Uniek en met ʼn plaaslike geur

Maatskappye en handelsmerke soek altyd ʼn unieke invalshoek om kliënte te lok. Dié taak raak al moeiliker, veral vir duur handelsmerke en produkte soos voertuie.

Hoewel die Range Rover pure Engels is, het Land Rover Suid-Afrika nou 27 pasgemaakte Range Rover Sport SVR’s na Suid-Afrika ingevoer. Die voertuie word in die SVO (Special Vehicle Operations) afdeling by die fabriek in Warwickshire, Engeland, afgerond.

Dit is gedoen om die byna eindelose kleurspektrum, wat op bestelling aan kliënte beskikbaar is, ten toon te stel. Daar is byvoorbeeld in 2019 ʼn Range Rover, uitgerus in die amptelike Springbok-groen van die Bokke se truie, bekend gestel.

Die 27 nuwe Range Rovers kom in agt spesiaal geformuleerde kleure waaraan Suid-Afrikaans geïnspireerde titels toegeken is. Die voertuie is reeds by Jaguar Land Rover-handelaars regoor die land te koop. Die kleure is Sibudu Stone, Sudwala Eve, Bantry Blue, Stimela sa Sebusuku, Namaqua Orange, Egoli Yellow, 1000 Hills Green en Izi Khaleni Plum.

Die Range Rover in Egoli Yellow.

Sibudu Stone is geïnspireer deur die kranse van die Sibudu-grot in KwaZulu-Natal en is ʼn pêrelagtige grysblou skakering terwyl Sudwala Eve geïnspireer is deur die donkerste kamers van die Sudwala-grotte. Bantry Blue is geïnspireer deur die asuurblou Atlantiese waters en lug van Bantrybaai in die Wes-Kaap terwyl Stimela sa Sebusuku ‘n diep satynswart afwerking is wat geïnspireer is deur die ryk geskiedenis wat treine in die vorming van Suid-Afrika gehad het. Namaqua Orange is geïnspireer deur Namakwaland se blommeprag en die velde vol helder oranje madeliefies.

Johannesburg, die stad van goud, is die inspirasie agter Egoli Yellow, ʼn lewendige geel tint wat die sonskyn van Suid-Afrika en die warmte van sy mense aandui. 1000 Hills Green is geïnspireer deur die golwende groen heuwels van KwaZulu Natal terwyl Izi Khaleni Plum se inspirasie die diep pers sonsondergang is wat dikwels gesien kan word by die bekende Hole in the Wall-rotsformasie by Koffiebaai.

Suid-Afrikaanse kliënte wat belangstel in pasgemaakte Jaguar- en Land Rover-voertuie is egter nie net tot hierdie 27 aanbiedings beperk nie, aangesien Range Rover se SVO-afdeling persoonlike kleurvoorkeure op spesifieke Range Rovers en Jaguars kan toepas. Of dit nou die kleur van ʼn spesifieke handelsmerk, ʼn gunsteling paar skoene of ʼn familie-erfstuk is, SVO kan die kleur so na as moontlik laat pas danksy die jongste tegnologie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.