Toyota Hilux – baie naby aan volmaak

(Foto: Verskaf)

.Ons het verlede jaar vlugtig tyd met die opgeknapte Hilux deurgebring en ek het belowe dat ons weer tyd met dié meneer sou bestee. My hande het werklik gejeuk om die sterk enjin op die oop pad op die proef te stel.

Een ding is seker: Die nuwe Hilux Legend met sy visuele tierlantyntjies is regtig sag op die oog. Die aggressiewe nuwe ontwerp pas regtig by die Hilux. Oral waar jy ry kyk mense om en wys in jou rigting. Toe ek wegneemkos by ʼn restaurant gaan haal word ek summier oorval deur ʼn aanhanger wat alles wil weet.

Die binneruim is ʼn bekende tuiste. Nie veel het verander nie, maar onder die voertuig se bakwerk is daar twee enorme toevoegings wat die wêreld se verskil maak aan die produk. Een is Toyota se Safety Sense-veiligheidstelsel. Dit is radars en sensors wat saam met die spoedkontrole werk om te waarsku teen ʼn moontlike botsing. Reageer jy nie na wense hierop nie sal die voertuig self noodremme aanslaan. Die ander is die uiteindelike toevoeging van Android Auto en Apple CarPlay. Die stelsels werk fantasties, én Toyota het dit goed gedink om 9 JBL-luidsprekers in die kajuit te sit. Dis briljant.

(Foto: Verskaf)

Dan kom ons by die juweel van die nuwe Hilux: die opgeknapte 2,8 GD-6 enjin. Toyota het nie hier bloot nuwe instruksies vir die blikbrein gegee nie. Die turbo is aangepas, daar is ʼn nuwe silinderkop, daar is aan die pistons gekarring en die nuwe balanseringstaaf maak die enjin tjoepstil – werklik ʼn deeglike vernuwing. Tydens die verfilming van die eerste episode van ons nuwe reeks, Perdekrag (wat eersdaags beskikbaar sal wees), het ons die Hilux teen die Ranger laat jaag – en kan jy glo, die Hilux is net-net vinniger in ʼn pylvak as die Ranger.

Op die pad is die vering van die Hilux effens aangepas. Hy ry ietwat sagter oor die pad – maar dis die stiller enjin wat die deurslag gee. Dis eers wanneer mens in ʼn uitermatige stil voertuig ry (die nuwe elektriese rygoed) dat ʼn mens besef hoe luuks stilte in ʼn voertuig is. Klankbesoedeling het ʼn reuse-impak op ʼn motoris, meer as wat jy besef. Dis nie per toeval dat ʼn Rolls Royce se kajuit só stil is nie.

Is die Hilux dan nou perfek? Nee – maar sjoe, amper. Die Hilux is effens duurder as die Ranger, wat beter toegerus is met verhitte sitplekke – en hy kan omtrent homself parkeer. As ʼn mens vinnig op ʼn grondpad ry, sonder vrag – is die Ranger ook ʼn beter genoot as die Hilux. Met dit in gedagte dink ek die Hilux kom bitter naby aan perfek, veral vir Hilux-manne.

Ek sal só ʼn Hilux Legend neem, met die rolluik – in wit, asseblief.

Die dubbelkajuit reeks lyk só:

Toyota Hilux 2.7 S122 kW/ 245 Nm10,7 ℓ/ 100 kmR449 200
Toyota Hilux 2.4GD-6 SR110 kW/ 400 Nm7,1 ℓ/ 100 kmR486 400
Toyota Hilux 2.4GD-6 Raider110 kW/ 400 Nm7,1 ℓ/ 100 kmR515 300
Toyota Hilux 2.4GD-6 Raider outo110 kW/ 400 Nm7,3 ℓ/ 100 kmR531 600
Toyota Hilux 2.4GD-6 4×4 SR110 kW/ 400 Nm7,6 ℓ/ 100 kmR560 200
Toyota Hilux 2.4GD-6 Raider 4×4110 kW/ 400 Nm7,6 ℓ/ 100 kmR595 400
Toyota Hilux 2.4GD-6 Raider 4×4 outo110 kW/ 400 Nm7,7 ℓ/ 100 kmR621 700
Toyota Hilux 2.8GD-6 Raider outo150 kW/ 500 Nm7,4 ℓ/ 100 kmR644 500
Toyota Hilux 2.8GD-6 Legend150 kW/ 420 Nm7,4 ℓ/ 100 kmR681 900
Toyota Hilux 2.8GD-6 Legend outo150 kW/ 500 Nm7,4 ℓ/ 100 kmR710 100
Toyota Hilux 2.8GD-6 Raider 4×4 outo150 kW/ 500 Nm8 ℓ/ 100 kmR720 500
Toyota Hilux 2.8GD-6 Legend 4×4150 kW/ 420 Nm7,9 ℓ/ 100 kmR748 200
Toyota Hilux 4.0 V6 Legend 4×4175 kW/ 376 Nm11,8 ℓ/ 100 kmR780 500
Toyota Hilux 2.8GD-6 Legend 4×4 outo150 kW/ 500 Nm8 ℓ/ 100 kmR780 900
Toyota Hilux 2.8GD-6 Legend 4×4 RS150 kW/ 500 Nm7,9 ℓ/ 100 kmR835 400
Toyota Hilux 2.8GD-6 Legend 4×4 outo RS150 kW/ 500 Nm8 ℓ/ 100 kmR868 100

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km waarborg en 9 dienste diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Mazda BT-50 3.2 4×4 SLE outo147 kW/ 470 Nm9,7 ℓ/ 100 km3 jaar/ onbeperkte km waarborg

3 jaar/ onbeperkte km diensplan

R641 100
Mitsubishi Triton 2.4DI-D 4×4 outo133 kW/ 430 Nm8,3 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R644 995
Nissan Navara 2.3D 4×4 LE outo140 kW/ 450 Nm7 ℓ/ 100 km6 jaar/ 150 000 km waarborg

3 jaar/ 90 000 km diensplan

R707 700
Isuzu D-Max 3.0TD 4×4 LX outo130 kW/ 380 Nm7,8 ℓ/ 100 km5 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R713 900
Ford Ranger 2.0BiTurbo 4×4 Thunder outo157 kW/ 500 Nm8.1 ℓ/ 100 km4 jaar/ 120 000 km waarborg

6 jaar/ 90 000 km diensplan

R811 800
Volkswagen Amarok 3.0 V6 TDI Highline 4Motion190 kW/ 580 Nm9,5 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R921 900

Tussen dié mededingers is die Mazda die groot verrassing. Die BT-50 SLE is meer as R200 000 goedkoper as die Hilux. Vir diegene wat baie kilo’s aflê is hul waarborg en diensplan wat nie tot km beperk word nie, fantasties. Die Amarok se prys lyk dalk buitensporig, maar die bougehalte en enjin is onweerlegbaar. Meeste van die bakkies kan 3,5 ton sleep, behalwe die Triton op 3,1 ton en Amarok op 3,3 ton. Die 2.4 Hilux in 4×4 outo spesifikasie kan 3,5 ton sleep, soos die groter bakkies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wielspore ·

Suid Afrikaners is vervaardiger bewus en die kans is goed dat die tradisie aan die kinders en selfs familie oorgedra word. As pa n Hilux in die motorhuis het gaan die seun waarskynlik eendag ook een koop. Toyota kom al jare saam met SA en sy betroubaarheid en geskiedenis is diep gewortel, enige koper kan seker wees dat hy kwaliteit koop indien hy op Toyota besluit. Na my mening het Toyota lank gevat om moderne tegnologie op sy Hilux toe te pas. Met die Legend wat oor al die klokkies en fluitjies beskik gaan hy dieper spore in die SA mark trap. Die Chinese kan gerus die maatband nader trek en die Hilux so bietjie wyer maak, sit die wiele nader aan die hoeke van die bakwerk.
Lekker ry!

koos10 ·

Met ‘n paar ekstras en jy betaal ‘n cool R1 000 000.00 vir ‘n bakkie. Ek is nie so seker dat ek sal nie?

tweeling ·

Hoekom wil jy ‘n bakkie van 150kW koop as jy dit nooit al die krag gaan gebruik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.