Triumph se Tiger Sport 660 ’n middelgewigtoerfiets

(Foto: Brian Cheyne)

Triumph het na my mening ’n wenresep beet met hul 660-reeks. Boonop kry hulle dit reg om die pryse ook redelik in toom te hou.

Triumph het onlangs die Trident 660 bekendgestel. Dit is hul kleinste en goedkoopste fiets. Ek was op ’n kort bekendstellingsrit met die fiets en het hom terdeë geniet. As jy eers verstaan hoe maklik ʼn mens met ’n motorfiets kan pendel, dan maak hierdie fiets baie sin. Nou het Triumph ’n meer toergerigte weergawe van die Trident uitgebring: die Tiger Sport 660. Vir die ryers wat van spoed en presisiehantering hou, is daar steeds fietse soos die Speed Triple 1200 RR, maar die kleiner fietse maak net meer sin vir alledaagse gebruik.

(Foto: Brian Cheyne)

Die Tiger Sport het dieselfde 660 cc‑driesilinderenjin as die Trident en deel ook die meeste van die meganiese onderdele. Die Tiger het egter ’n meer regop en ontspanne sitposisie. Die hele fiets is hoër met die vering wat 150 mm-reikafstand bied. Die saal is ook 30 mm hoër as op die Trident. Alhoewel Triumph besluit het om hom die Tiger‑naam te gee, is dit duidelik dat hierdie fiets nie bedoel is om rowwe grondpaaie aan te vat nie. Die fiets het 17”‑allooivellings voor en agter en is eerder bedoel om ’n baie gemaklike toerfiets te wees. Selfs die stilering neig meer na sportfiets as dubbeldoelfiets.

Die Tiger Sport is ’n ongelooflike mooi fiets. Dit is altyd vir my lekker om so ʼn fiets af te neem, want dit maak my werk maklik. Die skerp voorlig en hoekige lyne van die Tiger gee aan hom ’n aggressiewe voorkoms. Die skerm is ontwerp om goeie windbeskerming te bied en is verstelbaar met ’n uiters eenvoudige meganisme. Die brandstoftenk is ook vergroot tot 17 liter teenoor die Trident se 14. Dit behoort jou ’n gemaklike reikafstand van 350 km te bied.

Die sitposisie is uiters gemaklik en ontspanne. Die handvatsels self is breed en dra by tot die gemaklike ryposisie. Die instrumentpaneel is eenvoudig in twee helftes uitgelê. Die boonste helfte bevat die toereteller en spoedmeter. Die onderste helfte het ’n vierkantige paneel wat ander inligting bevat soos ritmeters en brandstofverbruik. Alles word beheer van kontroles op die linkerhandvatsel. Om egter iets vinnig op te spoor, is nie so maklik nie, want daar is agt verskillende sub-skerms. Jy kan self kies watter skerms jy wil sien, maar ek sou verkies om my eie, persoonlike voorkeure te kon opstel.

Die enjin is seker die hoogtepunt van die 660-modelle. Die driesilinderenjin maak die mooiste klank en die kraglewering is wonderlik glad. Die toetsmodel het nie snelskakeling gehad nie, maar ek het dit glad nie gemis nie. Alles gebeur so moeiteloos. Op die snelweg moes ek kort-kort my spoed afwaarts aanpas. Die Tiger is só gemaklik dat jy heelwat vinniger as die spoedgrens ry sonder dat die fiets enigsins klink asof hy swaarkry. Omdat die Tiger bemark word as ’n toerfiets, mis ek verhitte grepe en spoedbeheer, maar dit is net my persoonlike voorkeur.

Vir sowat R25 000 kan die Tiger Sport 660 met ’n volledige stel sluitbare tasse toegerus word. Die Tiger het reeds die monteringspunte vir die kanttasse. Hierdie monteringspunte is onsigbaar as jy die tasse afhaal – dit vertoon net soveel beter. Met die tasse lyk die Tiger reg vir die lang pad. Nou moet Triumph net nog ’n stappie verder gaan en speekwiele en ’n groter voorwiel opsit, dan sal jy die ideale dubbeldoelfiets hê!

Die feite:

Enjin660 cc‑driesilinder
Gewig (Nat)206 kg
Kraglewering59,6 kW/80 pk@10 250 r.p.m.
Wringkrag64 Nm@6 250 r.p.m.
Tenkkapasiteit17,3 ℓ
Saalhoogte835 mm
PrysR169 000

Klik hier vir die produkblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.