Twee kruismodelle en ʼn R200 000-verskil?

Kruismodelle en sportnutsvoertuie is besig om die mark oor te neem.

Ek is nie heeltemal oortuig deur almal van hulle nie en het spesifiek kopgekrap oor die twee buksies – Volvo se XC40 T5 R-Design en Volkswagen se T-Roc 2.0TSI 140 kW 4Motion R-Line.

Albei is ʼn vyfsitplekkruismodel met vierwielaandrywing.

Ontwerp:

Volkswagen T-Roc 2.0TSI 140kW 4Motion R-LineVolvo XC40 T5 AWD R-Design
5/55/5

Albei voertuie het ʼn puik ontwerp. Ek dink die Volvo XC40 loop net-net voor – maar die T-Roc is só naby dat ek beslis nie ʼn punt kan aftrek nie. Elkeen dra hul handelsmerk se kenmerkende ontwerp.

Binneruim:

Volkswagen T-Roc 2.0TSI 140kW 4Motion R-LineVolvo XC40 T5 AWD R-Design
4/55/5

Die binneruim van die Volkswagen voel dadelik soos ʼn bekende tuiste, maar die materiaal op die deurpanele stel teleur. Verder is die res in die kol. Die Volvo aan die ander kant voel luuks met fantastiese proporsies en slim verpakking. Die reusestoorplek in die deurkaarte is puik om ʼn skootrekenaar in te stoor. Verder het albei voertuie enorme spesifikasievlakke met elke denkbare speelding.

Enjin, ratkas en dryfstelsel:

Volkswagen T-Roc 2.0TSI 140kW 4Motion R-LineVolvo XC40 T5 AWD R-Design
4/53/5

Terwyl albei voertuie ʼn 2.0 viersilinderturbopetrolenjin gebruik, is die Volvo effens kragtiger as die VW. Die Volvo bied 185 kW en 350 Nm en stoot die krag na al vier wiele deur ʼn 8-spoed wringkragomsitter outomatiese ratkas. Die Volkswagen aan die ander kant bied 140 kW en 320 Nm. Hy stoot sy krag aan al vier wiele deur ʼn puik 7-spoed dubbelkoppelaar outomatiese ratkas. Waar die Volkswagen die Volvo wegry is in die brandstofverbruikafdeling. Die Volvo is voorwaar bitter swaar op brandstof en ten spyte van Volvo se beweerde syfer van 7,2 ℓ/ 100 km het ek vreeslik gesukkel om 10 ℓ/ 100 km te haal. Die Volkswagen het by die 8 ℓ/100 km gedraai, wat heel billik is gegewe die 7,7 ℓ/ 100 km wat VW aanvoer.

Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid:

Volkswagen T-Roc 2.0TSI 140kW 4Motion R-LineVolvo XC40 T5 AWD R-Design
4/54/5

Albei voertuie het ses lugsakke en al die veiligheidstelsels soos ABS, EBD, vastrap- en stabiliteitsbeheer – die lot. Volvo het ʼn sterker reputasie in die veiligheidsafdeling maar die T-Roc hoef geensins vir hom terug te staan nie. Die Volvo is met enorme wiele toegerus en sy rit word effens hard – net-net harder as die T-Roc s’n. Met groot wiele en vierwielaandrywing is albei se padhouvermoë baie beter as wat ooit sal nodig wees.

Waarborg, diensplan en prys:

Volkswagen T-Roc 2.0TSI 140kW 4Motion R-LineVolvo XC40 T5 AWD R-Design
4/53/5

Die T-Roc kos R593 600. Dit is baie… maar die Volvo kos ʼn angswekkende R797 000. Met die Volvo kry jy darem ʼn 5 jaar/ 100 000 km waarborg én omvattende instandhoudingsplan. Die Volkswagen bied ʼn 3 jaar/ 120 000 km waarborg en 5 jaar/ 90 000 km diensplan.

Opsomming:

Volkswagen T-Roc 2.0TSI 140kW 4Motion R-LineVolvo XC40 T5 AWD R-Design
21/2520/25

Dit is maklik om dié twee op te som. Die Volvo is ʼn pragtige voertuig, maar doodeenvoudig té duur en bitter swaar op brandstof. Volvo gaan binnekort die elektriese XC40 in Suid-Afrika bekendstel, en dit sal interessant wees – maar tot dán sal ek beslis eerder na die VW kyk. Die R200 000 besparing kan nie geïgnoreer word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kirst ·

Hoe kan mens amper R600k betaal vir ‘n Polo op sterioide?

Wielspore ·

VW se DSG ratkas klop meningte vervaardigers as dit by gerief en betroubaarheid kom. Die skakeling tussen ratte vind omtrent gevoelloos plaas selfs al sit jy voet in die hoek. Daardie seepgladde samewerking tussen die enjin en ratkas maak dit moontlik om teen ‘n astranomiese spoed te versnel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.