Triumph Speed Twin – Modern met klassieke styl

Triumph se 2019 Speed Twin. (Foto: Brian Cheyne)

Die naam Speed Twin het in 1938 vir die eerste keer op ’n motorfiets verskyn. Enkelsilinder motorfietse was die norm van die tyd, en hoe groter die enjins geword het, hoe meer het die enjins vibreer.

Triumph se destydse enjinontwerper, Edward Turner, het die probleem oorkom deur twee kleiner kapasiteit enjins langs mekaar te monteer. Die 500 cc tweesilinderenjin het nie net gladder geloop nie, maar het ook heelwat spoed aan die 1938 Triumph Speed Twin 5T verleen. Om die koste van vervaardiging laag te hou, het die Speed Twin heelwat onderdele van die bestaande reeks Bonnevilles gebruik.

Vandag se Speed Twin volg dieselfde roete, deurdat heelwat van die onderdele wat gebruik word vir die Speed Twin ook op ander modelle gebruik word.

Tog het Triumph ’n unieke karakter in die 2019 Speed Twin ingeweef. Die Speed Twin sit, prysgewys, tussen die T120 en Triumph se verrigtingsmodel, die Thruxton R. Gelukkig is hy meer Thruxton as T120.

Triumph se 2019 Speed Twin. (Foto: Brian Cheyne)

Die voorlig is rond en sit onder klassieke analoog instrumentasie. Twee rubberomhulsels bedek die voorste skokbrekers, net soos die fietse van ouds. Waar die Thruxton Öhlins- vering het, het die Speed Twin meer tradisionele KYB-vurke voor.

Die brandstoftenk volg die klassieke Bonneville-lyne, en het ’n pragtige Monza-styl dekseltjie. Die tenk is aan die klein kant, so jy moet jouself gereed maak om gereeld vol te maak. Onder die tenk sit die 1200 cc HP- motor van die Thruxton. Tot hier kon ek feitlik enige Bonneville beskryf het, maar van die tenk af agter toe breek die Speed Twin met die norm. Net soos die eerste Speed Twin.

Die saal is breed en plat met wit stiksels en sit bo-op ’n kort aluminium modderskerm. Die agterlig en flikkers is baie klein en nogal modern vir so ʼn klassieke fiets. Die stert is ook gelig en dit gee die motorfiets ’n aggresiewe vooroor houding. Die gaping tussen die agterwiel en modderskerm is betreklik groot en uit sekere hoeke kan die Speed Twin onaantreklik lyk.

Die ergonomie is ook anders as op die Thruxton. Die voetrusse is 38 mm vorentoe en 4 mm laer as dié op die Thruxton, dus sit jy meer ontspanne. Die saal is gemaklik, maar korter ryers mag dit dalk ’n tikkie breed ervaar.  Twee tradisionele skokbrekers en twee kort uitlaatpype rond die prentjie af.

Triumph se 2019 Speed Twin. (Foto: Brian Cheyne)

’n Klein irritasie is die systaander wat feitlik onmoontlik is om raak te trap tussen die voetrus en rathefboom. Dit het elke keer meer as een probeerslag geverg.

As die 1200 cc- enjin luier, besef jy weer eens hoe sag en vry van vibrasie hy is. Die fiets is toegerus met ’n elektroniese versneller en dit beteken dat Triumph drie ry-programme kon inwerk, naamlik Reën, Pad en Sport. Die Sport-program het die versneller soms rukkerig laat voel, maar ek is seker hierdie program is bedoel vir die tye wat die krane groot oop is.

Ek kon my verkyk aan die kleinste detail op die Speed Twin. Daar is bitter min pype en kabels sigbaar in die ontwerp. Die handvatsels is mooi breed en die spieëls is op die eindpunte monteer. Dit bly vir my die mees elegante plek vir spieëls om te sit.

Die koppelaar is lig en ratskakelings gebeur seepglad. Jy moet jouself egter geestelik voorberei vir die 112 Nm wringkrag van die HP-enjin. Die versnelling is ongelooflik en ek kon nie my glimlag in toom hou nie. Die enjin loop gou in sy rooilyn in, maar dan is daar nog vyf ander ratte om die aksie te herhaal.

Triumph se 2019 Speed Twin. (Foto: Brian Cheyne)

Die Speed Twin is toegerus met Pirelli Diablo Rosso- bande, dus het Triumph goed voorsiening gemaak vir die verrigtings aspek van die fiets ook. Die fiets boesem baie vertroue in en met die wringkrag het ek myself menigmaal gevang dat ek te vinnig op ’n draai afpyl. Gelukkig het die fiets ongelooflike remme. Die voorste remme beskik oor Brembo-knypers en die byt is onmiddellik. As jy genoeg spoed verminder het, kan jy maar jou lyn kies in die draai. Die Speed Twin sal hom gewillig volg. As jy die uitgang van die draai sien, kan jy die versneller begin draai, ongeag die rat waarin jy jouself bevind. Daar is genoeg wringkrag om die fiets vorentoe te vat.

Dit is altyd vir my moeilik om objektief na enige Bonneville te kyk. Ek geniet hulle só. As Triumph dit makliker maak om die systaander raak te trap, en die fiets se Sport-program verfyn, dan sal daar niks verder wees om oor te kla nie.

Die Speed Twin se kombinasie van klassieke lyne en moderne tegnologie is moeilik om te kritiseer. Met die meer moderne agterkant wil ek nou, meer as ooit, ’n Bonneville besit!

Kliek hier vir die produkblad.

Die feite

Enjin1200 cc parallel-twee
Gewig ( droog )196 kg
Kraglewering72 kW  @ 6 750 rpm
Wringkrag112 Nm @ 4 950 rpm
Tenk kapasiteit14,5 ℓ
Saalhoogte807 mm
PrysVanaf R179 000

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

sweis ·

Is daar nog n mark vir hierdie tipe motorfietse met die tegnologie wat bmw na die tafel bring in veral veiligheid dink ek die mark sal wees vir n ouer kliënt, ek mag verkeerd wees.

SjN ·

Volgens my kry jy beter fietse in daai prysklas, smaak verskil, miskien word ek verkeerd bewys.

jwc ·

Die nuwe neiging is na die sogenaamde “kaalfietse” en weg van superfietse. BMW maak bv. die R9T (1200cc) , KTM die Superduke 1290 (1301cc) en Yamaha die MT 09 en MT 10 ensovoorts.

Die rukkerige ry in die Sport modus is maar die gemors waarin Merkel (Brussels, Duitsland) se belaglike Euro brandstofbesparings / koolstofbeperkings ALLE moderne brandstofinspuiting motorfietse het… Omdat motorvoertuie groot en swaar vliegwiele het, is die effek baie minder opmerklik, maar die arme motorfietsenjin bars maar!!

Gaan ry maar een van die “kaalfietse” – hulle is brijant gebou, het basies dieselfde krag en hantering as superfietse met beter rygerief – en ja ek hou van die wind in my gesig!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.