Triumph Thruxton R: Moderne tegnologie in ʼn klassieke jas

Triumph Thruxton 1200 R Foto: Brian Cheyne

Triumph Thruxton 1200 R Foto: Brian Cheyne

Daar bestaan uiteenlopende teorieë oor waar die term ‘café racer’ vandaan kom. Wat wel seker is, is die era. Laat 60’s, vroeg 70’s, het ouens bestaande fietse gevat en van alle oortollige gewig ontslae geraak. Die doel was spoed en hantering eerder as gemak.

Hoe dit ook al sy, hierdie styl motorfiets is besig om weer gewild te raak. Die gonswoord is ‘retro’. Triumph het heelparty retro fietse, maar die fokus van hierdie artikel is die Thruxton R.

Toe ek die fiets by Triumph gaan haal het, was hy reeds as 2016 se motorfiets van die jaar gekroon, so ek het met hoë verwagtinge die fiets benader. Die Thruxton R lyk of hy uit die 70’s hier geland het, maar moenie jou laat flous nie. Onder al daardie elegante retro lyne skuil ʼn baie moderne motorfiets.

Toegerus met die twee-silinder, 1200cc Bonneville-enjin, lewer die Thruxton R net duskant 100pk. Alles word mooi in toom gehou deur ʼn elektroniese versneller. Daar is geen kabels wat vergasserkeëls ooptrek nie. Selfs die vergassers is net leë doppe waaragter die brandstofinspuiting skuil.

Triumph Thruxton 1200 R Foto: Brian Cheyne

Triumph Thruxton 1200 R Foto: Brian Cheyne

Dit is die wonder van die Thruxton: daar is geweldig baie tyd en aandag spandeer om die Thruxton se tegnologie toe te draai in ʼn klassieke jas. As jy op die fiets gaan sit, sit jy op ʼn enkelsaal met rooi stiksels. Hier is nie plek vir jou passasier nie – alles deel van die café racer-tema.

Die brandstoftenk is lank en nou. Selfs die tenk se doppie het onder die detailkwas deurgeloop. Die ryposisie is effe vooroor en dit gee jou ʼn mooi uitsig oor die blink afgewerkte stuurstang. Die instrumentepaneel is ʼn chroomeenheid en bevat ʼn toereteller en spoedmeter. Al twee eenhede het ook ʼn klein vloeikristaleenheid wat ander belangrike inligting bevat.

Vandat jy die aansitknoppie druk, het jy so grynslag glimlag op. Dit is beslis ʼn fiets wat aandag trek. Die klank uit die twee Vance & Hines-uitlaatpype is heerlik dramaties. As jy op spoed is en die krane toedraai, roggel hulle asof hulle wil asem skep vir die volgende skof. Met al die elektroniese hulpmiddels en kragtige Brembo-knypers voel jy heeltyd in beheer van die Thruxton.

Triumph Thruxton 1200 R Foto: Brian Cheyne

Triumph Thruxton 1200 R Foto: Brian Cheyne

Sal ek self so fiets aanskaf? As dit my tweede fiets is, beslis! Dit is nie ʼn langafstand kilometer-vreter nie. Daarvoor sit jy te ver vooroor en ek dink bagasie sal net heeltemal uit plek uit lyk. Maar, as ek op ʼn Saterdagoggend besluit ek wil iewers gaan ontbyt eet, dan sal ek die Thruxton onder sy seiltjie uithaal. Ek sal ook die langer pad na my bestemming kies. Die een met die baie draaie. Sou die R-weergawe met sy geel-en-goud-aksente nie heeltemal jou koppie tee wees nie, is daar ook ʼn meer besadigde weergawe wat ʼn paar van die tierlantyntjies verloor en ook sommer ʼn hele paar rand.

Ek kan begin sien hoekom die Thruxton R aangewys is as die motorfiets van die jaar: dit is ʼn moderne en bekwame motorfiets in ʼn tydlose omhulsel.

Pryse:
Thruxton 1200: R154 500
Thruxton 1200 R: R174 500

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

anton ·

Nee vir daardie geld koop ek n baie mooi gebruikte BMW 1200 wat my baie meer plesier gaan verskaf en ook n beter masjien gaan hê. (Boxer)
Asook n beter herverkoop waarde.

Mike ·

Wat n bike,lyk heel stabiel en baie hanteerbaar,afwerking outyds soos dit hoort,Triumph en Harley ouer garde ,maar nog steeds mooi,

Edmund ·

Dit is ‘n baie mooi fiets. Maar ek stem 100% saam met Anton. En dit is presies wat ek gedoen het. (winskoop gesoek tot ek een gekry het – 2009 BMW R1200GS R89,000 met minder as 12,500km)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.