Triumph se nuwe Speed Triple 1200 RS

Foto: Verskaf

Triumph-motorfietse roer iets in my. Of jy nou hou van klassieke motorfietse, avontuurfietse of iets om op ’n baan mee te gaan speel, Triumph het iets vir elke smaak en aanwending. Triumph verskaf selfs die enjins vir die hele Moto2-veld, so hy weet hoe om die beste uit sy driesilinderenjins te kry. Nou het Triumph die nuwe Speed Triple RS bekendgestel.

Die Speed Triple is nie net die vorige fiets met nuwe verfwerk nie. Nee, die fiets is, volgens Triumph, heeltemal van voor af ontwerp en ontwikkel. Hy het natuurlik nie ver afgewyk van die Speed Triple-wenresep nie. Die fiets bly onmiskenbaar ’n Speed Triple.

Foto: Verskaf

Triumph het by die enjin begin en dié is van 1 050 cc tot 1 160 cc vergroot. Dit beteken dat die kraglewering met 30 pk tot 180 pk verhoog en die wringkrag met 8 Nm tot 125 Nm styg. Danksy ligter materiale reageer die enjin ook vinniger op insette van die versneller. Triumph skryf in sy mediaverklaring van die wonderlike nuwe klank, maar daarvoor sal ons geduldig moet wag tot laat April wanneer die eerste Speed Triples hier in Suid-Afrika aankom.

Verdere verbeteringe sluit ’n smaller en ligter raam in. Die fiets is 10 kg ligter as die vorige model.

Foto: Verskaf

Vir die enjin en raam om optimale verrigting te lewer, het Triumph nie geskroom om net die beste komponente vir die vering en remme te gebruik nie. Die vering word verskaf deur Öhlins en die remme is Brembo se nuutste Stylema-eenhede.

Op die elektroniese front is daar ’n nuwe 5″-TFT-skerm en vyf ryprogramme. Daar is een wat spesifiek gemaak is vir baanry, en tesame met die snelskakeling behoort hierdie fiets ’n behoorlike baanfiets uit te maak. Daar is selfs ’n ingeboude stophorlosie.

Die fiets is toegerus met LED-ligte en spoedbeheer wat baie handig is by enige fiets. Ek kan nie wag om die nuwe Speed Triple te ry nie. Sodra ek een in die hande kry, sal ek kan bepaal of die fiets so goed is as wat die mediaverklaring ons wil laat glo.

Volgens Triumph is die verwagte verkoopprys R259 000.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jack ·

In die vroeë1950s was Triumph die tegnies mees gevorderdste fiets te kry in die Unie van SA. Sy mededingers was die syklep Harley Davidsons en dan die Britse Ariels, Nortons, BSAs, en Matchless. BMW was aanvanklik maar baie skaars en hulle top fiets was ‘n 500cc model. Die Japanese was nog nie eers op die horison nie. As ek reg onthou was die Triumph 650 twin die vinnigste fiets in die vroeë 1950s. Bly om te sien die britse fietse maak ‘n comeback.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.