TMAX 560: Yamaha se allernuutste superponie

Foto: Brian Cheyne

Superponie is ’n term wat my kollega Réhann Coetzee gebruik as hy motorfietse soos Yamaha se TMAX moet beskryf. Superponie, bromponie, deurstap-motorfiets, noem dit wat jy wil, ek hou van hierdie klas van motorfiets. Toe Yamaha my genader het om te hoor of ek sy blinknuwe TMAX wil kom ry, het ek dadelik ingestem.

Die nuwe Yamaha TMAX 560 het heelwat nuwighede en bygewerkte stilering, maar ek is seker dat min mense vir my sal kan verduidelik hoe die ou TMAX gelyk het. Ek sal maar net volstaan deur te sê dat die nuwe TMAX aggressief gestileer is met nuwe bakpanele en ’n nuwe agterstewe. Die remlig is nou in die vorm van ’n T en ek moet sê, as ’n geheel, lyk die TMAX aantreklik. Verdere veranderinge sluit in ’n groter bagasieruimte onder die sitplek en meer sportiewe vering.

Foto: Brian Cheyne

Die enjin op die TMAX is ’n 562 cc-tweesilinder-eenheid wat 47 pk en 56 Nm wringkrag lewer. Krag word gelewer deur ’n CVT-ratkas en aandrywing na die agterwiel is deur ’n band. Anders as op ander bromponies waar die hele aandrywingstelsel omhul is, is die TMAX toegerus met ’n ontblote band wat die aandrywing aan die agterwiel lewer.

As jy op die TMAX sit, voel hy breed. Dit is soos om ’n perd te sit, jou bene sprei wyd en daar is meer as genoeg plek om jou voete te plant. Of jy nou tradisioneel wil sit of met jou voete vorentoe, die TMAX maak dit moontlik. Die saal is aan die harde kant, maar baie gemaklik en ondersteunend. Die handvatsels voel baie nou. Voor jou is twee analoë wysers vir spoed en toere, afgewerk in Yamaha-blou. Tussen die twee wysers is ’n vloeikristaleenheid wat al die ander inligting bevat soos brandstofvlak en ritafstand. Hoewel ek ’n TFT-skerm verwag het, lyk die twee analoë wysers tog elegant en van pas op die TMAX.

Foto: Brian Cheyne

Hierdie TMAX was die hoogste spesifikasievlak, die Techmax. Dit beteken dat verhitte grepe, ’n verhitte saal en spoedbeheer standaardtoerusting is. Die voorste windskerm is ook elektronies verstelbaar. Die spieëls het vir my aanvanklik vreemd gevoel omdat hulle so ver voor op die fiets gemonteer was, maar hulle het hulle baie goed van hul taak gekwyt. Onder die saal is daar genoeg plek vir een volgrootte valhelm en nog ’n paar los goedjies. Voor is daar ook een klein sluitbare paneelkissie met ’n 12 V-sok.

Die TMAX luier met ’n sagte brom wat glad nie sleg klink nie. Draai jy egter die versneller, verstaan jy hoekom die TMAX so gewild is. Die kraglewering is ongelooflik glad en die fiets versnel regtig sterk. Hoewel die fiets lank is, hanteer hy verstommend goed. Tussen karre deur is die smal handvatsels ’n groot bate. En moenie dink die TMAX kan nie ’n draai vat nie. Dit sal jou verbaas hoeveel vertroue hierdie fiets inboesem. Die remme werk ook uitstekend.

As ’n pakket, dus, bied die TMAX baie motorfiets. As jy steeds nie oortuig is nie, gaan ry gerus een. Vergeet ’n bietjie van jou vooraf opgestelde aannames en gaan beleef hom net. Dink met ’n oop kop aan die praktiese voordele en dalk oortuig die Yamaha TMAX 560 jou ook dat superponies eintlik groot pret is!

Vir volledige spesifikasies en prys, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.