Verbruikersake: Leer hierdie lesse oor gebruikte motors

Foto: Pixabay

Die ombudsman vir die motorbedryf het onlangs sy jaarverslag uitgegee en verskeie probleme waarmee hy die afgelope jaar te doen gekry het, uitgelig. Verbruikers weet lankal dat gebruikte motors probleme kan gee en die Wet op Verbruikersbeskerming en die gedragskode vir die motorbedryf is juis daarop gerig om hierdie probleme hok te slaan. Ina Opperman het gaan kyk wat verbruikers uit hierdie voorbeelde kan leer.

Min mense kan deesdae ʼn splinternuwe motor bekostig en koop gevolglik liewer ʼn gebruikte motor. Dit is ongelukkig soms waar dat waar jy die voordeel van prys kry, jy iemand anders se probleme kan koop. As jy egter weet wat jou regte is, kan jy na alle waarskynlikheid keer dat jy dieselfde paadjie as die volgende paar ontevrede kopers van gebruikte motors loop.

As die motor vyf maande later breek

ʼn Verbruiker het gekla oor die gebruikte motor wat hy by ʼn handelaar gekoop het wat vyf maande later gebreek het. ʼn Onderdeel het ophou werk en dit het baie skade aan die enjin veroorsaak, met herstelwerk wat R392 253,50 sou beloop.

Volgens ʼn verslag was daar geen nalatigheid aan die kant van die handelaar nie en die handelaar was gewillig om R10 000 tot die herstelwerk by te dra. Die verbruiker het gedurende die vyf maande na die aankoop van die motor 6 000 kilometer daarmee gery.

Die ombudsman het egter bepaal dat die handelaar ingevolge artikel 56(2) van die wet die motor moet herstel aangesien dit steeds onder die ses maande waarborgtydperk was. Die verbruiker het toe verkies om hierdie roete te volg.

Kansellasie van kooptransaksie

Nadat ʼn verbruiker ʼn gebruikte motor gekoop het, het sy gevra dat die handelaar die battery moet vervang, wat toe op die handelaar se koste gedoen is. Sy wou daarna die verkoopstransaksie kanselleer, maar die handelaar het geweier.

Die ombudsman het bevind dat die handelaar in ooreenstemming met artikel 56(2) van die wet opgetree het deur die motor se battery gratis te vervang en daarom het die verbruiker geen reg gehad om later die transaksie te kanselleer nie.

Alle foute moet herstel word

Nog ʼn verbruiker het gekla omdat die handelaar nie al die foute aan die gebruikte motor wat hy gekoop het, herstel het nie. Die handelaar het belowe om die oorblywende foute reg te stel, maar het nie sy belofte nagekom nie.

Die handelaar het ook ongevraagde herstelwerk en verbeterings aangebring, en ten spyte daarvan dat die motor gereeld na die werkswinkel toe moes teruggaan, was dit steeds vol probleme.

In hierdie geval het die ombudsman die handelaar opdrag gegee om die motor op sy eie onkoste te gaan haal, die transaksie te kanselleer en die verbruiker se geld terug te gee in terme van artikel 56(3) gelees saam met artikel 20(6) van die wet.

Motor breek weens swak bestuurstyl?

ʼn Baie vies verbruiker het gekla dat die gebruikte motor wat hy gekoop het ses weke later gebreek het. Volgens die handelaar was die oorsaak daarvan die manier waarop die motor bestuur is en het hy daarom nie geglo dat hy onder verpligting is om te help nie.

ʼn Onafhanklike ondersoek het gewys dat die enjin weens ʼn interne olietekort gebreek het, wat ontstaan het vóórdat die motor aan die verbruiker oorhandig is. Die ombudsman het aanbeveel dat die handelaar in terme van artikel 56 van die wet die transaksie kanselleer, maar wel die verbruiker laat betaal vir die tyd wat hy die motor in sy besit gehad het.

Artikel 56

Artikel 56 van die Wet op Verbruikersbeskerming handel oor die verswygde waarborg van gehalte op alle goedere wat deur verbruikers gekoop word. Volgens hierdie artikel is daar ’n verswygde bepaling dat die handelaar waarborg dat die motor aan die vereistes van artikel 55 voldoen.

Die verbruiker kan ʼn motor binne ses maande sonder boete, op die verskaffer se onkoste en risiko, aan die handelaar teruggee indien dit nie aan die vereistes en standaarde van artikel 55 voldoen nie. Die handelaar moet ook die gebrekkige, onveilige of defektiewe goedere herstel of vervang, of die prys wat die verbruiker vir die goedere betaal het aan die verbruiker terugbetaal.

Indien die handelaar nie die motor herstel nie en daar is steeds na drie maande fout, moet hy die motor vervang of die verbruiker se geld terugbetaal.

Artikel 55

Hierdie artikel handel oor jou reg op ʼn veilige motor van goeie gehalte, maar is nie van toepassing op ʼn motor wat jy op ʼn veiling koop nie. Jy het die reg om ʼn motor te ontvang wat redelikerwys geskik is vir die oogmerke waarvoor jy dit in die algemeen koop.

Die motor moet van goeie gehalte wees, in ʼn goeie werkende toestand en vry van enige defekte, asook bruikbaar en duursaam vir ʼn redelike tydperk met inagneming van die gewone gebruik daarvan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wielspore ·

Puik artikel, vir baie jare het verbruikers swaar getrek onder “groot besigheid boelie” en te danke aan verbruikers wette en die ombudsman het die wiel ten gunste van die verbruiker gedraai.

Annamarie ·

Ongelukkig het die Ombudsman niks gedoen, toe n skelm verkoopsman, ons belieg het oor n tweedehandse bakkie. Die bakkie was voorheen in n ongeluk, en is afgeskryf, maar “MNR” verkoop dit as n Goeie tweedehandse bakkie!!!! Die saak is by die Ombudsman geraporteer, en toe het Niks gebeur. Weet nie om Mnr Verkoopsman weer onderduims ook daarmee te doen het.

VaalDonkie ·

So koop ek ‘n Subaru Forester. Goeie prys en als. Sommer met ‘n stukkende “head gasket”. Probleem met Subaru’s is dat dit nie sommer ‘n maklike joppie is om reg te maak nie en dit kos my toe R38 000 (R17000 daarvan was wel vir ‘n nuwe koppelaar en ‘n paar klein goedjies terwyl die enjin in elk geval moes uitkom en dus goedkoper sou wees om sommer te doen). Ek het darem toe na ‘n lang bakleiery reggekry DMV die wet dat die handelaar die onkostes dek.

Nogal jammer, want ek ry nou al 6 jaar lank met die kar. En hy’s nou al 14 jaar oud en nog geen verdere probleme nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.