Suzuki Vitara Brezza vroeg in 2021 hier

Deur Gerhard Horn 

Suzuki se Vitara Brezza.

Suzuki SA het by die Jimny se onlangse 50ste verjaardagpartytjie ’n verrassing vir die media gehad. Dit was ʼn voorskou van die splinternuwe Vitara Brezza, wat vroeg volgende jaar in Suid Afrika beskikbaar sal wees.

Omdat dit maar net ʼn voorsmakie van die nuweling was, het Suzuki nie veel inligting gedeel nie. Ons weet dat hy gebruik gaan maak van ’n atmosferiese 1.5-viersilinderenjin. Die enjin stuur 77kW en 138Nm se wringkrag na die voorste as. Verder as dit wou Suzuki nie veel sê nie, maar ek het dié nuweling goed beklim en beklouter. As mens nie ’n kar mag bestuur nie, dan kyk jy maar solank na dit wat jy reeds voor jou het.

Met die eerste oogopslag lyk dit asof Suzuki nog ʼn wenner het. Ek twyfel geensins dat die Vitara Brezza Suzuki gaan help om selfs beter verkoopsyfers te bereik nie. Ingeval jy nie weet waarna ek verwys nie, Suzuki gaan tans van krag tot krag. Selfs in ’n jaar soos die verbeter hulle verkope amper elke maand. Dis ’n ongelooflike prestasie in ’n aaklige jaar soos die, waar meeste mense op een of ander manier die ekonomiese impak van die Covid-19-virus gevoel het.

So, wat het ek uitgevind toe ek die Brezza beklim en beklouter het? Kom ons begin met die enjin. Toe ek die enjinkap lig was ek verbaas om ʼn enjin te sien. Meeste vervaardigers maak die enjin toe met ʼn stuk plastiek, maar nie Suzuki nie. Hoekom is dit belangrik? Myns insiens is dit ’n duidelike kostebesparing, maar gedoen op die regte manier. Toe ek die ruim kattebak oopmaak en die vloer oplig, was ek verbaas om ʼn volgrootte spaarwiel te sien. Met ander woorde, jy kry nie ʼn mooi stukkie plastiek oor die enjin nie, maar jy kry wel ’n spaarwiel wat iets beteken. Dit dui op ’n vervaardiger wat sy teikenmark baie goed ken, wat dan die rede is hoekom Suzuki tans so baie karre verkoop.

Suzuki sê die Vitara Brezza vervang nie die Vitara soos ons hom tans ken nie. Hy vul die gaping tussen die Ignis en die groter, luukser Vitara.

Die Vitara Brezza is net so onder vier meter lank, maar Suzuki het die meeste van die spasie gemaak. Ek het die sitplek in my posisie gesit, en daar was meer as genoeg ruimte oor om gemaklik te sit agter. Die gehalte van die binneruim was heeltemal aanvaarbaar, hoewel ʼn mens eers met hom sal moet ry om te hoor of hy behoorlik aanmekaar vasgesit is.

Suzuki se Vitara Brezza.

Die kar wat ek beklouter het, was toegerus met alles wat die moderne eienaar sou wou hê. Daar was ʼn raakskerm, elektriese vensters en klimaatbeheer. Suzuki het genoem dat ABS en lugsakke ook standaard gaan wees. Ons sal eers weet wat alles standaard is op spesifieke modelle as die kar vroeg volgende jaar bekendgestel word, maar in my ervaring is Suzuki’s altyd goed uitgerus. Selfs die goedkoopste model in elke reeks kry die belangrikste toerusting as standaard. En met belangrikste bedoel ek dat jy byvoorbeeld nie ’n raakskerm kry nie, maar jy kry wel ABS en lugversorging.

Ek hou van hoe hy lyk, wat definitief saak maak in die segment. Hy gaan moet kompeteer met ’n hele rits bekende voertuie wat almal aantreklik is. Die Kia Sonet en Nissan Magnite is ook op pad Suid Afrika toe, so die kompetisie gaan rof wees.

Suzuki se Vitara Brezza.

Gelukkig het die Vitara Brezza reeds een groot voordeel wat in sy guns tel. Omdat hy in die ruimte pas tussen die Ignis en die Vitara, gaan hy heel waarskynlik goed geprys wees. Die duurste Ignis R240 000, terwyl die goedkoopste Vitara R310 000 is. Ek is seker daar sal sekere spesifikasievlakke wees wat oor die Vitara se intreevlak prys sal gaan, maar as Suzuki ’n middelvlak Brezza met al die lekker speelgoed teen R280 000 kan inbring, gaan die ding soos soetkoek verkoop.

As ek so kyk na die afgelope jaar, reken ek dat waarde vir geld die nommer een oorweging gaan wees in 2021. Nie net as dit by kar koop kom nie, maar sommer oor die algemeen.

Selfs al verkoop Suzuki die Brezza vir meer as dit, sal dit steeds ’n winskopie bly. In terme van grootte is hy baie na aan die Kia Seltos wat ek onlangs gery het, en daardie kar se pryse begin by R390 000.

Suzuki is gerat vir 2021. Ek reken die Vitara Brezza gaan baie kopers lok, nie net omdat hy goedkoop is nie, maar ook omdat hy ʼn aantreklike, ruim en relatiewe luukse sportnuts is. Dit is elke eienskap wat die algemene koper in Suid Afrika deesdae voor soek, so ek voorspel niks behalwe sukses vir die Vitara Brezza nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.