Verbruikersake: Oppas vir insleepdienste

Foto: Pixabay

Mense wat in motorongelukke betrokke is, is gewoonlik daarna so geskok dat hulle nie helder kan dink nie. En dit is net dan wanneer die insleepdienste toeslaan en jou vinnig laat teken om jou motor weg te sleep. Onder die indruk dat die insleepdiens “goedgekeur” is deur jou versekeraar, teken jy – net om later te hoor dat jy duisende rande skuld aan stoorkoste vir jou motor wat toe nie na die duikklopper ingesleep is nie, maar na die insleepdiens se perseel. Ina Opperman verduidelik waarvoor jy moet ligloop en wat jou regte is.

Mense wat pas in ’n ongeluk betrokke was, wil net so gou as moontlik hul motors van die toneel verwyder en by die huis of die hospitaal uitkom. Hulle het nie lus om te stry met ’n klomp insleepdienste wat wedywer om hul motors in te sleep nie. Dis baie makliker om net gou die vormpie te teken en een bekommernis minder te hê.

Dit is ongelukkig so dat insleepdienste nie ’n goeie reputasie het nie weens insleepdienste wat gewoonlik nie aan ’n bedryfsvereniging behoort nie wat motors insleep en dan stoorkoste eis. Verbruikers wat in ongelukke betrokke is, moet egter nie gedwing word om dadelik ondeurdagte besluite te neem oor wie hul motors gaan insleep nie. As verbruiker bly dit jou reg om te kies wie jou motor gaan wegsleep.

Hoewel daar al dekades lank probeer word om insleepdienste te reguleer, kan enigiemand volgens Arrive Alive steeds ’n eentontrok koop, dit laat ombou in ’n insleepvoertuig en begin sake doen. Verbruikers word wel beskerm deur die Nasionale Padverkeerswet.

Volgens artikel 61(3) mag niemand ’n voertuig verwyder wat in ’n ongeluk betrokke was nie, behalwe om die verkeer te laat vloei, sonder die toestemming van die eienaar of bestuurder of iemand wat wetlik eienaarskap van die voertuig kan oorneem nie.

Dit is egter ’n feit dat insleepdienste hulle nie altyd aan die wet steur nie en daarop staatmaak dat verbruikers maar die stoorkoste sal betaal net om hul motors terug te kry. Jy kan egter die volgende wenke gebruik om seker te maak jy trap nie maklik in hierdie strik nie:

  • Indien jou motor verseker is, stel vas watter prosedure jy moet volg wanneer jy in ’n ongeluk beland. Hou hierdie inligting in jou motor sodat jy dit byderhand het in ’n noodgeval. Daar is gewoonlik ook ’n nommer wat jy enige tyd van die dag kan bel vir bystand.
  • Jou versekeraar betaal gewoonlik vir die insleepdiens.
  • Maak seker dat jou motor wel by die goedgekeurde duikklopper afgelaai is.
  • Indien jou motor nie verseker is nie, maak seker dat die insleepdiens lid is van SATRA of UTASA. Lede moet hou by ’n gedragskode en die vereniging sal bemiddel as jy ’n probleem het.
  • Indien jou motor nie verseker is nie, sorg dat dit so gou as moontlik afgehaal word by die insleepdiens om stoorkoste te vermy.
  • Maak seker voordat jy enigiets teken, hoeveel dit gaan kos om die motor in te sleep en te hou totdat jy dit kan gaan haal.
  • Sorg dat jy soveel as moontlik inligting van die insleepdiens kry, soos die naam van die insleepdiens, die naam van die insleepoperateur, die registrasienommer van die insleepvoertuig, straatadres van die insleepdiens en die landlyntelefoonnommer.
  • Moenie enigiets teken voordat jy dit gelees het nie en maak seker jy teken net om die motor te laat wegsleep.
  • Maak ook seker dat die hele vorm ingevul is en dat daar nie enige oop spasies is waar iemand nog iets kan invul nie.
  • Onthou om alles van waarde uit die motor te haal voordat dit weggesleep word.
  • Moenie die insleepoperateur toelaat om jou versekeraar namens jou te bel nie.
  • Kry plakkers wat lui “Do not tow” en plak dit op jou motor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Natasha ·

Asseblief bly weg van First Help – hulle slaat jou met ‘n release fooi van R12000 – 5 ure na die ongeluk……. en dan is die kar nie eers ver gesleep nie

Ursula ·

Natasha , selfde bloutjie met hulle geloop. Dit wat gese was op die toneel en wat hulle nou doen is twee verskillende dinge, Mens is so gerattle na die ongeluk jy waardeur die hulp en dan kom die rekening. First Help is niks anders as skelms wat mense in doen .

Pierre ·

Ek is in die versekerings bedryf, en dit is kommerwekkend as mens sien watse “kamitige” kostes hulle forendag mee kom. Beste van als is hulle word deur niemand gereguleer soos res van werêld nie…

Ursula ·

Pierre jy sal lag. R 5800.00 vir die sleep, dan is dit en dat. Tot gelde vir die wag .. rerig nee dis pateties.

HPV ·

Voor mens enige besigheid met ‘n besigheid doen “google” die naam in op “Hello Peter”

magda ·

@HPV so ek gaan nou op n ongeluk sê …. wag n bietjie ek gaan net eers julle naam google

koos ·

Bel eerste jou makelaar of versekering. Hulle sal gewoonlik kosteloos help om die regte mense by jou uit te kry. As hulle nie wil help nie, is dit tyd om hulle “diense” te heroorweeg.
Ek help, uit die aard van my werk, ook somtyds op ongelukstonele, en sê altyd vir die bestuurders om niks te teken of te doen voordat hulle versekering nie uitsluitsel gegee het nie.

Herma Koch ·

Ek het self ‘n bloutjie gekoop en R7500 later kon ek my kar agter slot en grendel gaan haal. First Help help jou in ‘n finansiële verknorsing in!! OPPAS!!

corne ·

Ek het een keer die persoon gese jy kan sleep maar skryf bo aan my versekering is by julle goedgekeur en betaal al die koste toe sing hy ander storie

c_me ·

ten minste weet ‘n mens hulle is blitsvinnig by jou. die polisie/verkeer/ambulaans dog mos maar so effe later op, lol

Ek verwonder. ·

Jare gelede ry n persoon van agter teen my voertuig vas en n baie prominente insleepdiens in Pretoria sleep my voertuig onder groot beloftes weg na n goedgekeurde “paneelklopper” vir n herstel kwotasie. Die voertuig word egter na hul eie perseel gesleep en afgelaai. Lang storie kort te maak, “wag hulle vir kwotasies” en nog baie ander stories oor parte beskikbaarheid ensovoorts elke keer wanneer ek navraag doen. Hulle vra my uiteindelik soveel stoorgeld dat die bedrag meer is as wat die motor werd is. Hulle oorreed my egter om die voertuig vir hulle te gee dan skryf hulle alle stoor kostes af en noodgedwonge maak ek maar só weens finansiele omstandighede . Verbaas was ek skaars ses weke later daag daai betrokke drywer van die insleepdiens nogals by my adres op en kom spog hoe mooi my ou motor nou lyk. Kom daarop neer hy het dieselfde motor gehad maar n beter bakwerk en ander parte gekort om hom te herstel. Ek besef toe hoe ek gekul is deurdat hulle vir tyd gespeel het om die kostes op te jaag want die man was agter die voertuig aan! Ek het maar sleg gevoel. n Paar maande later was die man in n botsing betrokke met dieselfde voertuig en verloor sy arm in die proses…toe voel ek nie meer so sleg nie.

LouE ·

Soms het hulle ‘n selfoon ‘jammer’ waarmee hulle voorkom dat jy jou mense of versekering kan skakel. Ek het al self gesien hoe hulle ‘n motor wat in ‘n ligte aanstoting was se sleutels ongemerk vat om te voorkom dat die bestuurder van die toneel af wegry.

Dorothy ·

My skoonseun het ‘n paar jaar gelede selfmoord gepleeg in hul huis in die aand. Die polisie het Niemand in die huis toegelaat nie behalwe die paramadici. Die volgende oomblik stop 3 insleepwaens voor die huis, gaan die huis binne en die ligte van die huis word aangeskakel. My ander skoonseun het kapsie gemaak maar toe alles tot ruste gekom het was albei die motors se sleutels waaraan die veiligheidshekke se sleutels was weg, tot vandag toe. Ons moes die volgende dag met al die hartseer al die slotte vervang. Hulle is ‘n klomp aasvoels.

DWS ·

Daar is goeie rede hoekom hulle as AASVOëLS bekend staan…..

Wielspore ·

Hou jou versekeraar se nood nommer op jou selfoon, dit gaan jou baie pyn spaar. Ons was in ‘n motor ongeluk gedurende die nag tussen twee dorpe. Dit was ‘n enkelvoertuig ongeluk nadat ‘n wildsbok voor die voertuig ingehardloop het. Die skade was van so ‘n aard dat die voertuig nie kon verder ry. Ek het die versekeraar se nood nommer geskakel, die persoon het my besonderhede geneem en in kennis gestel dat hy my terug skakel om my lugtyd te spaar indien ek dit sou benodig. Ons het vir die insleep voertuig gewag en familie het ons by die ongeluks toneel kom oplaai. Waarlik puik diens.

emily ·

Wielspore, Jy is so reg, maar weet jy hoeveel mense nie eers hul polis nommer byderhand het nie, Wat nog van Nood nommers.
En dan word die versekeraar blameer, want hy het nie die nommers ens. vir jou gegee nie, Maar tog alles is in die polis.
Sit die goed op jou selfoon asb mense.

Leon ·

Die probleem is, as jy beseer is, dan sleep enige insleepdiens jou voertuig in want jy het geen beheer nie. Waneer jy jou bewussyn herwin is jou voeruig al uitmekaar en daar is niks oor nie. Die onderdele is lankal verkoop. En dan slaan hulle jou nog met stoor en insleep koste.
Ons moet soos die VSA maak. ‘n Insleepdiens moet registreer. Hulle word opgelei en moet sertifikate voorlê. Hulle mag dan met blou ligte en sirenes ry en hulle word baie streng beheer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.