Tucson behoort treffer te bly

Die Tucson is wêreldwyd Hyundai se topverkoper sportnutsvoertuig en in Suid-Afrika het die eerste generasie Tucson die Hyundai-handelsmerk bekendheid gegee.

Die vierde generasie Tucson is onlangs in Suid-Afrika bekend gestel en Hyundai hoop dat hy sal voortbou op die sukses van die vorige generasies.

Die nuwe Tucson vang beslis die oog. Die skerp kepe aan die flanke gee die Tucson ’n futuristiese voorkoms. Dié patroonontwerp duur ook voort op die rooster met spleetvormige LED-hoofligte weerskante bo en ’n ry LED-dagryligte wat naatloos integreer met die donker chroom-voorkoms van die rooster wanneer dit afgeskakel is.

Die nuwe Tucson is 150 mm langer, 15 mm breër, en die asafstand is met 85 mm verleng, wat beteken die agterste passasiers geniet meer beenruimte en daar is ’n groter kattebak. Die bagasieruim bied 539 ℓ‑kapasiteit en tot 1 860 ℓ wanneer die sitplekke platgevou is.

Dit beteken die kinders se stootwaentjies pas moeiteloos in terwyl daar ook nog plek vir ander bagasie is. Die bykomende beenruimte maak dit ook makliker om die kinders se karstoeltjies in te pas sonder dat dit nodig is om die sitplekke vorentoe te skuif.

Die ruim kajuit beïndruk danksy ’n gevoel van luuksheid. Die middelkonsole is breed en hoog, wat beteken jou elmboog kan lekker daarop rus en daar is nuttige stoorplek. Daar is ook bekerhouers, ’n laaimat vir jou foon en 12 volt‑herlaai- en USB-punte.

Die groot rathefboom lyk effe uit plek en ’n kleiner, bondiger weergawe sou dalk meer gepas gewees het. Die groot raakskerm op die voorpaneel gee vingerpunttoegang tot alle nodige inligting en jou foon kan met Bluetooth en Wi‑Fi koppel word vir Apple CarPlay of Android Auto. Die hitte-, ventilasie- en lugversorgingfunksies word ook deur aanraking beheer en daar is verskeie gleuwe in die instrumentpaneel, benewens die normale luggate, wat die lug versprei.

Daar is ook geventileerde en verhitte sitplekke vir die bestuurder en sy passasier in die Elite-model. Die Premium-model het lapsitplekbedekkings, terwyl die Executive- en Elite-variante kunsleersitplekke het. Die Elite-model het ook ’n panoramiese sondak.

Daar is twee enjins beskikbaar – ʼn 2.0‑viersilinderpetrol en ’n 2.0‑turbodiesel. Die petrolenjin gaan gepaard met ’n 6-spoed-wrinkragomsitter-outo en bied 11 kW en 192 Nm. Die dieselenjin gaan gepaard met ʼn 8-spoed‑wringkragomsitter‑outo wat 137 kW en 416 Nm bied. Daar is vier rymodusse, naamlik Eco, Smart, Normal en Sport. Hyundai maak aanspraak op ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 7,9 ℓ/100 km, en ons het tydens ons paar dae met die Tucson 7,3 ℓ/100 km gehandhaaf.

Die Tucson het ’n magdom veiligheidsfunksies, waaronder ses lugsakke, blindekolwaarskuwing, baanhulp, botsingwaarskuwing, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding en vastrap- en stabiliteitsbeheer.

Ek sal die Tucson as ’n lieflike gesinsmotor opsom. Hy ry regtig lekker, het genoeg krag vir die bulte en om vinnig verby te steek, daar is genoeg pakplek en sal gemaklik wees vir kinders en hul ouers om die langpad aan te durf. Die kajuit is lieflik stil, ʼn mens sit lekker hoog en jy het goeie sig alle kante toe.

Met ’n intreeprys van meer as ’n halfmiljoen rand, ding die Tucson in ’n baie besige segment mee. Daar is motors te kies en te keur in dié prysklas; gaan toetsbestuur dus gerus ’n paar van hulle en besluit wat vir jou die beste werk.

Die reeks lyk só:

Hyundai Tucson 2.0 Premium outo115 kW/192 Nm8,9 ℓ/100 kmR524 900
Hyundai Tucson 2.0 Executive outo115 kW/192 Nm8,9 ℓ/100 kmR574 900
Hyundai Tucson 2.0 Elite outo115 kW/192 Nm8,9 ℓ/100 kmR639 900
Hyundai Tucson 2.0D Elite outo137 kW/416 Nm7,9 ℓ/100 kmR704 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km‑voertuig- en 7 jaar/200 000 km‑dryfstelwaarborg sowel as ʼn 6 jaar/90 000 km‑diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Haval H6 2.0T Luxury150 kW/320 Nm7,4 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/60 000 km-diensplan

R503 900
Renault Koleos 2.5 Dynamique126 kW/233 Nm8,1 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R554 900
Mazda CX-5 2.0 Carbon Edition121 kW/213 Nm6,9 ℓ/100 km3 jaar/onbeperkte km-waarborg en ‑diensplanR621 800
Citroën C5 Aircross 1.6T Shine121 kW/240 Nm7,9 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg en ‑diensplanR629 900
Toyota RAV4 2.5 Hybrid GX-R E-Four163 kW/221 +e Nm4,8 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-voertuigwaarborg

8 jaar/195 000 km-batterywaarborg

6-dienste-diensplan

R663 400
Subaru Forester 2.5i-S ES136 kW/239 Nm8,3 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/75 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R669 000
Volkswagen Tiguan 1.4TSI 110 kW R-Line110 kW/250 Nm7,7 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R690 900
Peugeot 3008 1.6T GT121 kW/240 Nm7 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg en ‑diensplanR719 900
Honda CR-V 1.5T Executive140 kW/240 Nm6,7 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R721 800

Tussen die mededingers is slegs die Subaru Forester en Toyota RAV4 met vierwielaandrywing toegerus. Die Toyota bied ʼn hibriede dryfstelsel wat heelwat meer gevorderd is as die res, teen ʼn billike prys. ʼn Mens moet maar almal toetsbestuur en sien watter een jou soos ʼn handskoen pas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Jammer maar dis ‘n lelike lelike motor. In Engels sou mens se “Hyundai has lost the plot!”

ᛄᚪᚾ ·

En nie hoe nie? Dis omtrent slegs die huidige Atos wat half netjies vertoon

Shady ·

Smaak verskil Johan. Behalwe vir die bonkige rathefboom lyk hy bakgat!

Johann ·

Ek bly in Amerika en het vir my die Tucson Hybrid SEL Convenience (jammer vir die Engels). Ek het $33500 betaal (so R536,000 wisselkoers van 16).
My vrou het presies dieselfde model – net ‘n ander kleur.
Alhoewel ek dink dis mooi voertuig, moet ek ‘n paar negatiewe punte uitbring.
Brandstof verbruik: Glad nie wat die vervaardiger se nie. Jy kan so tussen 3-5 liter per 100km bysit.
Geraas binne die voertuig: My vrou se Tucson het nou so 17000 km op. Nou skielik het daar ‘n “rattle” geluide kop uitgesteek. Die handelaar kan net vasstel wat dit is nie.
En nou het myne dit ook begin maak.
Radio beheer knoppie op die stuurwiel: Die radio is traag om te reageer.
Die radio en instrument paneel: Dis daardie “piano black” wat die stof so vinning aantrek.
Ek sal nie die voertuig weer koop nie. 1 jaar dan verkoop ek dit

Vonkprop ·

Wysig asseblief die artikel. Ek is seker die petrol model lewer nie net 11kW nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.