Van LJ50 tot die nuutste Suzuki Jimny

Deur Gerhard Horn

So ʼn rukkie terug het ek die voorreg gehad om ’n paar duisend kilometer met ʼn 1985 Suzuki SJ410 te ry. Ek was so mal oor die kar dat ek ʼn liefdesbrief aan hom geskryf het, wat jy hier kan lees.

Hoekom het ek dit gedoen? Wel, dit was deel van die Suzuki Jimny se 50ste verjaarsdagviering. Die idee was om ʼn ou Jimny en die heel nuutste Jimny van die Weskus tot die Ooskus te ry. Ons sou dit graag wou doen in die oorspronklike LJ50, maar na baie navorsing kon ons net twee in Suid Afrika opspoor. Ons het geweet die pad gaan rof wees, en ons wou graag nie skade doen aan iets wat so skaars soos hoendertande is nie. Daarom het ons die goedkoopste SJ410 gekoop wat ons kon kry sodat ons hom hard kon ry sonder om skuldig te voel.

Maar ’n stukkie van my het steeds gewonder of daai toer beter sou wees met ʼn LJ50 – die oorspronklike Jimny. En ja, hy het wel nie die naam Jimny gehad nie, maar daar is na hom verwys as ʼn Jimny. Toe Suzuki besig was om hom te bou het hulle na ʼn naam gesoek. Die enigste ander ernstige 4×4 in daai tyd was die Jeep, maar Suzuki se weergawe sou natuurlik kleiner wees. So toe kombineer hulle twee name. Jeep + Mini + Jimny. Nogal ’n lekker storie van ’n naam se oorsprong, nè? Klink soos iets wat iemand opgemaak het, maar die grootbaas in Japan het die storie bevestig.

Suzuki kon nie dat 2020 verbygaan sonder om ’n ordentlike, buitelug 4×4-ervaring van hul bekendste 4×4’s te doen nie. Die Jimny verdien om gevier te word, en gelukkig kon hulle ʼn manier kry om dit te doen – sonder om enige Covid-19-reëls te oortree. Gelukkig vir my het die uitnodiging my kant toe gekom. Nog beter as dit was die bewoording van die uitnodiging, wat dit duidelik gemaak het dat ons al vier generasies van die kar sou ry. Uiteindelik sou ek my kans agter die stuur van die LJ50 kry.

Daar was net een weergawe van elke kar beskikbaar, ons moes dus lootjies trek om te sien in watter volgorde ons die karre sou ry. Natuurlik wil mens begin by die begin, en dan elke opeenvolgende kar daarna. Raai wie het die lootjie getrek om te begin met die LJ50? Die dag kon nie beter nie. So lekker bonus aan die einde van ʼn lang jaar. Hier is ʼn kort opsomming van elke kar, in die regte volgorde, net soos ek hulle gery het.

Suzuki LJ50

Die LJ wat ons gery het, was nie die oorspronklike model van 1970 nie. Die 1970-model het maar ’n 360 cc-tweeslagenjin gehad. Ons het die 539 cc-driesilinder-tweeslag van latere jare gery, en dit was maar moeilik.

Die tweeslag se olie word met die petrol gemeng soos jy die versneller trap, en jy moet maar hard trap as jy enige vordering wil maak. Die koppelaar is ook die swaarste wat ek al ooit teëgekom het. Ek het jare terug ʼn handrat Ferrari 360 Modena gery, en sy koppelaar was nie eers so swaar nie.

So, om egalig weg te trek in ’n LJ vat jare se ervaring. Ek het maar die versneller hard getrap, soos die mense van Suzuki my aangemoedig het om te doen, en die koppelaar so vinnig as moontlik gelos. Die kar spring dan vorentoe, en dan moet jy maar net konstant jou voet op die versneller hou. As jy eers aan die beweeg is, is dit baie makliker.

Die LJ is nie gebou vir gemak nie. Dit was ʼn werkesel, daarom het hy swaardiens-bladvere voor en agter.

Sou ek eerder my avontuur in ’n LJ50 wou doen? Nee, nie eers ʼn klein bietjie nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek voel baie bevoorreg dat ek die kans gekry het om so ʼn puik voorbeeld van ’n ikoniese kar te ry, maar dit was harde werk.

Suzuki SJ413

Ek wil eers die SJ410 oorslaan, maar ons sal weer terugkom na hom toe. Die SJ413 is basies die SJ410, maar groter. Groter van buite, groter binne, en die grootste enjin wat in enige Suzuki van daai tyd beskikbaar was.

Die rede? Hulle wou ’n groter aandeel in die Amerikaanse mark hê. Vir jare sê mense al dat die SJ413 beter is as die SJ410, maar ek dink nie so nie. Om een of ander rede is dit die model waarby ek sukkel om aanklank te vind.

As jy objektief na die SJ410 en SJ413 kyk, is daar geen twyfel dat die SJ413 ’n beter kar is nie. Hy het meer krag gehad, ʼn vyfspoed-handrat, asook genoeg luukshede sodat jy vir die eerste keer regtig elke dag met die kar kon ry. Soos die moderne Jimny, kan jy baie maklik met die SJ413 saamleef. Ek verkies steeds die SJ410, maar meer daaroor later.

Suzuki Jimny JB43

Toe Suzuki weer in 2008 teruggekeer het Suid Afrika toe, was die JB43 Jimny een van die produkte wat vir hulle groot naam gemaak het. Die klein 4×4-tjie het baie vinnig vir groter, duurder 4×4’s begin ore aansit, en dit het nie lank gevat voor hy ’n groot groep aanhangers gehad het om hom te verdedig nie. Maak gereed, want ek het ’n omstrede stelling om te maak. Ek was nooit ʼn groot aanhanger van dié Jimny nie. Jy kon voel Suzuki het hard probeer om hom makliker te maak om mee te lewe van dag tot dag, maar daar was tog maar situasies waar die karretjie gesukkel het.

In die dorp en op ’n 4×4-baan was hy puik, maar op die lang pad was die kar uitputtend. Hy kon op die meeste net 110 km/h doen, die petroltenk was te klein, maar die ergste van alles was die padgeraas. Teen 110 km/h kon jy nie meer die radio hoor nie, selfs al het jy die volumeknop al die pad na links gedraai. Ek het jare terug na ’n dag op die N3 dié Jimny as “haatlik” beskryf, en my kollega het amper op sy rug geval. Ek bly by my standpunt. Op die snelweg op pad Sani-pas toe was dié generasie Jimny haatlik, maar as jy eers op die pas was… ʼn heel ander storie.

Suzuki het ook die kortstokkie vervang met knoppies vir 4H en 4L. Alhoewel dit deesdae maar die norm is, verkies hardebaard 4×4-manne en vroue steeds die kortstokkie. Ek dink dis ook hoekom die nuwe Jimny juis weer die kortstokkie het. Suzuki het besef dat dit ’n fout was.

Suzuki Jimny JB74

Die nuutste Jimny is ’n puik voertuig. Suzuki het die balans gevind tussen ’n hardebaard 4×4 en ’n luukse motor wat jy elke dag kan gebruik. Die nuutste Jimny doen maklik 120 km/h (selfs meer), maar jy kan die radio hoor. Hy’s ook toegerus met alles wat mens deesdae nodig het, en hy lyk fantasties. Geen wonder Suzuki sukkel om voor te bly met verkope nie, maar gelukkig is die waglys nou af na drie maande toe.

Ek het al baie avonture gehad in die nuwe kar, en ek is elke keer verbaas hoe maklik hy inpas in elke situasie. Ek het byvoorbeeld laasjaar in die duine gaan ry in Machangulo, Maputo, in spitsverkeer gesit en al die pad op die N4 Centurion toe gery in minder as 24 uur. Die nuwe Jimny het dit alles perfek hanteer.

Ek is ook bly ek het hom vir laaste gelos, want jy besef dan hoe ver die Jimny gekom het. Na die LJ-ossewa, het die nuwe Jimny soos ’n Bentley gevoel. Puik voertuig, maar nie my gunsteling nie.

SJ410

Ek weet baie mense gaan nie saamstem nie, maar die SJ410 is my gunsteling. As jy ʼn kar vir elke dag soek, is die nuutste Jimny die antwoord, maar as jy ’n 4×4-speelding soek, is die SJ410 tops.

Ek is mal oor die klein viersilinderenjin, wat so gretig is om hard gery te word. Die vierspoedratkas is een van die bestes wat ek nog ooit mee te doen gehad het, maar dit is die gevoel van die kar wat nou regtig my hart wen. Hy voel lig. Die ratverhoudings is perfek aangepas by die kar, en die geluid wat hy maak, kom uit ’n era voor regerings reg oor die wêreld begin inmeng het met sulke goed. Dis een van die lekkerste klanke om na te luister, veral as jy sonder die dak ry.

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek is baie bly dinge het aanbeweeg, maar vir my is die SJ410 ’n hoogtepunt. Nie net in die Jimny-reeks nie, maar as dit kom by karre oor die algemeen. Vir my is dit presies hoe ’n liggewig 4×4 moet voel, en omdat hy sonder enige elektroniese hulp kom, weet jy dat jy verantwoordelik is as jy iets fantasties doen in die kar.

Ek moet bieg dat my onlangse toer in ’n SJ410 ook ’n groot rol speel, maar karre soos die gaan maar oor emosie. Miskien is jou gunstelingkar een van die ander, juis omdat jy op ’n kol ook een of ander fantastiese avontuur afgelê het in een.

Ek dink wel ons kan almal saamstem dat die Jimny verdien om gevier te word. Hopelik is dit ’n naam wat vir nog 50 jaar saam ons sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.