Toyota Gazoo Racing SA mik vir nommer een

Toyota Gazoo Racing Suid-Afrika (Foto: Toyota)

Enigiemand met brandstof in die are het al van Giniel de Villiers gehoor. Hy neem al jare deel aan die wêreldberoemde Dakar-tydren. Hy het dié tydren in 2009 gewen … en hy, saam met Toyota Gazoo Racing SA, mik vir hul eerste wenkans as span. In vanjaar se Dakar-tydren het Toyota Gazoo Racing Suid-Afrika tweede en derde opgeraap. Nasser Al-Attiyah het die tweede plek ingeneem en Geniel de Villiers derde.

Toyota Gazoo Racing Suid-Afrika se spanbaas, Glyn Hall, sê: “Ons het beslis ʼn goeie jaar gehad in 2017 en ons het 2018 op die regte voet afgeskop danksy twee podiumplekke in die Dakar-tydren, maar – as ʼn Suid-Afrikaanse span is dit vir ons baie belangrik om op tuisgrond mee te ding, dus wil ons die twee kampioenskappe onderweg kry.”

In die veldrenkampioenskap sal Toyota Gazoo Racing SA ʼn splinternuwe Hilux gebruik wat amper nes die twee Dakar-tydrenmotors is. Giniel de Villiers en Rob Howie sal hul tuiste in een van die bakkies vind. Die ander bakkie sal deur Henk Lategan en Dennis Murphy behartig word. Toyota Gazoo Racing SA sal verteenwoordig word in die T-klas van die Suid-Afrikaanse veldrenreeks deur Johan en Werner Horn in die Malalane Toyota Hilux. Dié broers het in 2017 met die beker weggeloop en sien daarna uit om hul oorwinning te verdedig.

Toyota sal in die Suid-Afrikaanse Nasionale Tydren-kampioenskap verteenwoordig word deur Guy Botterill en navigator Simon Vacy-Lyle. Dié paar het in 2017 sy derde agtereenvolgende kampioenskap opgeraap en sal in 2018 terug wees om die titel te verdedig in ʼn nuwer, opgeknapte Toyota Etios.

Die hoofrede hoekom ons graag agter Toyota wil staan in terme van sy renspan vanjaar is egter eenvoudig. Dit is ʼn plaaslike span, met plaaslike renjaers en ingenieurs wat op die grootste verhoë in die wêreld meeding en ons land se vlag hoog laat vlieg. Toyota Gazoo Racing SA is ʼn professionele renspan wat duidelik vir niemand hoef terug te staan nie. Hieroor kan ons as Suid-Afrikaners baie trots wees.

Toyota Gazoo Racing Suid-Afrika (Foto: Toyota)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sune van Heerden ·

Dagsê JPN
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is gewysig.
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Chris Ws ·

Het nog video materiaal wat ek gemaak het baie jare gelede van Glyn Hall waar hy sy VW Golf uit toets buite Sabie voor die aanvang van die Sasol Tydren.Dis aangename herinneringe daai!Nou is hy hoof van Toyota Gazoo Racing.Mooi so !Ek hou duim vas Toyota gaan die’ jaar skoonskip maak in beide die Veldren en Tydren kampioenskappe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.