My foon lui, en die stem aan die ander kant sê: “Sal jy ’n bekendstelling kan bywoon van ’n nuwe TVS-motorfiets? Die bekendstelling is in Thailand.” Ek het vir so twee sekondes daaroor nagedink en begin pak.
’n Paar dae later land ek in Bangkok, en besef watter groot impak motorfietse op mense se lewens hier het. Hier krioel dit van bromponies en valhelms is nie eers verpligtend nie. Hoekom sukkel ons Suid-Afrikaners so om die kopskuif te maak dat motorfietse ’n goeie pendelvoertuig is? Almal sê dit is gevaarlik, maar hoe meer motorfietse daar op die paaie is, hoe groter die bewustheid oor motorfietse, hoe minder die gevaar.
In lande soos Indië en Thailand is motorfietse gewoonlik die gesin se enigste manier van vervoer, en dit is nie snaaks om drie of vier mense op ’n bromponie te sien nie. Tog is ek nie hier om myself aan Bangkok te verwonder nie, ek is hier vir die wêreldbekendstelling van die nuwe TVS Apache RTR 310.
TVS klink dalk nie bekend nie, maar as jy die BMW G 310-reeks ken, behoort jy te weet dat hierdie fiets deur BMW ontwikkel is in samewerking met TVS. Die BMW word vervaardig by TVS se aanleg in Indië. TVS is die derde grootste motorfietsvervaardiger in Indië, naas Hero en Bajaj, maar hulle verkoop by die drie miljoen motorfietse per jaar in 60 lande. Wat Indië egter so belangrik vir TVS maak, is die groei in die 241-450 cc‑segment, en veral die groei in kleinkapasiteitkaalfietse. En dit is waar die nuwe Apache RTR 310 sy stempel gaan probeer afdruk.
- (Foto: Verskaf deur TVS)
- (Foto: Verskaf deur TVS)
Die nuwe Apache lyk ongelooflik goed, met skerp lyne en ’n baie aggressiewe voorkoms. Voorkoms is een ding, maar die Apache bevat ook ’n rits kenmerke wat ’n eerste is in hierdie klas. Die fiets het snelheidsbeheer, en selfs ’n saal wat kan koud én warm word. Ja, lugversorging in die saal! Die nuwe 5”‑TFT-skerm bied ’n wye verskeidenheid koppelings, soos selfone, interkomstelsels en self met jou GoPro.
Daar is vyf ryprogramme om uit te kies, elk met sy eie unieke skermuitleg. Verder keer die elektronika dat die Apache nie hand uitruk nie. Daar is iets om te keer dat die voorwiel lig onder harde versnelling, en selfs iets om te verhoed dat jou agterwiel lig as jy hard rem. Selfs die ligte neem jou spoed in ag. So word die voorlig helderder hoe vinniger jy ry, en die remlig flikker as jy hard rem.
Vering op die RTR is ten volle verstelbaar en die fiets is toegerus met Michelin se uitstekende Road 5-bande, wat alles meewerk vir uitstekende verrigting. Om die fiets in ’n veilige omgewing te leer ken, het TVS ons na ’n renbaan so 60 km uit die middestad van Bangkok geneem. Die Apache is ’n baie kompakte klein fietsie, maar is uiters gemaklik. Die handvatsels is breed genoeg en ver genoeg vorentoe om jou in ’n aanvallende posisie te plaas. TVS het ook aandag gegee aan die uitlaatpyp, en die klein Apache klink alles behalwe blikkerig. Ons is aanvanklik om die baan begelei sodat ons met die uitleg kon vertroud raak, maar na twee rondes is ons losgelaat om die Apache behoorlik te toets.
- (Foto: Verskaf deur TVS)
- (Foto: Brian Cheyne)
Die enjin trek heel ywerig en die snelskakeling werk besonder goed. Snelskakeling wat só goed werk, kry jy nie sommer aan hierdie kant van die mark nie. Die baan self is baie kort en tegnies, en die klein TVS het hom uiters goed van sy taak gekwyt. Die buitekant van my stewels het kort-kort die grond geraak, maar die Apache het sy lyn gehou.
Vandaar het ons teruggery stad toe onder die wakende oog van die Thai-polisie. Dit is hier waar ek die Apache net nog meer waardeer het. Ons het ’n kombinasie van snelweg, agterpaaie en swaar stadsverkeer gery, en die fiets het alles met oorgawe gedoen. Die fiets vibreer ʼn bietjie op hoër spoed, maar dit is te verstane met ’n enkelsilinderfiets.
TVS het regtig ’n wenner op hande hier, en ek kan nie wag dat TVS ’n avontuurweergawe van die Apache uitbring nie. Ons land se mense het motorfietse in hulle lewens nodig, en die Apache RTR 310 is net die plek om te begin. Die fiets is beginnersvriendelik, maar ervare ryers sal net soveel genot uit hom kan put. Die TVS Apache RTR 310 behoort voor die einde van die jaar plaaslik beskikbaar te wees en die prys beloof om uiters kompeterend te wees. Sodra ek kans kry, sal ek hom deeglik hier op eie bodem toets.
Vir meer inligting oor TVS Suid-Afrika se ander produkte, klik hier.
Nice.