Verbruikersake: Motorhandelaar gestraf

motor-herstelwerk-kar-probleme

Foto: Fancycrave/Pexels.com

Ondernemings wat weier om verbruikers se regte te respekteer, doen dit dikwels omdat hulle meen daar sal geen negatiewe gevolge vir hulle wees nie. ʼn Motorhandelaar van die Wes-Kaap het egter agtergekom dat ʼn mens verbruikers se regte in terme van die Wet op Verbruikersbeskerming moet respekteer as jy nie jou sak hard wil skud nie. Ina Opperman vertel wat gebeur het.

ʼn Verbruiker van Kuilsrivier, Hanlie van Lill, het ʼn gebruikte motor by Western Motors CC gekoop, wat vyf dae nadat sy dit ontvang het, gebreek het. Die handelaar het egter geweier om te help en selfs ʼn klagte by ʼn ombudsman het nie gehelp om haar klagte op te los nie. Van Lill het geen geleentheid gekry om volgens die wet te kies om die motor te laat herstel of vervang of om haar geld terug te kry nie.

“Die klagte is op die ou end na die Nasionale Verbruikerskommissie verwys. Nadat ons self met die handelaar in verbinding getree het om hom die kans te gee om die klagte op vriendskaplike wyse op te los, het ons besluit om nader ondersoek in te stel,” sê Ebrahim Mohamed, verbruikerskommissaris.

Die ondersoek het gewys dat die motorhandelaar die wet op verskeie plekke oortree het en die kommissie het die klagte na die Nasionale Verbruikerstribunaal verwys. Die tribunaal het bevind dat die motorhandelaar wel die wet oortree het en dus beveel dat hy die volle bedrag wat Van Lill betaal het, R61 450, aan haar terugbetaal.

Die tribunaal het ook die motorhandelaar ʼn administratiewe boete van R100 000 opgelê vir oortreding van die wet. Volgens artikel 56 van die wet het alle goedere ’n versweë waarborg dat die goedere aan die vereistes en standaarde van artikel 55 voldoen. Verbruikers kan goedere binne ses maande teruggee indien dit nie aan die vereistes en standaarde van artikel 55 voldoen nie.

Die verskaffer moet dan die gebrekkige, onveilige of defektiewe goedere herstel of vervang of die verbruiker se geld teruggee.

Volgens Mohamed moet verskaffers van goedere en dienste aan verbruikers hieruit leer dat dit beter is om verbruikersklagtes op te los deur middel van ombudskemas, omdat hulle ʼn belangrike rol vervul in die stelsel om klagtes op ʼn vriendskaplike wyse op te los.

“Indien ʼn verskaffer van goedere of dienste nie gehoor gee aan die aanbevelings van ʼn geakkrediteerde ombudsman nie, kom die klagte direk na die kommissie toe en ons moet dan ondersoek instel en die klagte na die tribunaal verwys indien die verskaffer nie aan die bepalings van die wet voldoen nie,” sê hy.

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake. Besoek die Nasionale Verbruikerskommissie se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Verlepte botterblom

Wens daar iets met my klagte gebeur. Ek is gedreig en moes op facebook sien ek was nie die enigste een nie…. Die ombutsman sou te lank gevat het, want die plaaslike verbruikers kantoor kon my nie direk help nie. Ek moes noodgedwonge die kar teen ‘n verlies verkoop(stukkend) om net iets weer te kon koop anders sit ek sonder vervoer. Ek moes ook dus skuld aangegaan het om darem weer iets te kon bekostig. Probleem is nie almal van ons het geld wat ons kan mors nie. Ons spaar ‘n paar jaar aan R60 000. Hulle moet die ombutsman… Lees meer »

Veritas

‘n Oneerlike motorhandelaar? Nooit! Ek glo dit nie!

Hans Potgieter

Ek het op 14 September 2017 ‘n klagte aan die National Consumer Comm ge-mail. Nogal na die adres op hulle webtuiste en tot op hede geen reaksie gevind. Nou waarheen nou?

Anoniem

Ek het my voertuig ook by ‘n bekende voertuig handelaar gekoop. Ek het R170 000 vir my voertuig betaal waar ek al vanaf 2015 besig is met die Ombudsman. Na n jaar wat ek die voetuig gehad het, het my kar se verf begin afdop en die dak begin oop kraak. Het verskeie kere teruggegaan na die handelaar. Ek het 3 weke teruggegaan en maarself geld gevat om my voertuig te laat regmaak. Die paneelklopper wat tans besig is met my kar het my laat weet dat die dak van die voertuig bestaan net uit “body putty” en dat die… Lees meer »

anton

Dit is hoekom ek verkies om nuut te koop en as ek nie kan nie en n gebruikte voertuig koop, koop ek dit liewer privaat by die eienaar self wat gewoontelik darm eerlik is oor alles.
En natuurlik weet ek dan ook wie die vorige eienaar was wat vir my baie belangrik is. By n handelaar weet jy nooit wie het voorheen die voertuig besit nie.