Val in die pad met Suzuki se Jimny

Brian Cheyne en sy vrou, Corien, het die Oos-Kaap in ‘n Suzuki Jimny gaan verken. (Foto: Brian Cheyne)

Ek reis gewoonlik alleen – op twee wiele. My vrou gun my die vryheid, maar beny my soms die mooi plekke wat ek sien sonder haar. Ons sit nou al vir hoe lank vasgevang in ons huis en ons moes uit. En so is ons een week lange onbeplande reis gebore.

Net een voorwaarde: sy wou graag na Hogsback in die Oos-Kaap gaan. Ek het geweet dat daar heelwat grondpaaie en bergpasse daar is, en my karretjie is glad nie opgewasse daarteen nie. Ek kontak toe die gawe mense by Suzuki Suid-Afrika om te hoor of ek ’n Jimny kan leen vir ’n week. So paar weke later lewer Suzuki hul helderste Jimny hier af. Suzuki beskryf die kleur as Kinetic Yellow. Hierdie karretjie kan jy nie miskyk nie, dis verseker! Ons eerste uitdaging was om te pak vir ’n week en steeds alles agter in die motortjie te kry!

‘n Padversperring in die Karoo. (Foto: Brian Cheyne)

Voor ons vertrek het, het ons ooreengekom dat ons planne aanpasbaar is. Geen bestemming is vas nie, en geen slaapplek word langer as ’n dag vooruit bespreek nie. Ons sou ry tot die daglig opraak en dan slaapplek soek. Ons het besluit op die N3 na Natal om net die eerste paar honderd kilometers agter ons te kry.

Een ding wat ek opmerk as ek ry, is kerktorings. Die kerk was altyd die middelpunt van elke dorp. Ek het al baie by Warden verbygery en sy kerktoring gesien, maar hierdie keer het ek egter ingedraai en gaan kyk. Die kerk is ’n pragtige sandsteengebou met ’n horlosie in die toring wat nog werk. Die NG gemeente van Warden het hierdie gebou in 1924 in gebruik geneem. Ek wonder altyd hoe hierdie klein gemeentes vandag daar uitsien.

Op pad na Hogsback. (Foto: Brian Cheyne)

Ons volgende stop was by die kleinste kerkie in Suid-Afrika bo-op Van Reenenspas. Weer een van daardie besienswaardighede waarby ek al soveel keer verby gery het. Hierdie kerkie is ’n Rooms-Katolieke kerk en is gebou deur ’n baie eksentrieke man, Maynard Matthews. Sy seun, Llandaff, is oorlede in ’n rotsstorting by ’n myn waar hy besig was om ander mynwerkers te red. Matthews wou ’n gedenkplaat vir sy seun in ’n kerk opsit. Toe die Rooms-Katolieke kerk in Ladysmith dit geweier het, besluit hy om self ’n kerk te bou spesifiek sodat hy die gedenkplaat kon opsit. Die piepklein kerkie het net plek vir agt mense want, so word beweer, dit was hoeveel werkers Llandaff gered het voor hy self omgekom het.

Ons het by Nottingham Road weggedraai van die N3 op die Loteni-pad wat op Himeville uitloop. Hierdie pad het ek al ’n paar maal gery met ’n motorfiets, maar dit is ’n totaal ander ervaring op vier wiele. Die pad het op plekke baie verspoel, maar die Jimny het hom nie laat onderkry nie. Dit het al sterk skemer geraak en ek het al hoe stadiger begin ry weens die hoeveelheid uile op die pad. Ek sou myself nie kon vergewe as ek een van hierdie pragtige voëls moes raakry nie.

Ons dag het geëindig in ’n gastehuis net soos jy Himeville binnekom. Die volgende oggend het ek dit oorweeg om die Sanipas op te ry, maar weens die toestand van die pad en my beperkte 4×4 ondervinding, het ons daarteen besluit.

Die kerk op Himeville. (Foto: Brian Cheyne)

In Himeville het ons by die plaaslike kerk gestop en met die pastoor, Dennis, gesels waar hy besig was om vensters reg te maak. Hier is die kerk weer sonder ’n hoë toring. Blykbaar wat dit die manier hoe die Engelse kerke gebou het.

Ons reis het ons verder suid geneem deur Kokstad met sy unieke tweetoringkerk. Daar het ons wes gedraai na Matatiele. In Cedarville het ek ’n soortgelyke kerk as die een in Himeville gesien.

Kokstad se tweetoring-kerk. (Foto: Brian Cheyne)

Buite Mount Fletcher het ons regs gedraai in die rigting van Rhodes. Hier was seker die hoogtepunt van ons reis: Naudésnekpas. Hierdie pad het asemrowende uitsigte – groen vistas van berg en dal hou net aan en aan vir kilometers. Die pad self was by tye sleg verspoel en hoe nader ons aan die kruin gekom het, hoe meer het die wind begin waai. Selfs die bordjie op die kruin, geanker met kabels, sê hier waai die wind!

Aan die anderkant van hierdie ongelooflike pas, lê die kleine dorpie Rhodes. Toe ons inry in die dorp, het ons begin blyplek soek.

Op pad na Rhodes. (Foto: Brian Cheyne)

Ons stop toe by die Rhodes-hotel waar twee mans staan en braai. Ons het later besef dat die braaiers twee gaste van die hotel is en dat almal hier inspring en help! Die hotel het vir byna agt jaar toegesluit gestaan en is net meer as ’n jaar gelede gekoop deur Henrí en Sandra Reeders. Hulle is besig om aan hierdie hotel te werk en, alhoewel alles nog nie heeltemal op hul plek is nie, hou dit tog ’n sekere bekoring in.

Toe Henrí hoor ek stel belang in motorfietse, het hy dadelik vir my vertel van sy motorfietsvriendelike hotelkamers. Daar is die basiese geriewe – Sandra begin dadelik om ’n plek gereed te maak dat jy jou fiets kan was – asook ’n groot trog waarin jy jou stowwerige klere kan was.

Henri en Sandra Rheeders. (Foto: Brian Cheyne)

As jy hou van ry met jou veldfiets, dan moet jy beslis Rhodes op jou kuierlys sit en uitkyk vir hul Enduro-ren in Oktober. As jy sien hoe die hotel se drumpel al deurgeloop is sedert 1888, dan weet jy hierdie is ’n plek van tuiskoms. Henrí het my vertel van oom Jan Wink wat gesê het: “Al die malles en die taaies het in Rhodes ingetrek toe die wêreld hier ontdek is, maar nou is net die malles oor!”

Die grondpad van Rhodes na Barkley-Oos is in ’n redelike toestand en die uitsigte is net so pragtig. Alhoewel die klein Jimny gemaak is vir hierdie tipe paaie, was ek verlig toe ek net weer ’n stukkie op die teer kon ry. Hier moes ons egter begin kophou, want die dorpe het almal nuwe name, so my kaart was nie altyd ’n goeie verwysing nie. Ek was verstom met watter effektiwiteit die nuwe dorpsname op borde aangebring is, terwyl daar in elke dorp ’n Sassa-ry die pad af staan.

Ons bestemming vir die dag was die klein nedersetting van Hogsback. Ons het hier besluit om twee nagte te vertoef, en dit was beslis die regte besluit.

Hogsback bied rus vir die siel. (Foto: Brian Cheyne)

Ons kon lekker inslaap en rustig die dorp verken. Van staproetes na watervalle en sjokoladewinkeltjies, bied Hogsback baie rus vir die siel. Onder een van die bome het ons in absolute stilte gesit. Al wat jy kon hoor is die blare wat val. Dit is seker hoe herfs moet klink.

Hier, versteek tussen al die rus, het ek ’n man opgespoor met ’n private motorfietsversameling. Ek het ’n baie kort tydjie met hom gesels omdat hy ’n ander afspraak moes nakom, maar enige motorfietsliefhebber sal kwyl oor die ou Husqvarnas, CZ’s en Bultacos wat hier onderdak uitgestal is.

Ons tyd in die mooie natuur van die Oos-Kaap was verby en ons moes begin aanstaltes maak om weer terug te kom na die gejaag. Elke dorp, elke mens wat oor ons pad gekom het, het betekenis gehad. Ons het kondensmelkkoffie in Cradock gedrink en egte skaapskenkel, soos net die mense in die Karoo hom kan maak, in Colesberg geniet. Ons het verniet koffie gekry in Philippolis en orals het mense uitgevra na ons helder Jimny.

Ek is dankbaar vir die voorreg om te kan reis deur ons pragtige land. Hierdie land wemel van goeie mense wat hul storie wil vertel. Gaan, en gaan sit net en luister. Jou siel sal jou dan weer inhaal dat jy weer méns kan word.

Die Suzuki Jimny is klein in statuur, maar met hope karakter. Jy kan ook met vertroue enige grondpad aanvat. En as die pad rof raak en moeilik lyk, dan het jy darem die laestrekratkas om die wa, letterlik, deur die drif te trek. Ek was beïndruk met die klein karretjie en ons gemiddelde brandstofverbruik oor die sowat 2 400 km, was 7,4 ℓ/100 km.

(Foto: Corien Cheyne)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Boerkind

Lekker gelees en met heimwee terug verlang na my paar jare in die pragtige Oos Kaap….