Suzuki terg met nuwe Hayabusa

(Foto: Verskaf)

Ek moet nou my woorde versigtig kies. Toe ek in 2019 berig het dat die Suzuki Hayabusa se dae getel is, was die kommentare alles behalwe vleiend. Wat nie so goed oorgekom het nie, was dat ek verwys het na tweedegenerasie-Hayabusa wat nie meer vervaardig gaan word nie, en dit ná hy amper 20 jaar lank feitlik onveranderd gebly het. Toe het ek besef watter ikoon die Hayabusa is. Jy maak nie sommer wilde stellings nie.

Wel, dit is nou amptelik: daardie Hayabusa het nou afgetree, en Suzuki het in die week die splinternuwe Hayabusa vir ons gewys. Dit was ’n klein, privaat geleentheid te midde van al die nuwe Covid-19-reëls.

(Foto: Brian Cheyne)

Ons kon net kyk en voel, en sal moet wag voor ons een kan ry. Die eerste twee besendings behoort teen Oktober hier te wees, maar as jy gedink het jy kan dan instap en een aanskaf, het ek slegte nuus. Almal is reeds verkoop. Al 42 van hulle.

Die goeie nuus is darem dat Suzuki nie ver afgewyk het van die oorspronklike ontwerp nie. Die grootste rede vir die nuwe fiets se ontstaan is natuurlik die Europese emissieregulasies. Daarom lyk die nuwe fiets, op papier, asof Suzuki ’n stappie terug gevat het wat verrigting aanbetref. Ons is egter verseker dat die nuwe fiets wel stof in die ou model se oë sal skop.

(Foto: Verskaf)

Die algehele ontwerp trek baie sterk op die ou model, maar oral is klein detail-veranderinge aangebring. Die kantpanele het ’n pragtige chroomafwerking ingebou en is herontwerp om selfs nóg beter aërodinamika te lewer. Die fiets het steeds sy lang asafstand wat die Hayabusa uiters stabiel maak op hoë spoed. Om te voldoen aan die Euro5-standaarde het hierdie fiets twee yslike uitlaatpype. As jy die fiets aansit, is die fiets feitlik doodstil. Ek was verbaas hoe stil hierdie enjin loop. Ek weet egter dat daardie pype nie lank op die fiets sal bly nie.

Die enjin is steeds die 1340 cc-viersilindereenheid, maar Suzuki het baie werk gedoen om die enjin meer gebruikersvriendelik te maak. Die vorige Hayabusa was verspot maklik om te ry, so ek weet nie wat Suzuki verder aan die enjin kon doen nie. Kraglewering is 190 pk teen 9 700 rpm en die fiets is steeds beperk tot 299 km/h.

Feitlik alle nuwe fietse kom met ’n volkleur TFT-skerm, maar Suzuki het getrou gebly aan die vorige modelle en die analoogwysers behou. Daar is wel ’n meer omvattende TFT tussen die spoedmeter en toereteller. Daar is ’n hele rits nuwe elektroniese hulpmiddels en alles word op hierdie skermpie verstel. Ons sal geduldig wag totdat hierdie fiets plaaslik beskikbaar is. Tot dan kan ons net na die prentjies kyk en onsself verbeel hoe hy moet ry.

  • Vir meer inligting en spesifikasies, besoek Suzuki se webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Belinda ·

Ai eendag as ek die lotto wen soek ek so vinnige fiets…. Suzi rule!

Belinda ·

…. oh en ek loooove die nuwe look, voorligte en agter lig… stuuuuuuning verby!

andre ·

n Mens kan seker die spoedbeperker laat afhaal as jy oor die 300 wil ry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.