Triumph se nuweling gemik op nuwe ryers

(Foto: Brian Cheyne)

“Jy kry net een kans om ’n eerste indruk te maak,” het my pa altyd gesê. Met motorfietse is dit baie dieselfde. Met enige nuwe motorfiets wat ek ry, span ek ’n paar sintuie in om ’n mening te vorm nog voor die wiele gerol het.

Ek bewonder die fiets eers uit alle hoeke. Nadat ek alles bekyk het, voel ek hoe hy sit, en dan druk ek die aansitter. En dit is net hier waar party fietse eenvoudig plat val soos my malvapoeding toe ek die oond te gou oopgemaak het. Partykeer pas die klank nie by die voel en sien nie. Gelukkig vir Triumph se nuwe Trident het al my sintuie saamgestem dat Triumph ’n wenner hier beethet.

(Foto: Brian Cheyne)

Triumph is in die besondere posisie dat hy ’n lang en kleurryke erfenis het om op terug te val as hy ’n nuwe fiets ’n naam moet gee. Die oorspronklike Trident is in 1968 onwikkel in samewerking met BSA. Net soos ons deesdae Suzuki-motors met ’n Toyota-embleem het, was die BSA en die Triumph dieselfde motorfiets, maar BSA het sy weergawe die Rocket 3 genoem. Die BSA-groep het later heeltemal tot niet gegaan en Triumph het sy bedrywighede voortgesit in Hinckley, Engeland, waar hy jare later ’n splinternuwe Trident kon ontwikkel.

Die Trident is ontwikkel as ’n intreevlak-motorfiets om nuwe ryers na Triumph te lok. My eerste kennismaking met die fiets was toe ons saam met Bruce Allen van Triumph, Suid-Afrika, ’n kort draai deur Johannesburg se middestad gaan ry het.

Trouens, dit is tog waarvoor hierdie fiets gemaak is: kort pendelritte, werk toe en terug. Die Trident is baie kompak en Bruce het vier modelle beskikbaar gehad, elkeen met sy eie unieke kombinasie van bybehore. Die saal is net so ’n aks oor 80 cm hoog, so die Trident behoort toeganklik te wees vir ’n wyer reeks ryers. Die ryposisie is egter nie beknop nie. Die handvatsels is breed en die voetrusse effens na agter.

(Foto: Brian Cheyne)

Hoewel die Trident Triumph se intreefiets is, het die groep nie die afwerking afgeskeep nie. Dít is uitstekend en omdat dit ’n kaalfiets is, is alles ontbloot. Die Trident het regtig mooi lyne, en hoewel ek persoonlik nie veel hou van die modderskerm oor die agterwiel nie, laat dit tog die stert skoon en elegant lyk.

Die enjin is ’n 660 cc-eenheid, en die klank is natuurlik iets unieks aan ’n driesilinder. Die Trident se mededingers het tweesilinderenjins, wat jou amper noodsaak om ’n ander uitlaatpyp op te sit. Die Trident kan maar, wat my betref, onveranderd bly.

Van Triumph se vertoonlokaal is ons op die M1 na die middestad. Die ratverhoudings is baie kort en die Trident het genoeg woema gehad dat ons ’n redelike pas kon handhaaf. Natuurlik, hoe hoër die toere, hoe mooier die klank uit die enjin. In die stad was die Trident in sy element. Die kleinste gapings verg net ’n draai van die regterhand. Tog was die fiets nie ’n handvol nie. Die krag is nie van sodanige aard dat dit jou sal skrikmaak nie, maar tog is dit meer as genoeg as jy aggressief wil ry.

Hoewel Triumph die verwagting gekoester het om beginners en veral vroueryers met die Trident te lok, was die mense wat hy ingetrek het uiteenlopend van aard. Dit het gewissel van beginners tot mense wat 20 jaar laas motorfiets gery het en nou weer wil begin, en selfs diegene wat besef hulle superfietsdae is verby en net iets meer besadig wou ry. Dit beloof om ’n baie goeie model vir Triumph te wees, en teen net R150 000 is die prys ook in die kol.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.