BMW was nog altyd sinoniem met bestuurderskarre. Lekker sportiewe rygoed wat kán. Volkswagen, aan die ander kant, is meer sinoniem met gesinsbuksies. Die Jetta spring dadelik in my kop, én die Golfie. Hoe is dit nou dat die twee vervaardigers hier teen mekaar te staan kan kom? Maklik. BMW is al vir dekades in dié segment – maar nou is daar ʼn rateltaai teenstander van VW in die vorm van die Golf R. Om die Golf R te probeer verpak, vergelyk ek hom met BMW se X2 M35i. Kom ons kyk.
Ontwerp
BMW X2 M35i Punt 5/5 | Volkswagen Golf R Punt 5/5 |
Albei voertuie se ontwerp is vir my fantasties. BMW se X2 is aspris meer modern as sy X1-boetie – vir dié wat nie nét ʼn ryding soek nie, maar iets unieks. Ek is egter meer in die kamp van die Golf R. Ietwat konserwatief – met ʼn atoombom onder die kap.
- Die BMW X2 M35i. (Foto: Verskaf)
- Die Golf R. (Foto: Verskaf)
- Die BMW X2 M35i. (Foto: Verskaf)
- Die Golf R. (Foto: Verskaf)
Binneruim
BMW X2 M35i Punt 5/5 | Volkswagen Golf R Punt 5/5 |
Albei voertuie se binneruim is van uiters puik gehalte. Dit is Duitse gehalte op sy beste. Die BMW het wel meer opsies beskikbaar in terme van watse kleur leer ʼn mens kan kies – maar die Golf R se uitleg is vir my perfek. Albei voertuie het sitplek vir vyf en ʼn redelike kattebak vir ʼn luikrug.
- Foto: Verskaf.
- Die Golf R. (Foto: Verskaf)
Enjin, ratkas & dryfstelsel
BMW X2 M35i Punt 4/5 | Volkswagen Golf R Punt 5/5 |
Dít is ʼn swaar een vir my. Die X2 is oorspronklik gebore as ʼn sportnutsvoertuig of kruismodel. Dit is nie ʼn warm buksie se natuurlike habitat nie. Die Golf R aan die ander kant is ʼn warm luikrug wat by die bestes kers kan vashou. Die BMW se 2.0-viersilinderturbopetrolenjin is lekker sterk, en die omwentelinge trek lekker. Die agtspoed-sportoutoratkas is ʼn wringkragomsitter-tipe outo. Die dubbelkoppelaarratkas in die Golf R is verreweg beter as dit kom by jaag. Só ook is VW se 2.0-viersilinderturbopetrol nou opgedraai na 228 kW, mét ʼn Akrapovic-uitlaatpyp. Albei voertuie het vierwielaandrywing.
Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid
BMW X2 M35i Puntetotaal 4/5 | Volkswagen Golf R Punt 5/5 |
Volkswagen het al met die hulp van Audi en Quattro hul vierwielaandrywingstelsel baie beter baasgeraak as BMW, veral as ʼn mens hard ry en die voertuig wil laat rondbeweeg in sy sport-rymodus. Albei voertuie het puik padhouvermoë, maar die Golf R is ʼn raps voor. Die Golf R se ritgehalte is heelwat beter as die BMW sʼn … maar dis te wagte omdat die BMW op 20”-wiele ry. Die VW het sewe lugsakke teenoor die BMW se ses – en verder het albei elke denkbare veiligheidstelsel. ʼn Mens kan op albei voertuie aanpasbare spoedbeheer spesifiseer met kruisverkeer-waarskuwing. Uit ʼn veiligheidstandpunt is die twee eweknieë.
Opsomming
BMW X2 M35i Puntetotaal 18/20 | Volkswagen Golf R Puntetotaal 20/20 |
Die Golf R is vir my die vinnigste warm luikrug daar buite op werklike paaie en waar toestande nie ideaal is nie. Já, op ʼn baan sal ander hom pak gee, maar waar die meeste eienaars tyd deurbring, kan ek nie ʼn vinniger luikrug sien nie. Die BMW is ʼn M35i … Daai M het altyd beteken dit is die beste van die beste. As ʼn mens die X2 M35i vra om te speel, dan kort hy hier en daar net ʼn bietjie – en dit wys in sy puntetotaal. Dit is ook fantasties dat die Golf R amper R200 000 goedkoper is. Vat R100 000 vir ekstras, en die ander R100 000 vir bande en brandstof.
Die twee vergelyk só:
BMW X2 M35i | Volkswagen Golf R | |
---|---|---|
Enjin | 2.0-viersilinderturbopetrol | 2.0-viersilinderturbopetrol |
Krag | 225 kW/450 Nm | 228 kW/400 Nm |
Ratkas | 8-spoedwringkragomsitter | 7-spoeddubbelkoppelaar |
Brandstofverbruik | 7.4 ℓ/100 km | 7.2 ℓ/100 km |
0–100 km/h | 4.9 sek | 4.6 sek |
Topspoed | 241 km/h | 250 km/h (beperk) |
Diensplan & waarborg | 2 jaar/onbeperkte km- waarborg 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan | 3 jaar/120 000 km-waarborg 5 jaar/90 000 km-diensplan |
Prys | R899 374 | R708 900 |
Die kompetisie lyk só:
Audi S3 Sportback Quattro | BMW M135i xDrive | Honda Civic Type R | Hyundai i30N | Mercedes-AMG A35 4-Matic | Renault Megane RS 280 Cup | |
---|---|---|---|---|---|---|
Enjin | 2.0-viersilinderturbopetrol | 2.0-viersilinderturbopetrol | 2.0-viersilinderturbopetrol | 2.0-viersilinderturbopetrol | 2.0-viersilinderturbopetrol | 1.8-viersilinderturbopetrol |
Krag | 228 kW/400 Nm | 225 kW/450 Nm | 228 kW/400 Nm | 202 kW/353 Nm | 225 kW/400 Nm | 205 kW/390 Nm |
Ratkas | 7-spoed – dubbel-koppelaar | 8-spoed – wringkrag-omsitter | 6-spoed – handrat | 6-spoed – handrat | 7-spoed – dubbel-koppelaar | 6-spoed – handrat |
Brandstof-verbruik | 6.5 ℓ/100 km | 7.5 ℓ/100 km | 8.4 ℓ/100 km | 8.5 ℓ/100 km | 7.4 ℓ/100 km | 7.2 ℓ/100 km |
0–100 km/h | 4.6 sek | 4.8 sek | 5.8 sek | 6.1 sek | 4.7 sek | 5.8 sek |
Topspoed | 250 km/h beperk | 250 km/h beperk | 272 km/h | 250 km/h | 250 km/h beperk | 255 km/h |
Diensplan & waarborg | 1 jaar/ onbeperkte km-waarborg 5 jaar/ 100 000 km- omvattende instand-houdingsplan | 2 jaar/ onbeperkte km-waarborg 5 jaar/ 100 000 km- omvattende instand-houdingsplan | 5 jaar/ 200 000 km-waarborg 5 jaar/ 90 000 km- diensplan | 5 jaar/ 150 000 km-voertuig-waarborg 7 jaar/ 200 000 km-dryfstelsel-waarborg 5 jaar/ 75 000 km-diensplan | 2 jaar/ onbeperkte km-waarborg 5 jaar/ 100 000 km- omvattende instand-houdingsplan | 5 jaar/ 150 000 km-waarborg 5 jaar/ 90 000 km-diensplan |
Prys | R724 189 | R773 788 | R741 900 | R679 900 | R815 000 | R614 900 |
Ál die mededingers is verskriklik indrukwekkend. Wat deesdae uit ʼn 2.0-viersilinder kan kom, is fantasties. Ek moet nog van hulle ry, maar sover is die Golf R en die Honda Civic Type R my keuses. Indien jy in dié mark is, het jy waarskynlik ʼn gunsteling en ʼn lojaliteit teenoor ʼn handelsmerk, maar gaan toetsbestuur beslis almal, veral die Golf R met sy nuwe vastrapbeheer-programmering.
Die BMW X2 M35i:
- Die BMW X2 M35i. (Foto: Verskaf)
- Foto: Verskaf.
- Foto: Verskaf.
- Foto: Verskaf.
Die Volkswagen Golf R:
- Die Golf R. (Foto: Verskaf)
- Die Golf R. (Foto: Verskaf)
- Die Golf R. (Foto: Verskaf)
- Die Golf R. (Foto: Verskaf)
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
3 Kommentare
Moes die Mercedes A45S AMG nie ook hierby gewees het nie?? Dan is die Golf maar steeds “lig” in die broek vir ‘n 2 liter…
In vandag se omstandighede waar ons in ‘n staat woon wat ‘n R700miljard te kort op sy begroting het, met ‘n 50% werkloosheid en baie sake ondernemeings wat toegemaak het, n nuwe motor mark wat in April tot 2% gedaal het teenoor wat dit ‘n jaar gelede was, vind ek dit onverklaarbaar dat voertuie wat ‘n driekwart miljoen Rand of meer kos opgehemel word as iets wat aanbeveel word. Ons het nie vinniger, meer tegnologies gevorderde, vierwiel aangedrewe motor met agtspoed ratkaste en allerhande foefies wat jou nog 0.2 sekondes vinniger om ‘n draai kan laat snel en drie maal… Lees meer »