Verbruikersake: Verbruikerstribunaal besluit oor motorkredietheffing

motor-kar-spoed-meter

Foto: Chuttersnap/Unsplash.com

Die Nasionale Verbruikerstribunaal het nou die finale oordeel gevel oor die heffings wat verbruikers moet betaal wanneer hulle ’n motor op krediet koop en bevind dat die heffing, wat ʼn “on the road fee” genoem word, onwettig is. Die Nasionale Kredietreguleerder het vroeër voldoeningskennisgewings aan verskeie motorhandelaars uitgereik om die heffings te staak. Ina Opperman verduidelik.

ʼn “On the road” heffing, ook bekend as ʼn “dealership” fooi of “service and delivery” fooi, word gehef om die voertuig na te gaan en skoon te maak voordat dit afgelewer word, sowel as die administrasie wat daarmee verband hou.

Die reguleerder het oor die afgelope paar jaar voldoeningskennisgewings uitgereik aan handelaars soos BMW Financial Services en Volkswagen Financial Services om dié praktyk te staak. Verbruikers wat motors op krediet koop moet ʼn heffing van tussen R3 000 en R6 000 betaal om ʼn nuwe voertuig te registreer, maar volgens die Nasionale Kredietwet mag dit nie deel wees van die kredietooreenkoms nie.

Handelaars het vasgeskop hieroor en die reguleerder het die kwessie na die tribunaal verwys om te besluit of hulle die fooi vir “on the road”, administrasie en hantering van die transaksie mag vra. Nou het die tribunaal wel bevind dat die heffing onwettig is en Volkswagen opdrag gegee om die heffings wat verbruikers reeds betaal het, terug te betaal.

Volgens die tribunaal se uitspraak laat die Nasionale Kredietwet nie die heffings toe nie. In sy uitspraak het die tribunaal ook Volkswagen Financial Services beveel om die praktyk van 10 April 2019 te staak en skriftelike bevestiging hiervan aan die reguleerder voor te lê.

Volkswagen moet ook die totaal van die heffings bereken en al hierdie heffings terug betaal aan verbruikers. Die terugbetalings moet bevestig word deur ʼn verslag van onafhanklike ouditeurs.

“Die reguleerder verwelkom hierdie uitspraak omdat dit die beskerming bevestig wat die Kredietwet vir verbruikers gee oor onwettige heffings,” sê Nomsa Motshegare, hoof uitvoerende beampte van die reguleerder. Die reguleerder sal voortgaan om ʼn oog te hou oor kredietooreenkomste om te sorg dat onwettige heffings en fooie nie ingesluit word in kredietooreenkomste nie.

Motshegare het vroeër daarop gewys dat verbruikers volgens die Kredietwet ʼn kwotasie moet kry wat aandui presies hoeveel die krediet gaan kos, sodat hulle kan seker te maak hoeveel hulle betaal en waarvoor.

Dit is wat jy moet betaal

Artikel 101 van die Kredietwet handel oor die koste van krediet en bepaal dat ʼn kredietooreenkoms net die volgende betalings mag insluit:

  • Hoofskuld: Die bedrag wat jy leen of waarvoor jy finansiering kry.
  • Aanvangsgelde: Die fooi wat die kredietverskaffer hef om die kredietooreenkoms met jou te sluit. Jy betaal dit slegs as die aansoek goedgekeur word en jy daarmee voortgaan. Dit mag nie meer as 15% van die hoofskuld beloop nie.
  • Diensgelde: Dit is die heffing wat jy betaal sodat die kredietverskaffer die ooreenkoms administreer en in stand hou. Dit mag nie meer as R50 per maand kos nie.
  • Rente: Die bedrag wat jy aan die kredietverskaffer betaal op die uitstaande balans van die ooreenkoms. Jy mag nie meer rente as die voorgeskrewe bedrag vir elke soort lening betaal nie.
  • Kredietlewensversekering: Dit dek jou uitstaande skuld indien jy permanent ongeskik raak om te werk of sterf. Jy mag nie meer as R4,50 per R1 000 betaal vir versekering van ʼn bedrag vir kredietgeriewe, ongesekureerde lenings, ontwikkelingskrediet of ander soorte kredietooreenkomste nie. Vir huislenings mag verbruikers nou nie meer as R2 per R1 000 van die versekerde bedrag betaal nie.
  • ʼn Heffing vir wanbetalingsadministrasie: Hierdie bedrag mag net gehef word indien jy nie jou maandelikse paaiement betaal nie, vir onkoste om jou te laat weet dat jou betalings agterstallig is. Dit mag nie die voorgeskrewe maksimum vir die betrokke kategorie kredietooreenkoms oorskry nie.
  • Invorderingskoste: Die invorderingskoste mag ook net gehef word indien jy nie betaal nie en mag net die kredietverskaffer se werklike koste om die geld in te vorder, dek.

Kla hier

Kla eers by die kredietverskaffer self oor ʼn kredietooreenkoms. Indien jou klagte nie opgelos word nie, kan jy kla by die Nasionale Kredietreguleerder. Besoek die reguleerder se webwerf by www.ncr.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

VW ·

En die van ons wat reeds ons voertuie klaar betaal het? Ek het 2 voertuie in die laaste 10 jaar gekoop. Beide by VW. En die gelde is opgesit en betaal. Word ons ook terugbetaal?

Wielspore ·

Volgens die beslissing moet VW finacial services huidige en opbetaalde rekeninge se on the road fee terug betaal want dit is onwettig gehef.

Chrisna ·

In die berig word VW Financial Services en BMW Financial Services uitgesonder. Geld hierdie besluit dan nou vir alle motorvoertuig finansierders of net vir BMW en VW of hoe?. Ek het in 2016 my voertuig deur by ‘n handelaar met ABSA motorvoertuigfinansiering gekoop en die “on the road fee” het by die R4000 gedraai. By navrae was ek ingelig dat dit ‘n munisipale regulasie is om die verpligtende fooi te betaal. Nou hoe gemaak nou? Wie is clued up?

Hantie Havenga ·

Wil ook net weet wat van ander Finansierings wat ook die “on the road fee” gelde vra? Help ons lesers uit asb

Anoniem ·

Hoekom moet ons nog ‘n heffing ook betaal? Ons betaal reeds die lisensie en dis die handelaar se plig om die voertuig na te gaan en in ‘n skoon toestand te lewer? Dis net nog ‘n geldmaak foefie.

Jaco Burger ·

Die “on the road” fooi is net ‘n geld maak storie soos baie ander dinge. Die handelaar maak klaar wins op die verkoop van die voertuig en kry ‘n “kick back” van die bank ook vir die finansiering op die voertuig. Mense moet ook maar gelet wees op ekstras wat die handelaars laai. het by een gewerk en die persoon wat met die finansiering werk se nie vir klieente van die “ekstras” nie.

Tim ·

Goeie dag, ek is bestuurder by n tweedehandse handelaar, die “on the road fees” word in ons geval aangewend vir n verskeidenheid dienste, onder andere R500 se brandstof, valet van die voertuig wat R650 kos, “glaze en paint protection R850, ons lewer ook professionele finansierings opsies en raad, om net n paar the noem, ons gemiddelde bedrag wat ons spandeer om n voertuig vloer gereed te kry is R 7000, so om n dan n fooi van R3990 te vra vir dit is baie min, die ander alternatief is om die prys te verhoog met werklike koste maar dan gaan die voertuig se prys nie meer markverwant wees nie.

Wielspore ·

Tim, hoekom moet die koper betaal om die voertuig vloer gereed te kry, dit is mos die handelaar se verantwoordelikheid. Die kar moet alreeds skoon wees vir die koper, hoekom moet hy betaal om die kar wat hy koop te laat skoonmaak, paint glaze en paint protection is alles foefies.
Hierdie beslissing is lankal uitstaande, pay back the money.

Schalla ·

Tim, ek verstaan jou argument. Ek moet sê ek dink iemand rook julle om jou R650 te vra om ‘n splinternuwe kar wat net nodig het dat iemand enige chroom afwerking gou nagaan en blink vryf indien nodig. Klink half soos Nkandla.

Vir my is dit egter ‘n geval van, as dit is wat dit kos om die produk gereed vir die klient te kry, dan moet dit in die prys ingereken word, al beteken dit dat die produk dan nie meer markverwant geprys is nie. Ten minste word die kliënt nie dan verras met allerhande ekstras wat hy geen keuse het as om maar te betaal nie want hy het klaar besluit hy kan die voertuig bekostig, maar eintlik kan hy nie.

Dit sal wees soos om ‘n tandeborsel te koop wat R20 gemerk is en siende dat jy R22 in jou beursie het besluit jy jy kan dit koop, maar by die til word jy dan meegedeel die prys vir die verpakking sodat die produk op die rak mooi uitgestal kan word was nie ingesluit nie en sal ‘n verdere R3 kos en om dan nie te praat van die R1.50 heffing sodat ons iemand kan betaal wat die prys-plakkertjies op die produkte plak nie….. Dit voel nie vir my eties korrek nie, nie so nie?

Anton Kld ·

Tim, dit is ook algemene gebruik by handelaars om minder te betaal vir ‘n voertuig as die M&M prys, maar die verkoopprys word dan meestal bepaal deur die M&M verkoop waarde. Enige ooglopende kostes (bv bande, windskerm, verfwerk ens) op ‘n inruil word altyd afgetrek om vir die herstel daarvan voorsiening te maak. “On the Road” koste IS net nog ‘n wins vir enige handelaar.
Baie Goeie Aanbeveling???
Leon Schuster sê – Pay back the money!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.