Tiger se 1200-reeks ’n ernstige mededinger

Ons Suid-Afrikaners het maar ’n sagte plekkie vir ’n groot avontuurfiets. Hoe groter, hoe beter. En dan moet hy natuurlik nie ’n ketting hê nie – net asaandrywing sal deug.

Dit beperk egter jou keuses, want daar is tans min avontuurfietse met asaandrywing. Jou keuses is tussen BMW, Yamaha en Triumph. Triumph het pas sy splinternuwe Tiger 1200-reeks bekend gestel en hy verdien meer as net ’n inskrywing op ’n kortlys. Dít is ’n ernstige mededinger in hierdie segment.

Triumph het die karakter van die 1200 behou, naamlik die driesilinderenjin met asaandrywing. Vandaar is amper elke komponent ligter en beter gemaak. Triumph het dit reggekry om 25 kg aan gewig te sny en dit wil gedoen wees. Die 1200-reeks is ook nou uitgebrei om ’n meer unieke koopervaring te bied. Baie kopers soek die gemak en ruimte wat ’n groot avontuurfiets bied, maar wil nie noodwendig op tegniese grondpaaie ry nie. Ander wil weer nie meer tyd op die teer deurbring as wat absoluut nodig is nie.

Vir die meer padgeoriënteerde ryer bied Triumph die Tiger 1200 GT Pro. Die fiets het allooivellings, 19 duim voor en 18 duim agter. Vir die stofskoppers is daar die Tiger 1200 Rally Pro met speekwiele. Die voorwiel is 21 duim en die agterwiel is 18 duim. Albei modelle het ’n 20 liter-brandstoftenk. Vir albei modelle is daar egter ook ’n Explorer-variant met ’n 30 liter-brandstoftenk en ’n paar bybehore, eie aan die Explorer. Dit sluit items soos blindekolmonitering in. Sou jy van bane verwissel en daar is ’n voertuig in jou blindekol, sal die Explorer jou bewus maak daarvan. Die Explorer het ook verhitte grepe en saal as standaardtoerusting.

Die nuwe 1160 cc-enjin lewer nou 150 perdekrag teen 9 000 rpm. Dit is nege perdekrag meer as die vorige model. Die enjin se kraglewering is ook baie meer egalig. Die hele raam is ligter en net soos met die Tiger 900 is die agterste deel van die raam ’n los eenheid wat kan afskroef. Die hele fiets is ook fisiek nouer as sy voorganger.

Die vering word verskaf deur Showa en is ’n semi-aktiewe stelsel. Dit beteken dat die fiets heeltyd die vering monitor en aanpas na gelang van omstandighede. Remme is Brembo se nuutste Stylema-eenhede.

Die skerm is nou ook dieselfde seweduim-TFT-eenheid wat reeds op die Tiger 900 diens doen. Dit integreer met Triumph se slimfoontoepassing. Triumph se diensintervalle is 16 000 km en sluit ’n omvattende driejaarwaarborg in. Sodra ons die fiets kan ry, sal ons meer volledig verslag lewer.

Triumph het ’n aanduiding gegee van die verwagte pryse en dit is uiters mededingend:

Triumph 1200 GT ProR285 000
Triumph 1200 Rally ProR305 000
Triumph 1200 GT ExplorerR315 000
Triumph 1200 Rally ExplorerR335 000

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Fiets vertoon baie mooi en is omtrent in dieselfde prysklas en met al die bykomende veranderings behoort dit goed te doen teenoor sy mededingers. Sal nuuskurig wag vir die terugvoer verslag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.