskikbaar is. ‘n Paneelkassie met oopswaaideksel voor die voorste passasier bied bykomende bergplek.

Gesinne wat die lang pad vat sal verheug wees oor die bekerhouers wat by die deurpanele geïntegreer is, en ook in die middelste konsole ’n tuiste vind. Daar is selfs ’n oulike, oopvou-houer reg voor die voorste passasier se luguitlaat, wat help om koeldranke koel te hou.

Die nuwe DZire word deur Suzuki se jongste-geslag K12-enjin van 1,2 liter aangedryf. Die viersilinder is met 16 kleppe en elektroniese brandstofinspuiting toegerus, en baat ook by Suzuki se sogenaamde VVT-stelsel, wat die kleptydreëling vir spesifieke rytoestande aanpas, en so optimale kraglewering en doeltreffendheid bied.

Die nuwe kragbron van 1 197 cc behaal ’n maksimum-kragsyfer van 63 kW by
6 000 r/min, met ’n gepaardgaande wringkragpiek van 113 Nm by 4 500 r/min.

Daar is ’n keuse van twee ratkaste om die krag na die voorwiele oor te dra. ’n Vyfgang-handratkas met seepgladde skakeling is standaard, maar daar is ook ’n outomatiese viergangratkas vir diegene wat dikwels druk verkeer moet baasraak, en dus ’n outomatiese eenheid verkies.

Die verbeteringe aan die skakelaksie gaan gepaard met ’n nuut ontwikkelde koppelaar met ’n stil en gladde hidrouliese ontkoppelstelsel. Die outomatiese ratkas bied ’n nuwe liniêre skakelpatroon wat makliker is om te gebruik.

Die DZire se veerstelsel is dieselfde as die Swift s’n, maar is aangepas om beter by die sedan se effens verskillende massaverspreiding en lasbehoeftes te pas. Veerstutte, kronkelvere en ’n teenkantelstaaf doen steeds voor diens, terwyl ’n wringstaaf met kronkelvere en skokbrekers agter ingespan word.

Soos reeds genoem sorg die effens hoër grondvryhoogte en hoëprofielbande dat die DZire die verswakkende toestande van plaaslike paaie makliker baasraak, en daarom minder aan slaggate en swak padoppervlakke uitgelewer is.

Die tandstang en kleinrat-stuurstelsel is met elektriese kraghulp toegerus, en beskik oor dieselfde flink reaksies waarvoor Suzuki se kleinmotorreeks reeds so bekend is. Die draaisirkel is ’n skrale 9,6 meter.

Die Swift se remstelsel koppel groot, verkoelde remskywe voor aan doeltreffende remtrommels agter. Die GL-model is bykomend met ABS-sluitweerbeheer toegerus. Dié jongste-geslag stelsel sluit rembystand en enjinsleurbeheer in, wat help om die beskikbare remkrag optimaal te benut, en ook keer dat die wiele sluit, al is die padoppervlakte nat of glibberig.

Al die modelle in die DZire-reeks is met staalvellings van 14 duim en volgrootte wieldoppe toegerus, maar allooiwiele van 15 duim kan opsioneel vir ’n bykomende R4 000 bestel word.

Met ’n massa van net 960 kg in die geval van die handratmodel, en 990 kg wat die outomatiese weergawe betref, bied die DZire ’n gunstige krag-tot-massa verhouding, wat op sy beurt beter verrigting, ratsheid en brandstof-doeltreffendheid tot gevolg het.

Die DZire 1.2-handrat versnel in 12,6 sekondes van 0 tot 100 km/h, en behaal ’n topsnelheid van 160 km/h. Die brandstofverbruik vir die gekombineerde siklus beloop ’n suinige 5,7 liter/100 km, met gepaardgaande CO2-uitlaatgasvlakke van 134 g/km. Hiervan gaan R1 197 in addisionele belasting na die Zuma-regime. (Reeds by die prys ingesluit).

Wat die outomatiese model betref, behaal die DZire steeds ’n topsnelheid van 160 km/h, en die verbruiksyfer van 6,3 liter/100 km vir die gekombineerde siklus bly skaflik. Die CO2-uitlaatgassyfer beloop 149 g/km. Die Zuma-regime se belastinghap uit hierdie syfers is R2 479-50).

Die nuwe Suzuki Swift DZire word met ’n keuse van twee spesifikasievlakke gebied: die GA-intreemodel, en die meer volledig toegeruste GL-weergawe.

Die GA is gemik op waardebewuste kopers met ’n beperkte begroting wat ’n ekonomiese klein sedanmotor van hoë gehalte benodig, maar wat steeds aan Suzuki se onberispelike standaarde voldoen. Die GL bied ’n langer lys van weelde- en geriefkenmerke.

Die Swift DZire GA is net as ’n handratmodel beskikbaar. Hoewel dit die juniormodel van die DZire-reeks is, is die GA meganies identies aan die GL, en bied dus dieselfde kombinasie van ratse padgedrag, flink verrigting en suinige verbruik.

Ondanks sy intreevlakstatus bied die GA steeds ’n indrukwekkende lys veiligheid- en geriefgerigte kenmerke. Daaronder tel aantreklike doekstofbekleedsel, lugversorging met ’n stuifmeelfilter, nekstutte voor, ’n bagasiebakdeksel wat van binne oopgemaak kan word, sonskerms met ’n smukspieëltjie vir die voorste passasier, en vier luidsprekers wat maklik aan ’n opsionele klankstelsel gekoppel kan word.

Daar is heelwat bêreplek binne, onder meer in die paneelkissie voor die voorste passasier en die vakkies in die deurpanele. Die agterruit is met ’n ontwasemstelsel toegerus.

Wat veiligheidskenmerke betref, bied die DZire GA twee lugsakke voor, en voorste rukstopgordels met voorspanners en lasbeperkers. Staalwiele van 14 duim, geskoei met 165/80 R14-bande, is standaardtoerusting. ‘n Groot probleem, myns insiens, is egter die afwesigheid van ABS-remme.

Vir kieskeurige motorryers bied die Swift DZire GL ’n volledige reeks kenmerke wat weelde, gerief en veiligheid betref. Albei GL-modelle word deur dieselfde K12-enjin aangedryf, maar daar is ’n keuse van ’n vyfgang-handratkas en ’n outomatiese viergangratkas.

Van buite word die GL-model gekenmerk deur swart A- en B-pilare, kleurbypassende deurhandvatsels, geïntegreerde misligte voor, en elektries verstelbare, kleurbypassende buitespieëls met ingeboude rigtingaanwysers.

Terwyl staalvellings van 14 duim met 165/80 R14-bande standaardtoerusting is, kan die motor ook teen bykomende koste met allooivellings van 15 duim en 185/65 R15-bande bestel word – ‘n plesiertjie wat jou nagenoeg R4 000 uit die sak sal jaag..

Die GL-weergawe se binneruim weerspieël sy deftiger status met die gebruik van nog meer aantreklike sitplekbekleedsel, en die toevoeging van ’n toereteller. Die instrumentepaneel is steeds in kontrasterende skakerings afgewerk, maar die GL spog met metaalaksente op die stuurwiel, die deurhandvatsels binne, die rathefboom en die handrem. Kunshout-sierstroke op die voorste deurpanele en die instrumentepaneel skep ’n elegante indruk.

’n CD-speler met instemmer en vier luidsprekers, asook AUX- en USB-sokke vir gebruik met draagbare musiekspelers en geheuestokkies tel onder die GL-model se standaardtoerusting. Die klankstelsel kan met kontroles op die stuurwiel beheer word, en is ook met MP3-musiekleêrs versoenbaar.

’n Lugversorger met ’n stuifmeelfilter hou insittendes van die DZire 1.2 GL komkommerkoel, terwyl die sitbank agter met ’n middelste uitvou-armleuning en nekstutte toegerus is. Buiten die paneelkassie en die bergruimtes in die voorste deurpanele kry die GL ook bêrevakkies op die agterkant van die voorsitplekke se rugleunings.

Die GL se lys standaardtoerusting sluit ook elektries-beheerde kantruite, elektries verstelbare buitespieëls, afstandbeheerde sentrale sluiting en sleutellose toegang in. Wat veiligheid betref, is daar is steeds twee lugsakke voor, maar die GL word bykomend met ABS-sluitweerremme toegerus.

Die nuwe Suzuki DZire-reeks se voorgestelde kleinhandelspryse sluit ’n diensplan van twee jaar/30 000 km in (die ekwivalent van twee dienste), asook ’n waarborg van drie jaar/100 000 km, en ’n padbystandsdiens van drie jaar met onbeperkte afstand. Die diensinterval is 15 000 km.

Bevinding: Die nuwe reeks is ooglopend vir Derde Wêreldlande bedoel. Werkverrigting is beskeie en op die Hoëveld – met sy 17% kragverlies – is die kW-uitset ‘n beskeie 52.2.

Moet dus nie die DZire oorweeg as jou volgende tydrenmotor nie maar, as jy die baas is, sit hom gerus op jou lys as ‘n betroubare (Suzuki-gehalte) vlootvoertuig vir die besigheid.

Hierbenewens het Suzuki ook daarin geslaag om ‘n sedanbak te ontwerp wat visueel kop en skouers bo sy mededingers uitstaan.

Die huurmark, soos Avis, Hertz en ander sal waarskynlik ook van hierdie hanteerbare en betroubare klein B-segmentknapie hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.