Triumph Tiger 900 sal jou op enige avontuur kan neem

(Foto: Brian Cheyne)

Ewan McGregor en Charley Boorman se reis om die wêreld in Long Way Round het baie mense geïnspireer om self ’n avontuurfiets aan te skaf. So het hulle van avonture gedroom en hulle voorgeneem om soortgelyke reis te onderneem. Maar McGregor het sy inspirasie te danke aan Ted Simon.

Simon het van 1973 tot 1977 om die wêreld gereis, en dit op ’n 500 cc Triumph Tiger 100. Simon se boek Jupiter’s Travels is nog steeds in druk en bly relevant meer as 40 jaar nadat dit die eerste keer verskyn het. In sy inleiding praat Simon hoe hy sonder brandstof gaan staan het in Indië en hoe hy hier op die naam Jupiter gekom het. Vir my is dít ware avontuur, as dinge nie volgens plan verloop nie.

(Foto: Brian Cheyne)

Die hele avontuurfietsmark het in 1980 ontstaan toe BMW die R 80 G/S aan die wêreld gewys het. Triumph het probeer om ’n teenvoeter vir die G/S te maak deur hoër modderskerms op die Tiger-modelle te sit en hom die Tiger Trial gedoop. Triumph het egter besef dat dit meer as ’n padfiets met hoër modderskerms gaan vat om in hierdie segment mee te ding. Hulle eerste ernstige mededinger was die Tiger 955i. Met brandstofinspuiting en Triumph se bewese driesilinderenjin het Triumph nou die regte wapen in hulle arsenaal gehad.

Die Tiger 955i en die Tiger 900. (Foto: Brian Cheyne)

Met die bekendstelling van die Tiger 800 in 2010 het Triumph, na my mening, die ideale avontuurfiets ontwikkel. Ek het in my toets van die Tiger 800 gesê dat dit seker die enigste avontuurfiets is wat jy ooit sal nodig hê, en nou het Triumph die mark behoorlik aan die gons met die nuwe Tiger 900.

Tydens hierdie fiets se bekendstelling het ons die besonderse voorreg gehad om die vorige model ook te ry. Ek moet erken dat as jy nog die ou model ry, jy nie vreeslik hoef te bekommer nie. Die nuwe is beter, maar die 800 is steeds ’n ongelooflike fiets. Triumph het nie net die 800 gevat en hier en daar veranderinge aangebring nie. Die Tiger 900 is van nuuts af ontwerp, maar baie van die 800 se karakter het behoue gebly.

(Foto: Brian Cheyne)

Die enjin is vergroot na 888 cc, maar is fisiek smaller en ligter as die model wat hy vervang. Die enjin se oliebak is ook vlakker en Triumph het die verkoeler nou in twee verdeel sodat die enjin verder vorentoe en laer in die raam sit. Dit verlaag die fiets se swaartepunt sonder om grondvryhoogte in te boet. Dit maak die fiets meer hanteerbaar op laer snelhede en meer stabiel op hoë spoed. In die Rally Pro sit die enjin in ’n pragtige wit raam. Ek dink net dat dit ’n pyn gaan wees om daardie raam skoon te hou.

(Foto: Willem Ebersohn)

Visueel trek die 900 sterk op sy voorganger, maar die hoofligte is nou heelwat kleiner wat hom dadelik onderskei van die 800. Die windskermpie is ook kleiner maar is meer effektief. Dit is ook verstelbaar met ’n baie eenvoudige meganisme. Op die fiets word jy begroet deur die tradisionele Triumph-skakelaars en ’n yslike nuwe TFT-skerm. Die handvatsels is breed en ek het gevoel asof hulle nog so 10 cm nader aan my moes wees. Die saal is iets besonders. Dis net plat en op die Rally Pro is hy verhit vir daardie koue oggende.

(Foto: Brian Cheyne)

Die TFT-skerm word beheer deur ’n stokkie op die linkerhandvatsel. Die stokkie sit ongelukkig baie naby aan die flikkerskakelaar wat beteken het dat ek kort-kort moes afkyk om te sien waar om te vat. Dit is egter iets waaraan ’n nuwe Tiger ryer gou sal gewoond raak. Die stelsel is logies en intuïtief en ek het dit gou onder die knie gehad. Die skerm kan ook koppel met jou foon vir navigasiedoeleindes. Wat hy ook het, is koppeling met jou GoPro. Nou dít is iets wat baie nuttig is sodat jy presies weet of jy besig is om op te neem of nie. Die fiets het ook spoedbeheer en verhitte grepe.

(Foto: Willem Ebersohn)

Op papier vertoon die Tiger baie goed, maar in realiteit nog beter. Die fiets is behoorlik toegegooi met al wat ’n elektroniese hulpmiddel is. Die ding is dat ʼn mens nie besef hoe goed alles werk nie, tot jy dit afskakel. Vir een van die foto’s wou ek bietjie stof maak en toe skakel ek al die hulpmiddels af. Die agterwiel het begin tol met die geringste insette en wou by die fiets verby kom. Dit het al my beperkte talent gekos om die fiets regop te hou, maar tog het ek dit terdeë geniet.

Terug op die teer is die Tiger net so tuis. Snelskakeling op die ratkas maak die hele ryervaring ’n fees. Die gemak waarmee hierdie fiets sy ding doen is iets waaroor ek lank kan gesels. Ek gaan egter volstaan en sê dat die nuwe Tiger 900 meer as genoeg fiets vir Jan Alleman is. En as Ted Simon se boek jou ook inspireer om om die wêreld te ry, sal hierdie fiets die ideale reismaat wees.

Klik hier vir die produkblad.

Spesifikasies:

Enjin888 cc driesilinder
Gewig ( Droog )198 kg
Kraglewering70 kW @ 8 750 rpm
Wringkrag87 Nm @ 7 250 rpm
Saalhoogte810-830 mm
Tenkkapasiteit20 ℓ
PrysR229 000

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Scalla ·

Vir daai prysklas is daar alternatiewe modelle wat net so goed is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.