Triumph Trident 660 wil nuwe motorfietsryers lok

(Foto: Verskaf)

Motorfietsryers is soms baie lojaal teenoor hulle gekose handelsmerk en hierdie lojaliteit word gewoonlik gevestig wanneer jy jou eerste motorfiets koop. Daarom probeer vervaardigers baie hard om aantreklike intreevlakfietse te skep vir nuwe en jonger ryers.

Triumph is in ʼn besondere posisie omdat hy klassieke en moderne fietse in sy stal het wat vir hom ʼn baie groter teikenmark verseker. Nou het hy die nuutste toevoeging aangekondig: Die Triumph Trident 660.

Dié fiets gaan meeding in die middelgewigsegment teen modelle soos Kawasaki se Z650 en Yamaha se MT-07.

Triumph het reeds groot sukses behaal met sy bewese driesilinderenjins. Die Street Triple en Speed Triple is reeds in die vervaardiger se arsenaal en hy is ook die amptelike enjinverskaffers vir die Moto2-wêreldkampioenskap.

(Foto: Verskaf)

Met die betroubaarheid van hierdie enjins goed onder die knie, het Triumph die 660 verfyn om die Trident sy eie, unieke karakter te gee. Die enjin alleen het 67 nuwe komponente en lewer 81 pk. teen ’n woelige 10 250 r.p.m. Hierdie fiets weeg slegs 189 kg en met daardie verrigtingsyfers behoort die Trident baie pret te wees.

Heelwat aandag is geskenk aan die ergonomie van die Trident. Met ’n saalhoogte van net 805 mm en ’n smal brandstoftenk behoort die Trident meer toeganklik te wees vir korter ryers. Die fiets het egter nie net onervare beginners in gedagte nie – gesoute ryers sal die verstelbare Showa-vering waardeer. Met die elektroniese versneller en verskeie ryprogramme sal die Trident van onervare tot ervare ryers akkommodeer.

Die Trident beskik oor die nuutste TFT-instrumentasie wat met jou slimfoon en GoPro kan koppel. Ek verwag ook niks minder as uitstekende bougehalte nie.

Die middelgewigsegment in Suid-Afrika is nie baie groot nie. Triumph hoop egter om met ’n bekostigbare produk – met ʼn hoë spesifikasievlak – dit aantreklik te maak vir nuwe ryers. Die eerste Tridents behoort teen Februarie in Suid-Afrika aan te kom en ek sal oudergewoonte meer volledig rapporteer as ek een van hulle gery het.

Teen die huidige wisselkoers behoort die Trident naastenby R150 000 te kos.

Klik hier vir die produkblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ratel ·

Ek het nog nooit ‘n Triumph motorfiets besit nie maar kyk verlangend na hulle. Veral die Bonneville Bobber Black. Ek het al 4 BMW’s gehad: 3 Motors en een motorfiets. Die motorfiets, een van die eerste F800GS modelle het, net soos die motors, talle probleme gegee. Nooit weer enige BMW produk vir my nie, dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.