SYM Wolf T1: Ideale beginnerfiets

(Foto: Brian Cheyne)

Ná my artikel oor motorfietsopleiding het ek gewonder wat beskikbaar is vir 16-jariges wat hul eerste motorfiets wil koop. Die Taiwannese vervaardiger SYM het ’n paar 125 cc-modelle, onder meer die Wolf T1. Ek het toe een gaan haal om nader kennis te maak en om te voel wat op die nuwelinge wag.

Een van die eerste SYM-fietse wat ek gery het, was die 250 cc- SYM Wolf. Daar het ek reeds bewus geraak van die goeie bougehalte van SYM se fietse. Die Wolf was ook ’n baie aantreklike fiets, iets wat afwesig was in die massaproduksiewêreld van kleinkapasiteitfietse. SYM het jare lank, onder kontrak, Honda-motorfietse aanmekaargesit, so dit is te verstane dat die Wolf-fietse baie trek op Honda se kaalfietse en met vergelykbare afwerking.

(Foto: Brian Cheyne)

Die T1 lyk baie soos sy groter stalmaat en het selfs ’n bakpaneel onder die fiets wat hom baie sportief laat voorkom. Die voorste flikkers is geïntegreer in die bakwerk. Die saal is gemaklik en relatief laag. Dit behoort nuwe ryers se selfvertroue ’n hupstoot te gee as hulle hul voete plat kan neersit op die pad.

Die instrumentasie bestaan uit ’n analoë toereteller en ’n vloeikristaleenheid wat jou spoed, tyd en ratposisie aandui. Daar is ook ’n ritmeter. Die piepklein windskermpie, vermoed ek, se doel is om die bedrading weg te steek, eerder as om wind van jou te probeer wegkry.

(Foto: Brian Cheyne)

Die klein 125 cc-enjintjie lewer net oor 10 pk en beskik nog oor ’n vergasser eerder as brandstofinspuiting. Op koue oggende moet jy nog die smoorklep gebruik, iets wat my laat terugverlang het na my sorglose dae van skool toe ry op my motorfiets. Die aandrywing is deur ’n vyfspoedratkas. Sy lae kraglewering ten spyt, is die klein Wolf nie te traag nie. Ek het net ’n sesde rat gemis, want teen 110 km/h sing die klein enjintjie baie naby aan sy 9 000 rpm-rooilyn. ’n Pluspunt vir my was dat daar verbasend min vibrasie teen daardie toere was. Topspoed is net oor die 120 km/h, maar toestande moet perfek wees.

(Foto: Brian Cheyne)

Ek het een middag gaan ry om foto’s te neem en koffie te soek. Hier in die stadsomgewing was die Wolf in sy element. Van verkeerslig tot verkeerslig het hy genoeg woema dat jy voor kan kom, en bly. En as jy by ’n koffieplekkie stilhou, hoef jy darem nie om die hoek te parkeer om jou fiets weg te steek nie.

Die fiets was ook verbasend lig op brandstof, al het ek hom so hard gery. As ek moet raai, behoort jy oor die 400 km op ’n tenk te kry.

Die SYM Wolf is nie ’n langafstand-mylvreter nie. Dit is ’n fiets waarop nuwe ryers hul voete kan vind en ’n pendelfiets by uitstek. Vir ’n skoolkind met naskoolse bedrywighede behoort die T1 ook ideaal te wees, en teen R20 995 bied dit uitstekende waarde vir geld.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Boerkind

Stem 100% saam Brian. Ek het ‘n SYM 125 XS 125 K 18 maande terug gekoop (R16000). My kleindogter het haar eerste ryles op die fiets gekry en nou, 6000 km later loop die SYM nog heel goed! Ek het net ‘n klagte oor die “hakerige” 5-spoed ratkas – beslis iets wat SYM kan verbeter. Die SYM gee gemiddeld so 48 km/l en ry eintlik heel lekker. Ek het die spoed met ‘n GPS gemeet en ek dink 100 km/h gelykpad, sonder wind is seker die beste wat die fiets sal doen… wat steeds goed is vir ‘n “ouer” generasie… Lees meer »