Toyota se nuwe sewesitplek-Rumion

Toyota het pas sy plaasvervanger vir die Avanza bekend gestel. Al het ʼn klomp mense gekla oor die Avanza se gehalte en/of sy veiligheid, is daar geen twyfel dat daar ʼn sterk mark vir dié voertuig in Suid-Afrika bestaan nie, aangesien daar elke maand by die 200 eenhede verkoop word.

Toyota is egter in die bevoorregte posisie waar daar danksy hul internasionale ooreenkoms met Suzuki ʼn beter opsie tot hul beskikking is. Dié nuweling noem Toyota die Rumion. Dit is ʼn netjiese B-segment‑MPV of veeldoelvoertuig. Dink in die lyn van ʼn klein bussie.

Daar is sitplek vir sewe, met die eerste twee rye sitplekke wat lekker spasie en steun bied. Die derde ry se twee sitplekke is wel kleiner en meer geskik vir kinders. Indien die derde ry sitplekke toegevou is, het die Rumion ʼn enorme kattebak. Die hele reeks spog met verkoelde bekerhouers vir die voorste passasiers – oulik.

Daar is drie spesifikasievlakke, S, SX en TX. Die S is die intreemodel met swart spieëls en staalwiele. SX is die gebalanseerde opsie met bakkleur elektries verstelbare spieëls, sierwiele, ʼn chroom sierrooster, ekstra kragproppe, ʼn multifunksie-stuurwiel, parkeerhulp en lugreëling vir agterste passasiers.

Die reeksleidende TX-model spog met chroom deurhandvatsels, misligte, klimaatbeheer, sleutellose toegang en ʼn aan-en-afskakel-knoppie en ʼn raakskerminligtingstelsel met Android Auto en Apple CarPlay.

Onder die kap skuil ʼn lieflike 1.5‑viersilinderpetrolenjin. Hy bied 77 kW en 138 Nm. Dít, gepaard met fantastiese versneller en koppelaarkalibrasie, maak seepgladde ratwisseling en wegtrek altyd moontlik, selfs in dorpsverkeer. Daar is twee ratkaste beskikbaar, ʼn 5-spoed‑handrat of ʼn 4-spoed‑outo. Brandstofverbruik op albei ratkaste is 6,2 l/ 100 km. Die outo kan 170 km/h haal en die handrat 175 km/h voluit.

Op die pad is die Rumion ʼn fees. Die vering is lekker soepel en die ritgehalte puik. Die bestuursposisie kan effens regop voel, maar jy is vinnig gemaklik. Daar is sluitweerremme, elektroniese remkragverspreiding en ISOFIX-monteringspunte vir karstoeltjies.

Toyota beoog om meer as 300 Rumions ʼn maand te verkoop. Ek dink dié syfer is moontlik konserwatief. Dit is voorwaar ʼn lekker ryding vir mense wat baie spasie nodig het, maar met ʼn knap begroting.

Die reeks lyk só:

Toyota Rumion 1.5 SR245 600
Toyota Rumion 1.5 SX handratR273 500
Toyota Rumion 1.5 SX outoR289 200
Toyota Rumion 1.5 TX handratR301 600
Toyota Rumion 1.5 TX outoR317 200

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km‑waarborg en 4 jaar/60 000 km‑diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

VaalDonkie ·

Kyk, dis ‘n oulike opsie. Ek weet dis eintlik maar net ‘n Suzuki, maar daar is baie mense (ons ingesluit) wat ‘n 7-sitplek voertuig benodig wat nie meer as R1m kos nie.

koos10 ·

Hoekom nie net die goedkoper Suzuki Ertiga koop nie. Ek ry al vir 2 jaar met die outo, en net een ding is fout. Die plasing van die bekerhouers. Al ‘n paar keer met my gebeur dat jou gewrig teen die rathefboom stamp as jy ‘n blikkie uithaal en dan val die blikkie, met koeldrank die hele motor vol.

SjN ·

Toyota begin ook nou elke jaar hul bestaande modelle ander name gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.