Twee titane, een wenner…

Ondanks die huidige neiging om kleiner en goedkoper voertuie te koop, is daar steeds lekker groot, luukse motors beskikbaar. Die bedryf noem dit die “buying down trend”. Daar word ondanks die moeilike ekonomiese omstandighede steeds nuwe voertuie gekoop, maar mense koop een of twee klasse af van wat hulle gehad het. Vir diegene wat nie hul beursie styf hoef toe te knyp nie, is daar dié twee motors.

Dit is Volvo se XC90 T8 AWD Recharge en Mercedes-Benz se GLS 580 4Matic. Albei is reuse- sewesitpleksportnutsvoertuie, maar met uiteenlopende benaderings tot ʼn eenderse resultaat.

Ontwerp:

Mercedes-Benz GLS580 4MaticVolvo XC90 T8 AWD Recharge
4/55/5

Al is die GLS indrukwekkend soos hy daar staan, is daar nie juis iets spesifiek wat uitstaan aan sy ontwerp nie. Hy kan maklik verwar word met die effens kleiner GLE. Die XC90 aan die ander kant lyk voorwaar statig en elegant.

Binneruim:

Mercedes-Benz GLS580 4MaticVolvo XC90 T8 AWD Recharge
4/55/5

 Mercedes-Benz se GLS is ʼn reusebuks. As jy al die sitplekke platvou is daar ʼn katedraal se spasie agter die voorste ry sitplekke. Sy bougehalte is uit die boonste gestoeltes, maar die paneelbord se ontwerp is effens oninspirerend. Die XC90 is nie só groot soos die GLS nie, maar twee dinge staan uit. Die leerbekleedsel op die sitplekke is fantasties, en die houtaksente op die konsole en paneelbord is uiters luuks. Die Volvo se Bowers & Wilkens is die beste klankstelsel wat ek nóg in ʼn voertuig teëgekom het.

Enjin, ratkas en dryfstelsel:

Mercedes-Benz GLS580 4MaticVolvo XC90 T8 AWD Recharge
4/55/5

Dié is eintlik bietjie onregverdig teenoor die Mercedes-Benz. Sy V8 turbo-enjin bied ʼn fantastiese 360 kW en 700 Nm wat hom laat snel tot 100 km/h in ʼn ratse 5,3 sekondes en hy sal aanhou hol tot 250 km/h, maar daar is nie juis iets besonders oor sy dryfstelsel nie. Die Volvo aan die ander kant is ʼn inprop-hibridiese voertuig. Hy veg met ʼn 2.0 viersilinderturbopetrolenjin én ʼn elektriese motor. Die twee saam bied 300 kW en 640 Nm wat die XC90 tot 100 km/h slinger in 5,6 sekondes en hy sal aanhou tot 230 km/h… vir nou – tot Volvo alle nuwe voertuie beperk tot 180 km/h. Waar die Mercedes permanent redelik swaar is op sous kan die Volvo amper 30 km ry sonder enige brandstof. My beste verbruik op die 33 km-roete van die huis na die kantoor is 2,1 ℓ/ 100 km omdat ek die battery volgelaai het by die kantoor. Indien jy die Volvo nie as ʼn hibridiese voertuig hanteer nie en slegs op petrol ry is hy net so swaar op brandstof soos die Mercedes.

Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid:

Mercedes-Benz GLS580 4MaticVolvo XC90 T8 AWD Recharge
5/55/5

Hier verloor die Mercedes-Benz net in een aspek – en dis ritgehalte. Baie joernaliste stem steeds nie saam met my nie, maar die GLS is die S-klas van Merc se sportnutsaanbieding. Die ritgehalte kan enorm verbeter word, soos ek onlangs in ʼn E220d gevoel het. Die Volvo het uitmuntende veiligheidsgeloofsbriewe, maar die Mercedes het nege lugsakke teenoor die Volvo se ses. Die Volvo het wel baie beter ritgehalte as wat die Benz bied. Albei se padhouvermoë is in die kol vir dié grootte voertuig – en oor die algemeen is albei voorwaar bitter gemaklik en luuks.

Waarborg, diensplan en prys:

Mercedes-Benz GLS580 4MaticVolvo XC90 T8 AWD Recharge
3/55/5

Die GLS het ʼn twee jaar/onbeperkte km waarborg en vyf jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan. Die Volvo het ʼn vyf jaar/ 100 000 km waarborg en omvattende instandhoudingsplan. Dit bied vir mens drie jaar langer se waarborg. Die Volvo is ook R550 000 goedkoper as die Benz. Die Benz kos R2 045 160 en die Volvo R1 495 000.

Opsomming:

Mercedes-Benz GLS580 4MaticVolvo XC90 T8 AWD Recharge
25/3030/30

Dit is maklik om dié twee op te som. Die Volvo is ʼn meer innoverende voertuig wat mooier vertoon teen heelwat minder geld. Die GLS is nie sleg nie, maar die paneelbord en die ritgehalte doen afbreek aan die eindproduk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.