Verbruikersake: Motorversekering as plan B

motorsleutels

(Argieffoto)

Mens verseker jou motor sodat jy ʼn plan B het indien jou motor gesteel of beskadig word, maar soms is jou plan B nie goed genoeg nie omdat jy nie al die reëls nagekom het nie. ʼn Leser het juis onlangs gevra of sy versekeraar die reg het om sy eis te weier omdat hy nie sy motor binne die spertyd as gesteel aangemeld het nie. Ina Opperman het gaan kyk na hoe jy die reëls moet nakom om seker te maak dat jy nie sonder ʼn motor sit wat jy nog boonop moet afbetaal nie.

Dit bied jou finansiële gemoedsrus as jy al jou waardevolle goed, soos jou motor, verseker teen verlies of skade, maar as jy nie jou deel van die ooreenkoms nakom nie, het die versekeraar die reg om jou eis af te wys en jy sal nie veel daaraan kan doen nie.

Dit is presies wat met die leser gebeur het: Hy het hom nie vergewis van die voorwaardes van sy polis nie en daarom het hy nie geweet dat hy dit binne ses uur moet aanmeld indien sy motor gesteel is nie.

Volgens die Ombudsman vir Korttermynversekering kan verbruikers hulle baie maklik in ʼn posisie bevind waar hul versekeringspolisse waardeloos is as hulle nie vooraf seker maak van die voorwaardes nie.

Voorwaardes vir motorversekering

Daar is verskeie voorwaardes wat jy moet nakom om suksesvol te eis wanneer jy jou motor verseker, soos om die korrekte inligting te verskaf oor wie die motor gereeld gaan bestuur, dadelik jou adres te verander wanneer jy trek, jou motor vir sake te gebruik wanneer dit nie daarvoor verseker is nie, veranderings aan jou motor aan te bring sonder om jou versekeraar te verwittig en om jou eis aan te dik.

Wie bestuur?

Jou versekeraar sal jou motor verseker op grond van die risikoprofiel van die bestuurder. Die gereelde bestuurder is die persoon wat dit die meeste in ʼn maand gaan bestuur. Die gereelde bestuurder se ouderdom, versekerings- en eisegeskiedenis, beroep en hoe lank die bestuurder ʼn geldige bestuurderslisensie het, word in ag geneem wanneer die versekeraar besluit om jou motor te verseker en hoeveel dit gaan kos.

Die premie vir ʼn middeljarige vrou wat van die huis af werk en oor die afgelope drie jaar geen skade gehad het nie, sal uiteraard minder wees as ʼn seun van 18 wat nou net sy lisensie gekry het en al klaar in ʼn ongeluk betrokke was.

Daar is ouers wat hul kinders se motors op hul ouers se risikoprofiel verseker, maar wees verseker: As jy nie die waarheid praat nie, sal jou kierankies braai en die versekering sal nie uitbetaal nie.

Terwyl sommige polisse net uitbetaal as slegs die persoon wat gespesifiseer is, bestuur het, sal ander dekking verleen as die ander bestuurder ouer as 21 is of al langer as twee jaar ʼn lisensie het. Dit is egter jou verantwoordelikheid om te sorg dat jy weet wat jou polis bepaal en daarby te hou.

As jy trek

Wanneer jy verhuis of ʼn nuwe werkplek kry, moet jy seker maak dat jy dit dadelik by jou versekeraar aanmeld. Jou versekeraar neem ook in ag waar jy bly en waar jy werk om jou risikoprofiel te bepaal.

Is daar byvoorbeeld ʼn gevaar van vloede by jou huis of werkplek? Kan jou motor dalk maklik in ʼn brand beskadig word? Wat is die misdaadstatistieke daar? Word jou motor in ʼn toesluitmotorhuis oornag gelaat en parkeer jy in ʼn parkeergarage bedags? Onthou, groter risiko beteken jy gaan meer betaal, maar as jy nie eerlik is nie, sal jou versekeraar nie jou eis uitbetaal nie.

As jou motor saam met jou werk

Versekeraars beskou jou risiko as groter wanneer jy jou motor gebruik vir werk, veral as jy baie rondry, aangesien jou kans groter is om byvoorbeeld in ʼn ongeluk betrokke te wees of gekaap te word.

Dit is waar of jy nou vir jouself werk of vir ʼn maatskappy. Die beste raad is om eerlik te wees en jou eis uitbetaal te kry, al kos dit maandeliks ʼn bietjie meer.

As jy jou motor ʼn bietjie laat spoed optel

Die meeste motorversekeringspolisse stel dit duidelik dat jy moet praat as jy jou motor laat verander om vinniger te ry. Praat dus liewer met jou versekeraar voordat jy dit doen of so ʼn motor koop.

Moenie jou verlies aandik nie

Jy sal dalk voel jy wil ʼn bietjie meer uit jou skade kry, want jy betaal mos elke maand ʼn klomp geld vir versekering. Dis egter altyd ʼn slegte idee. Versekeringsmaatskappye het hele departemente wat net daaraan werk om vas te stel of jou eis ingestel is vir skade wat jy werklik gehad het.

Selfs al vertel jy net nie die waarheid oor ʼn selfoon wat saam met jou motor gesteel is nie, sal jou versekeraar daarvan te wete kom en jou hele eis vir motor en selfoon afwys. Wees liewer eerlik en vat wat jou toekom.

Kla by die Ombudsman vir Korttermynversekering op die webwerf www.osti.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wielspore ·

Ek betaal al sederd 1979 omvattende voertuigversekering en na my mening trek die verbruiker die korste end. Daar is soveel termes en voorwaardes wat net die versekeraar beskerm. Ons betaal te veel aan voertuig verekering in SA omdat voertuig versekering nie verpligtend is soos in ander lande. Na my mening moet versekering deel van padwaardigheid uitmaak, as jou voertuig nie verseker is mag jy nie op ‘n openbare pad met hom ry. Vergroot die geld pot van voertuig versekering kostes na alle pad gebruikers.
Lekker ry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.