Verbruikersake: Leer uit ander se foute met motorversekering

motorsleutels

(Argieffoto)

Dit is uiters belangrik om seker te maak jy vertel absoluut die waarheid wanneer jy jou motor verseker en dat jy streng hou by die voorwaardes van die polis. Andersins kan dit jou baie duur te staan kom as iets met jou motor gebeur. Die belangrikheid hiervan is nou weer duidelik gemaak in die Ombudsman vir Korttermynversekering se jaarverslag oor klagtes wat verbruikers oor motorversekering ingedien het. Ina Opperman het gaan kyk wat verbruikers kan leer daaruit.

Wanneer jy ’n motor op skuld koop, word van jou vereis om dit te verseker sodat jy die bank kan terugbetaal indien iets daarmee gebeur. Indien jou eis egter afgewys word, is jy steeds verantwoordelik vir die geld wat jy die bank skuld én jy sit sonder wiele. Dit is dus duidelik dat jy alles moet doen wat jy kan om seker te maak dit gebeur nie met jou nie.

Die gereelde bestuurder

Die klagte: Die verbruiker het gekla dat sy versekeraar nie sy eis wil uitbetaal nadat iemand agter in sy motor vasgery het nie. Die versekeraar wou nie uitbetaal nie omdat die verbruiker nie korrek aangedui het wie die gereelde bestuurder gaan wees nie. Die verbruiker het aangedui sy pa is die gereelde bestuurder. Die versekeraar het egter gevind dat die motor by ’n vorige versekeraar verseker is met die verbruiker as gereelde bestuurder, terwyl iemand wat die verbruiker ken, gesê het hy is die enigste een wat die motor bestuur het. Die buurman het egter gesê die verbruiker ry omtrent nooit met die motor nie. Volgens die versekeraar sou die verbruiker ’n hoër premie betaal het as hy die gereelde bestuurder was.  Sy pa het ook bevestig dat die verbruiker se werkgewer gesorg het vir sy vervoer werk toe en terug.

Die ombudsman se antwoord: Die persoon wat die verbruiker ken, woon nie naby hom nie en kan dus nie elke dag sien waarmee hy ry nie. Die feit dat die verbruiker by ’n ander versekeraar aangedui is as die gereelde bestuurder, was ook nie genoeg bewys dat hy steeds die gereelde bestuurder is nie. Die ombudsman het daarom die weiering van die verbruiker se eis omgekeer en aanbeveel dat die versekeraar die eis betaal, wat toe gedoen is.

Vorige veroordelings vir dronkbestuur

Die klagte: Nog ’n verbruiker het gekla omdat die versekeraar nie haar oorlede man se eis vir ’n motorongeluk wou uitbetaal nie. Die versekeraar wou nie betaal nie omdat hy vasgestel het dat die man nie belangrike feite openbaar gemaak het toe hy vir die polis aansoek gedoen het nie. Volgens die versekeraar het die man nie aangedui dat hy aangekla is van dronkbestuur in 2011 en 2014 nie, al is hy gevra of dit al gebeur het.

Die ombudsman se antwoord: Die ombudsman het nie met die versekeraar saamgestem nie omdat ’n eis net op hierdie gronde geweier mag word indien die versekeraar ’n werklike plig op die verbruiker geplaas het deur ’n bepaalde vraag te vra. Die versekeraar moet ook bewys dat die verbruiker se antwoord ’n werklike wanvoorstelling was. Die ombudsman het na die verkoopsgesprek geluister en gehoor die verkoopspersoon het gevra of daar iemand is buiten die verbruiker self wat gewoonlik die voertuig bestuur en al gevonnis is vir enige bestuursoortreding of wie se lisensie opgeskort is. Die verbruiker het gesê nee en die verkoopspersoon het nie verder vrae daaroor gevra nie. Die ombudsman het gevind die vraag sluit die verbruiker self uit en hy is nie direk gevra of hy al skuldig bevind is nie. Die ombudsman het aanbeveel dat die versekeraar die eis betaal en die versekeraar het dit gedoen.

Bestuur sonder ’n rybewys

Die klagte: ’n Verbruiker het gekla omdat haar eis vir skade aan haar motor en goedere wat daaruit gesteel is gedurende ’n poging om dit te kaap, afgewys is. Haar lewensmaat, wat nie ’n rybewys het nie, het die motor bestuur toe die kapers toegeslaan het. Die versekeraar het haar eis afgewys omdat vasgestel is dat haar lewensmaat nie ’n geldige rybewys gehad het nie en die polis duidelik onder uitsluitings aandui dat dekking opgeskort is wanneer iemand wat nie ’n rybewys het nie, die motor bestuur. Die verbruiker het geglo die feit dat haar lewensmaat nie ’n rybewys het nie, niks te doen het met die poging tot kaping nie. Sy het ook gesê haar lewensmaat moes bestuur omdat sy ’n mediese noodgeval gehad het. Hy moes ook ’n vergadering bywoon nadat hy by die apteek was. Die versekeraar het hierop geantwoord dat dit nie ’n mediese noodgeval kon wees as haar lewensmaat nog eers ’n vergadering bygewoon het nie.

Die ombudsman se antwoord: Al het die feit dat dit ’n poging tot kaping was niks te doen met die feit dat die verbruiker se lewensmaat nie ’n rybewys het nie, het die ombudsman saamgestem met die versekeraar dat die dekking opgeskort is die oomblik toe sy vir hom die sleutel gegee het. Dit kon wel anders gewees het as daar regtig ’n mediese noodgeval was, maar die feit dat die lewensmaat eers ’n vergadering bygewoon het, wys dit was nie. Die ombudsman het bevind dat die versekeraar binne sy regte opgetree het om die eis af te wys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.