Triumph Street Twin – Bekostigbare Bonneville

Triumph Street Twin (Foto: Brian Cheyne)

Triumph Street Twin (Foto: Brian Cheyne)

Vergeet ons nie soms die essensie van motorfietsry nie? Iewers het ons die karakter verloor. Ek onthou, jare terug, my vriend Dawie het altyd van sy ‘pyp’ gepraat: ʼn pyp met ʼn enjin aan. Twee wiele en ʼn oor wat jy draai om vorentoe te gaan.

Die hele uitgangspunt van die Triumph Street Twin was juis dit, ʼn pyp met ʼn enjin aan. Nogal ʼn stewige enjin daarby. Die hele ontwerp van die Street Twin is gemik om minimum bakpanele te hê. Selfs die toereteller het in die slag gebly en voor jou is net ʼn spoedmeter. Die fiets herinner baie aan fietse uit die laat 70’s.

Wat my dadelik opgeval het, was die grootte, of eerder die gebrek daaraan. Die Street Twin is laag. Dit het baie gehelp om my vrou te oortuig om ook ʼn ent te gaan ry. Haar reaksie was duidelik positief. Sy het die woord ‘onintimiderend’ gebruik. Sy is nie baie lank nie, maar die Triumph het mooi gepas.

Triumph Street Twin (Foto: Brian Cheyne)

Triumph Street Twin (Foto: Brian Cheyne)

Vir my het die fiets net so beïndruk. Daar is oorgenoeg krag, maar tog voel jy onmiddellik tuis. Amper kalm. Toegerus met traksiebeheer en ABS, stel die Triumph jou gerus dat hy sal help as jy jouself in ʼn verknorsing in ry. Die Triumph is waterverkoel, maar die verkoelingsvinne op die enjin is nie net kosmeties nie.  Dit komplimenteer die waterverkoeling. Met die eerste oogopslag kyk jy amper die verkoeler mis. Dit, saam met die dof-swart enjin wys dit duidelik sy Bonneville geslagslyn.

Die kragbron is ʼn 900cc twee-suier eenheid en pryk met die HT benaming. Dit staan vir High Torque wat beteken die enjin se karakter is gefokus op wringkrag. Gekoppel aan twee Vance & Hines-pype, brul hy onmiskenbaar soos ʼn Triumph moet. Iets waaraan ek nog moet gewoond raak is die elektroniese versneller. Dit werk fantasties, maar ek mis die meganiese gevoel van ʼn kabel wat êrens ʼn vergasser ooptrek.

Triumph Street Twin (Foto: Brian Cheyne)

Triumph Street Twin (Foto: Brian Cheyne)

Ek kon ook nie verby my arms sien met die twee klein kantspieëls nie, en ek dink hier is waar die Street Twin eienaar homself sal kan uitleef. Die Street Twin verskaf die perfekte platform om hom uniek joune te maak, en Triumph het ʼn reeks bybehore om jou daarmee te help.  Toe ek van hom gaan foto’s neem het, het ek na ontbyt sommer net aanhou ry. Regs gedraai in ʼn rigting wat ek nog nooit was nie. En dit bring my weer terug na my punt: dít is, vir my, die essensie van motorfietsry. Die bestemming maak nie saak nie. Net jy en jou ‘pyp’. Die aksie van beweeg, beweeg jou siel, en die Street Twin het dit aan my siel gedoen.

Beskikbaar vanaf R129 500-00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Biker ·

Amper R130 k vir hom? Nee wat, koop eerder n 2de handse “Busa”

Johan 2 ·

Hahahaha R40k, jou randjies is minder werd as wat jy dink meneer…jy kan skaars n scooter koop met R40k.

Basson ·

Lekker fiets vir puris teen relatief goeie prys !

(Meeste sal nie die ‘essensie’ van die Triumph verstaan….)

Speedguard ·

My pel At Els(RIV) het altyd gese ——— nou gaan ek bietjie sy snor trek!!

Johan 2 ·

Anderdag die 800 Tiger gery en wat lekker fiets! Alles wat hy benodig plus n klomp karakter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.