Verbruikersake: Jou keuses vir motorherstelwerk vanaf 1 Julie

motor-herstelwerk-kar-probleme

Foto: Fancycrave/Pexels.com

Die Mededingingskommissie se riglyne vir Mededinging in die Suid-Afrikaanse Naverkopemark wat werk aan jou voertuig kan reguleer, tree in werking op 1 Julie. Die naam van die riglyne is al klaar verwarrend en verbruikers vind dit nie altyd so maklik om sin te maak daarvan nie. Ina Opperman het ʼn webinaar van die kommissie bygewoon waar die werking van die riglyne vir verbruikers duidelik gemaak is en vertel meer.

Die belangrikste kwessie vir verbruikers met die toepassing van die riglyne is dat dit nie verpligtend is nie. Dit is net riglyne en nie wet nie en jy kan steeds dieselfde keuses maak as wat jy tot nou toe gemaak het. Jy moet egter onthou dat keuses wat jy ingevolge die riglyne maak, gevolge inhou en jy moet ook die gevolge in ag neem wanneer jy besluit.

Voertuigherstelwerk

  • Indien jy ʼn onafhanklike diensverskaffer (ODV) gebruik wanneer jou motor nog onder waarborg is, bestaan die risiko dat die vervaardiger se waarborg, of dele daarvan, gekanselleer kan word.
  • Die vervaardiger of handelaar kan die waarborg, of dele daarvan, kanselleer as hulle kan bewys dat die skade die gevolg is van werk wat die ODV gedoen het.
  • Indien die vervaardiger of handelaar beweer daar is fout met jou motor weens werk wat die ODV gedoen het, moet hulle die voertuig ondersoek op hul eie koste om die oorsaak te bepaal.
  • Indien die fout of skade nie deur die ODV veroorsaak is nie, moet die vervaardiger of handelaar die waarborg nakom.
  • Jy sal nou ʼn diensverskaffer kan kies, maar indien jy ʼn ODV kies terwyl die motor onder waarborg is, is die vervaardiger of handelaar nie vir die koste verantwoordelik nie. Jy moet self vir die diens betaal.
  • Indien jy versekeringsdekking het, moet jy die werkswinkel gebruik wat deur jou versekeraar aangewys word en wat deur die vervaardiger goedgekeur is.
  • Die meeste ODV’s is verseker vir aanspreeklikheid.

Onderdele

  • Jy kan kies tussen oorspronklike en nie-oorspronklike onderdele by ʼn diensverskaffer van jou keuse.
  • Jy kan nie-oorspronklike onderdele koop vir jou motor onder waarborg van ODV’s.
  • Jy kan ook oorspronklike onderdele koop by ODV’s wat van handelaars verkry is.
  • ODV’s sal ook toegang hê tot die koderingstelsels van motorvervaardigers, behalwe kenmerke wat te doen het met veiligheid, indien hulle registreer by die bepaalde vervaardigers van oorspronklike toerusting (OTV’s) en aan hul vereistes voldoen.
  • Jy moet egter onthou dat, indien jy onderdele laat installeer deur ʼn ODV gedurende die waarborgperiode, die risiko bestaan dat die vervaardiger se waarborg of dele daarvan gekanselleer kan word.
  • Die vervaardiger of handelaar kan die waarborg of dele daarvan kanselleer indien hulle kan bewys dat skade toegeskryf kan word aan die ODV wat die onderdele gebruik het.

Onderhoud- en diensplanne

  • Jy kan ʼn onderhoud- en diensplan saam met jou motor koop, of afsonderlik by ʼn gelisensieerde verskaffer, onder wie onafhanklike of derdepartyverskaffers.
  • Jy kan kies om nie die planne vir jou motor en enige ander produkte wat waarde toevoeg, saam met jou motor te koop nie.
  • Handelaars moet vir jou die werklike prys van die motor gee en die prys van die onderhoud- en diensplan afsonderlik.
  • Jy kan kies om die onderhoud- en diensplan van enige diensverskaffer te koop, onder wie derdepartyverskaffers of die handelaar.
  • Indien jou motor afgeskryf word in ʼn ongeluk, kan jy ʼn terugbetaling eis vir die planne, of vra dat die balans oorgedra word na jou nuwe motor.

So kies jy ʼn ODV

  • Maak seker dat die ODV die nodige vaardighede en inligting het om aan jou motor te werk.
  • Kies ʼn ODV met opgeleide personeel.
  • ODV’s kan kies om te registreer by ʼn bepaalde OTV om toegang te kry tot sy tegniese inligting, soos motordiensboeke, tegniese handboeke, inligting oor onderdele en diagnostiek, bedradingsdiagramme en sagteware, sowel as inligting oor sekuriteit vir toegang tot motors se sekuriteitstelsels, wat kodering, programmering, sagteware en veiligheidstelsels insluit.
  • ODV’s moet jou inlig hoeveel werk sal kos vir motors onder waarborg.
  • Jy moet seker maak of die ODV genoeg versekeringsdekking het om die werk te doen.
  • Jy moet die ODV vra oor die risiko om onderdele te gebruik wat die waarborg kan kanselleer.
  • Vra ook die ODV om herstelwerk onder die waarborg en dienste in jou diensboekie aan te teken.

Waar om te kla

Jy moet eers die interne klagteprosedure by die diensverskaffer volg. Indien jou klagte nie opgelos word nie, kan jy kla by die Ombudsman vir die Motorbedryf (www.miosa.co.za) of die Nasionale Verbruikerskommissie (www.thenct.org.za).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pierre ·

Hier kom `n stormloop van vervaardigers wat waarborge gaan kanseleer om verbruikers te dwing om buitensporige tariewe te betaal vir dienste.

VaalDonkie ·

Joke’s on them: ek koop net tweedehands en dan koop ek apart ‘n verlengde waarborg by ‘n instansie soos MFS or Motorite of wie ookal. Daai ouens gee nie om nie, solank die werkswinkel net by die RMI geregistreer is.

andre ·

Wat sal die rede wees vir hierdie komplekse prosedure van motors koop en verkoop ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.