Tien jaar later en die Amarok kraai steeds koning

Foto: Verskaf

Daar is twee klasse as dit kom by bakkies. ʼn Mens kry werkesels soos die Hilux en D-Max en dan kry jy ʼn leefstyldubbelkajuit. Daar is twee bakkies wat bó die res uitblink hier, dis ʼn Amarok en ʼn Wiltrak. Daar is een rede hoekom die Volkswagen my hart steel elke keer as ek met hom ry. Kom ek verduidelik hoekom.

Die Amarok se ontwerp was aanvanklik nie so mooi soos hy nou is nie. Hy’t in 2010 met piepklein wieletjies uitgekom, en hy’t gesukkel om mooi te lyk. Nou, met groter wiele en die spesifieke Dark Label beperkte weergawe tierlantyntjies lyk hy regtig netjies.

Die binneruim bly een van die ruimstes tussen sy dubbelkajuit mededingers. Die Amarok is baie breed. Sy bestuursposisie is vir my bitter gemaklik en sy ergonomie mooi uitgedink. Hy volg eenvoudig Volkswagen se resep wat hulle op meeste van hul voertuie gebruik. Die Dark Label het ʼn donker dakbedekking waarvan ek hou, lieflike leersitplekke, klimaat- en spoedbeheer en ʼn inligtingstelsel wat Apple CarPlay en Android Auto bied.

Dis wel by die enjin en ratkas waar die Amarok sy spiere begin bult. Toe die Amarok met sy 2,0 viersilinderturbodieselenjin bekendgestel is, het almal gelag. Nou is die res ook twee liters. En VW lag, want hulle is ver voor die ander. Die Dark Label word deur die 132 kW dubbelturbodiesel aangedryf wat 420 Nm bied. Dit klink dalk nie verstommend in vandag se geld nie, maar daar is een verskil: die Amarok se 8-spoed ZF outomatiese ratkas. Daar is eenvoudig geen ander outomatiese ratkas in die bakkie segment wat naby kom nie, veral nie Ford se nuwe 10-spoed wat onlangs heroep is nie.

Die Dark Label is ʼn 4Motion-model, en bied dus behoorlike 4×4-vernuf. Ek het nou al ʼn paar keer Volkswagen se Spirit of Amarok bygewoon, én deelgeneem in die mediauitdaging, en die Amarok beïndruk, veral die V6. As jy my nie glo nie, kyk ʼn bietjie wat Andre de Villiers op Safari 4×4 Roetes met die goed uitgerig kry.

Daar is nóg drie truuks in die Amarok se mou – almal ʼn geen koste opsie. Eerstens, as jy jou eie Amarok koop, kan jy enige wiel en band grootte kies, afhangend van jou behoeftes. As jou Amarok op grondpad gaan leef, vat die 16”-wiel met die grootste profiel bande, dit bied ʼn sagter rit. As jou Amarok in Sandton leef, vat die 20”-wiele – dis die mooiste. Tweedens kan jy vir swaardiensvering agter vra – dan kan jou Amarok 1.3 ton op sy rug dra. En derdens is die Amarok die enigste dubbelkajuit bakkie waarop ʼn standaard pallet agter op die bak tussen die wielboë pas.

Op die pad toer die Amarok soos ʼn luukse kar of sportnutsvoertuig – nie soos ʼn bakkie nie. Dit is lieflik gemaklik, én stil. Die Amarok het indrukwekkende padhouvermoë, selfs op teer kan ʼn mens nogal hardhandig raak met hom sonder dat hy te veel protesteer. Op die grondpad skakel ʼn mens die “off road”-knoppie aan, en dit verander die Amarok se ABS-programmering. Dus kan ʼn Amarok in die korste afstand stilhou op ʼn grondpad van enige ander mededinger.

Die Volkswagen Amarok 2.0BiTDI Dark Label 4 Motion is maklik om op te som. Dit is ʼn voorwaar ʼn indrukwekkende leefstylbakkie. Die enjin kan met enige ander saamloop te danke aan sy ratkas. As jy die geld het, koop beslis die V6 – hy is ongeëwenaar. Ons sal ook binnekort ons hande op die Amarok Canyon kry, dan kan ons sien wat dáár aangaan. Ek weet ook dat die 190 kW V6 Amarok in die laaste kwartaal van 2020 uiteindelik SA sal haal.

Die reeks lyk só:

Volkswagen Amarok 2.0 BiTDI Highline outo132 kW/ 420 Nm8.4 ℓ/ 100 kmR634 100
Volkswagen Amarok 2.0 BiTDI Highline 4Motion handrat132 kW/ 420 Nm8.0 ℓ/ 100 kmR673 300
Volkswagen Amarok 2.0 BiTDI Highline 4Motion outo132 kW/ 420 Nm8.5 ℓ/ 100 kmR693 800
Volkswagen Amarok 2.0 BiTDI Highline Plus outo132 kW/ 420 Nm8.4 ℓ/ 100 kmR695 100
Volkswagen Amarok 2.0 BiTDI Dark Label 4Motion outo132 kW/ 420 Nm8.5 ℓ/ 100 kmR731 600
Volkswagen Amarok 2.0 BiTDI Highline Plus 4Motion outo132 kW/ 420 Nm8.5 ℓ/ 100 kmR755 200
Volkswagen Amarok 3.0 V6 TDI Highline 4Motion outo165 kW/ 550 Nm9 ℓ/ 100 kmR783 500
Volkswagen Amarok 3.0 V6 TDI Highline Plus 4Motion outo165 kW/ 550 Nm9 ℓ/ 100 kmR840 200
Volkswagen Amarok 3.0 V6 TDI Canyon 4Motion outo165 kW/ 550 Nm9 ℓ/ 100 kmR843 000
Volkswagen Amarok 3.0 V6 TDI Extreme 4Motion outo165 kW/ 550 Nm9 ℓ/ 100 kmR885 100

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km waarborg en 5 jaar/ 90 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Mitsubishi Triton 2.4DI-D 4×4 outo133 kW/ 430 Nm8.3 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R599 995
Isuzu D-Max 3.0TD 4×4 LX outo130 kW/ 380 Nm7.8 ℓ/ 100 km5 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R666 500
Toyota Hilux 2.8GD-6 4×4 Legend 50 outo130 kW/ 450 Nm8.5 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

9 dienste diensplan

R709 800
Nissan Navara 2.3D 4×4 Stealth outo140 kW/ 450 Nm7 ℓ/ 100 km3 jaar/ 150 000 km waarborg

6 jaar/ 90 000 km diensplan

R714 300
Ford Ranger 2.0Bi-Turbo 4×4 Wildtrak outo157 kW/ 500 Nm8.1 ℓ/ 100 km4 jaar/ 120 000 km waarborg

6 jaar/ 90 000 km diensplan

R730 000

Tussen die mededingers in terme van gemak en luukshede blink die Amarok en die Wiltrak uit. Die Mitsubishi se prys kan nie geïgnoreer word nie. Met bakkies het almal ʼn voorkeur, maar gaan toetsbestuur hulle almal. Ek sal ʼn Volkswagen Amarok 3.0 TDI V6 Highline vat, asseblief … ʼn bloue.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Harry ·

Stem saam jou my lys lyk net bietjie anders
Navara
Hilux
Isuzu
GWM
Triton

koos10 ·

Wildtrak.
Wiltrak klink asof die Ford se maak nie lekker is nie……. grappie.

Ja nee, die VW is die ander ver voor, maar dit het ook baie te doen wat in SA beskikbaar is.
Die nuwe Ranger is met V8 beskikbaar oorsee. Die Hilux, wel, is ‘n Hilux en so betroubaar soos my hond.
Die Nissan is goed genoeg dat Mercedes hom gebruik het vir hulle bakkie.

In hierdie mark speel ‘n paar duisend rand nie regtig ‘n rol nie, maar wel handelaars netwerke en herverkoop waarde, en dan is daar gewoonlik net een wenner.
Maar ek sal enige een vat.

Schalk ·

Met alle respek Jy gebruik jou voorkeure om die artikel te skryf. Elke persoon wat ‘n voertuig besit of koop het sy eie voorkeure en begroting. Elke persoon kyk na ander opsies en punte wat vir hom waarde gee. Elke voertuig in jou artikel is bitter goed en absoluut goeie waarde vir geld. Oor en op watter waardes jy die Amarok as die Koning kroon is vir my duister. As jy net luuks wil gebruik is dit goed so , maar daar is werklik in prys gewys bakkies wat nie hoef terug te staan nie. Kyk na handelaars , dienste tydens en NA die motorplan. Kyk na bykomstighede se pryse en beskikbaarheid. Na herverkoop waardes en onderdeel beskikbaarheid vir diegene wat hulle voertuie vir ander omstandighede koop. En laastens in die tien jaar was die Amarok nie op elke gebied die wenner om die Titel van Koning te verdien nie,

Harry ·

Stem met jou saam Schalk, elke persoon het sy eie maatstawe waar volgens hy/sy n bakkie koop, my bakkie is n Navara en ek dink nie veel van die amarok nie volgens my is hy baie “overated”

koos10 ·

En lees ek nou net iets baie interessant raak:
Die volgende generasie Amarok word op die Ford Ranger se onderstel gebou, en waar word die SA model gebou? In Silverton,Pretoria by die Ford fabriek en ja Ford gaan hom sommer bou ook!!!
Dit sal interessant wees om sy prys dop te hou, gaan hy die kompetisie word vir die Ranger of gaan VW maak soos Mercedes en hom duur bemark en op sy naam ry?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.