Triumph Speed Triple 1200 RS – Britse ystervuis

(Foto: Brian Cheyne)

Elke keer as ek op ’n nuwe motorfiets klim, is daar by my ’n sekere verwagting van hoe ʼn mens die fiets moet ry. Dit is asof verskeie skakelaars binne-in jou aan en af sit en jou geestelik voorberei voor jy die aansitter druk.

Op ’n superfiets is jou hele lyf vooroor, jou bene terug, en jy kan nie anders as om hom hard te wil ry nie. Op ’n toerfiets sit jy gemaklik agteroor en jou hele gemoed verander om stadiger te ry. En dan, êrens tussen die twee sit ’n kategorie fietse wat ek baie geniet: kaalfietse. Yslike enjins met baie krag en die minimum aanhangsels om hulle so lig as moontlik te maak. So ʼn fiets is Triumph se nuwe Speed Triple 1200 RS. Met hom kan jy besluit of jy hard ry of rustig wil ry, want hy is ewe gemaklik in albei rolle.

(Foto: Brian Cheyne)

Die Triumph Speed Triple is in die laat 90’s gebore en het oor die jare geringe verbeteringe ondergaan. Tot onlangs moes die 1050 Speed die vaandel dra vir Triumph en hoewel daardie fiets my baie beïndruk het, het hy begin afsteek teen sy teenstanders. Veral as dit by kraglewering kom. Triumph het toe ’n skoon vel papier nadergetrek en begin werk aan sy opvolger. Hoewel hy visueel nie veel verskil van sy voorganger nie, het die fiets ’n totaal nuwe ontwerp.

Die enjin is egter waar die nuwe RS die meeste aandag gekry het. Die nuwe 1160 cc enjin lewer nou 180 perdekrag, ’n toename van 30 perdekrag. Daarmee saam het die Speed Triple 10 kg gewig afgeskud. Die vering word verskaf deur Öhlins en is ten volle verstelbaar. Die fiets is ook toegerus met die nuutste Brembo Stylema-remme. Waar die vorige model se uitlaatpype onder die saal uitgekom het, beskik die nuwe een oor ’n meer tradisionele pyp.

Seker een van my gunstelingontwerpelemente is die spieëls wat op die punte van die handvatsels gemonteer is. Die laat die fiets baie kleiner en meer kompak vertoon en boonop werk hulle uitstekend. Die hoofligte sit nog steeds op ’n steeltjie en van die kant af lyk dit koddig. Die ontwerp van die ligte self is egter nou heelwat meer vloeiend en het ingeboude dagryliggies. Die toetsfiets was afgewerk in ’n dofgrys verf met helder geel aksente, en is ook beskikbaar in swart.

Die klank van daardie driesilinderenjin is onmiskenbaar. Hoewel die nuwe uitlaatpyp heelwat meer demping lewer, het hy ʼn diep grom as jou regter gewrig oorywerig raak. Die fiets beskik oor vyf ryprogramme en afhangend van hoe braaf jy is, is daar selfs ’n program vir baanry waar meeste van die hulpmiddels afgeskakel word. Die elektroniese versneller beteken dat die kraglewering onmiddellik is, en as jy nie jou fokus op die pad hou nie, gaan jy jouself diep in die moeilikheid in ry.

(Foto: Brian Cheyne)

Die Triumph is ’n lewendige kalant. Onder harde versnelling kan jy voel hoe die voorwiel sukkel om op die grond te bly. Net so onder harde remming kan jy voel hoe die fiets wikkel en beweeg, maar jy voel nooit uit beheer nie. Die elektronika het al baie ver gevorder en ʼn mens begin staatmaak daarop. Dit laat jou toe om baie meer avontuurlustig te wees as wat jy normaalweg sou wees.

Die Triumph Speed Triple is ’n fiets waarmee jy elke dag sal kan saamleef, maar jy weet jy kan naweke met hom om ’n baan gaan jaag. Dis net daardie tipe fiets. Gaan loer gerus in by Triumph se vertoonlokaal en gaan toetsbestuur hom. Dan sal jy beter verstaan.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Boerkind ·

Oulike fiets en omtrent 70 – 100K goedkoper as van sy mededingers veral uit Italië… Daardie drie silinder klank was nog altyd uitstekend!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.