Op 30 September 2018 gaan meer as 12 000 ryers in 650 stede hul krawatte uithaal, dasse regtrek en op hul gunsteling- klassieke fiets klim en saamry.
Die doel is om fondse in te samel en mans bewus te maak van manlike gesondheidsprobleme en geestesgesondheid. Triumph-motorfietse is baie trots op die feit dat hulle nou vir die vyfde agtereenvolgende jaar die Distinguished Gentleman’s Ride (DGR) as hoofborg aanbied.
Die eerste DGR is begin deur Mark Hawwa in Sydney, Australië. Die inspirasie was ’n foto van Don Draper wat in ’n netjiese pak op ’n motorfiets sit. Mark het besluit om iets daarvan te maak om die negatiewe beeld van mans op motorfietse teë te werk.
Die eerste rit in 2012 het 2 500 ryers in 64 stede bymekaar gebring. Die sukses van die geleentheid het Mark laat dink hoe hierdie uitreik vir ’n waardige saak aangewend kon word. Só is DGR gebore. $4,58 miljoen is al deur 94 000 ryers in 92 lande ingesamel en die opbrengs het al verskeie liefdadigheidsorganisasies gehelp.
Vanaf 2014 het Triumph betrokke geraak en as titelborg opgetree. Die Distinguished Gentlemen’s Ride omvat die gees van motorfietsry. Met behulp van Triumph se 700+ handelaars en honderde entoesiastiese eienaars het die DGR gegroei tot die globale verskynsel wat dit vandag is.
Die fondse word aangewend vir navorsing oor prostaatkanker en bystand vir verskeie geestestoestande. Dit ondersteun onder meer selfdoodvoorkomingsprogramme. Hierdie fondse word deur die Movember Foundation aangewend wat die grootste gesondheidsorganisasie is wat op manlike gesondheid fokus. Ná die DRG kan jy sommer jou snor ook begin groei saam met die Movember-manne!
Triumph se betrokkenheid strek verder as net om hoofborg te wees. Hulle loof ook pryse uit vir mense wat die meeste insamel. Dit sluit Triumph-klere en -bagasie in, asook drie Bonneville-motorfietse. Die avonturier Charley Boorman help ook om die boodskap uit te dra.
As jy self wil deelneem aan hierdie jaar se Distinguished Gentleman’s Ride, kan jy hul webtuiste hier besoek en registreer.
As jy nou nie self kan saamry nie, kan jy die gebeure op hul Facebook-blad volg.