Triumph se jongste model eindelik in SA

(Foto: Brian Cheyne)

Seker een van die mees frustrerende tye vir Triumph was dat sy jongste model, die Triumph 400, vir meer as ses weke buite Durban se hawe moes wag. Nie in die hawe, besig om af te laai nie. Nee, buite op die oop see terwyl die vragskip met sy kosbare vrag sy beurt afgewag het in ’n deurmekaar hawe. Maar, alles is nou uitgesorteer, en Triumph Suid-Afrika kon verlede Vrydagaand sy eerste besending 400’s aan ’n paar uitgesoekte gaste wys, onder wie mense wat reeds bestellings geplaas het.

(Foto: Brian Cheyne)

Terwyl die 400’s weggesteek was onder swart lappe, het Bruce Allen, hoof van Triumph Suid-Afrika, eers vir ons die jongste verkoopsyfers gewys en ʼn kort opsomming gegee van waar Triumph homself tans in die mark bevind. Voor 2018 was daar nie eksklusiewe Triumph-vertoonlokale nie. Triumph-motorfietse het die vloer gedeel met ander vervaardigers se fietse. Triumph in Engeland wou egter die handelsmerk meer eksklusief begin bemark, en in Maart 2018 is ’n nuwe verspreider aangewys wat daarop sou fokus om Triumph in sy luukse winkels te verkoop.

(Foto: Brian Cheyne)

Dit was vir seker nie ʼn maklike pad nie, maar dat dit die regte besluit was, is gewis. Triumph se fokus was die marksegment bo 500 cc, want hulle kleinste fiets was, tot nou, die 660 Trident-reeks. Sedert 2016 het hulle markaandeel van 5% na 10% opgeskuif, met net BMW en KTM wat hulle met verkope troef. Weliswaar het 2024 goed afgeskop en hulle is tans tweede met verkope in Gauteng. As jy die syfers vir 2024 nog verder verfyn, was Triumph die topverkoper in Johannesburg ten tye van die bekendstelling.

(Foto: Brian Cheyne)

Dit was egter nie die doel van die aand om te praat oor die verlede nie, maar eerder oor die toekoms. Triumph bied ʼn wye reeks modelle in hulle reeks. Van avontuurfietse tot retro fietse, en alles tussenin. Triumph is ook die eksklusiewe verskaffer van enjins vir die Moto2-reeks van MotoGP. Verkope van die groter kapasiteit motorfietse het Triumph op ’n baie goeie trajek geplaas, maar die groot mark is in die Ooste waar kleiner kapasiteit fietse koning kraai. Net om dinge in perspektief te plaas – Suid-Afrika verkoop in totaal sowat 30 000 motorfietse per jaar. In Indië verkoop hulle 1,5 miljoen fietse per maand! Triumph het dus begin om ʼn 400 cc-model te ontwikkel om Triumph meer toeganklik te maak vir nuwe ryers, en veral die jonger geslag. Die ontwerp moes egter eg Triumph wees met die verrigting en kwaliteit wat daarmee saamgaan.

Triumph het dus sy bestaande Speed-reeks uitgebrei met die Speed 400. Sy Scrambler-reeks kry ook ʼn kleiner boetie by, naamlik die  Scrambler 400 X. Die ontwerpspan kry volpunte want die fiets is onmiskenbaar ’n Triumph. Hoewel dit ’n enkelsilinderenjin het, het dit dieselfde afwerking en klein details soos op die groter Triumph-modelle.

Die fietse is nou al ʼn paar maande beskikbaar in Indië en die aanvraag is fenomenaal. Dit word ook in samewerking met Bajaj in Indië vervaardig. Noudat ek die fiets in lewende lywe gesien het, kan ek getuig dat die kwaliteit op Triumph se standaard is. Die fietse vertoon ook groter as wat ek verwag het. My voorkeur is die Scrambler 400, wat my lang bene met gemak kan akkommodeer. Sodra hierdie fietse se homologasie inspeksie afgehandel is, sal ons ʼn kans kry om hulle te ry en dan sal ek meer volledig kan verslag lewer. Daar is selfs ʼn moontlikheid van ʼn langer rit later in die jaar, maar tyd sal leer.

(Foto: Brian Cheyne)

Gaan kyk gerus na die fietse by Triumph se lokale in Johannesburg en Kaapstad. Die Speed 400 verkoop vir R100 000 en die Scrambler 400 X kos R 110 000.

Vir meer inligting besoek gerus Triumph se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.