Verbruikersake: Vermy só motorklagtes

Argieffoto (Foto: LauraTara, Pixabay)

Die Ombudsman vir die Motorbedryf het volgens sy verslag vir 2017, wat onlangs bekendgestel is, in 2017 ’n totaal van 194 845 oproepe ontvang, wat gelei het tot 7 693 nuwe klagtes wat geopen is. Altesaam 16 448 klagtes is in 2017 afgehandel. Ina Opperman het gaan kyk na klagtes wat in die jaarverslag genoem is en wat verbruikers daaruit kan leer.

Die ombudsman, Johan van Vreden, sê die beste manier waarop verbruikers hulself kan beskerm wanneer hulle oor motors wil kla, is om net met motorhandelaars wat by sy kantoor geregistreer is, transaksies te doen. Dit sluit in invoerders, verspreiders, vervaardigers, kleinhandelaars, verskaffers en tussengangers wat landbou-, nywerheids- of handelsvoertuie invoer, versprei, vervaardig, verkoop of verskaf.

Sleepwaens, vragmotors, motorfietse en vierwielmotorfietse en selfs bootenjins en die invoer, verspreiding, vervaardiging, verkoop en verskaffing van onderdele en bykomstighede vir hierdie voertuie, sowel as herstelwerk, versiening, veranderings, omskakelings en aanpassings word deur dié kode gedek.

Vervaardigerswaarborg

’n Verbruiker het ’n nuwe motor gekoop en verskeie probleme daarmee ondervind, wat enjinfoute ingesluit het. Herstelwerk is volgens die voorwaardes en bepalings van die waarborg gedoen, maar nadat die waarborg verval het, het die turbo en die enjin die gees gegee. Die verbruiker het gemeen as die aanvanklike herstelwerk van ’n hoë standaard was, sou die probleme op die ou end vermy kon wees. Die vervaardiger het toe aangebied om die meeste van die koste te dra om die enjin te vervang, maar die verbruiker het vasgeskop en daarop aangedring dat die vervaardiger die koste dra omdat die aanvanklike werk van swak gehalte was. Die ombudsman het egter besluit die vervaardiger het nie nodig om oor koste te onderhandel nadat die waarborg verval het nie.

Leer hierdie les: Wanneer herstelwerk volgens die vervaardiger se waarborg gedoen word, moet jy kla sodra die werk gedoen is en nie eers later nie.

Trane oor gebruikte voertuig

Nadat ’n verbruiker ’n voertuig by ’n handelaar gekoop het met 135 000 km op die klok, het hy van die tweede dag af probleme daarmee gehad. Die voertuig het op die ou end gaan staan en is na die handelaar geneem vir herstelwerk. Die handelaar het die verbruiker ook ’n gratis tweejaar- meganiese waarborg aangebied en gevra dat die verbruiker dit ná 1 000 km terugbring nadat die enjin vervang is. Die voertuig het egter weer gaan staan voordat die verbruiker dit kon terugneem. Volgens die handelaar was dit dié keer ’n elektroniese fout en die versneller het gebreek. Hierdie probleem was nie deel van die oorspronklike herstelwerk nie en dit het gebeur buite die ses maande tydperk vir herstelwerk wat deur die Wet op Verbruikersbeskerming vasgestel word. Die handelaar het aangebied om die helfte van die herstelkoste te betaal, maar die verbruiker was nie hiervoor te vinde nie. Die ombudsman het egter gevind die voertuig het steeds binne die ses maande tydperk geval en het aanbeveel dat die handelaar dit gratis herstel.

Leer hierdie les: Wanneer jy ’n gebruikte motor by ’n geregistreerde motorhandelaar koop, maak seker dat foute binne die ses maande tydperk herstel word op die handelaar se koste.

Bootenjin wat oorverhit het

Nog ’n verbruiker het by die ombudsman kom kla oor ’n bootenjin wat gaan staan het nadat herstelwerk gedoen is. By nadere ondersoek het die ombudsman egter tekens gevind dat die enjin aan buitensporige oorverhitting blootgestel is, aangesien foto’s gewys het dat die plastiekdele gesmelt en ander onderdele tekens van oorverhitting getoon het. Die ombudsman het agtergekom die pypies wat die water inneem, tydens gebruik verstop het, wat veroorsaak het dat die enjin oorverhit en gaan staan het. Die ombudsman het bevind dat die persoon wat die boot gebruik het, tekens geïgnoreer het dat die enjin oorverhit en dat die voortgesette gebruik daarvan die enjin laat breek het. Volgens die ombudsman het die hersteller nie beheer gehad oor hoe die enjin gebruik is nie en daarom kon die verbruiker nie die hersteller verantwoordelik hou vir die herstelkoste nie.

Leer hierdie les: As jy ’n herstelde enjin nalatig gebruik en byvoorbeeld nie gebruik staak as dit oorverhit nie, is die herstelwerk vir jou beursie.

Hou by vervaardiger se waarborgvoorwaardes

Die eienaar van ’n nuwe Ducati-motorfiets, wat ’n tweejaarwaarborg gehad het, het by die ombudsman kom kla nadat die bearing en silinder ingegee het. ’n Inspeksie deur die ombudsman het gewys die verbruiker het die waarborg nietig gemaak deur waterlekke deur ’n ongemagtigde hersteller te laat regmaak en nie die verpligte oliedienste te laat doen nie. Daar was ook bewyse dat die motorfiets gereeld onbehoorlik gebruik is. Foto’s het die bewyse gestaaf, maar die vervaardiger het tog aangebied om te betaal vir die onderdele. Die ombudsman het bevind die aanbod van die handelaar is billik, aangesien die skade deur die verbruiker veroorsaak is.

Leer hierdie les: Die bepalings van die waarborg hou net as jy die voorwaardes nakom en die voertuig behoorlik gebruik.

Waarborg op herstelwerk

’n Verbruiker wat sy heiningsnoeier ingegee het vir onderhoud en herstelwerk, net om te vind dit werk steeds nie, het by die ombudsman kom kla. Die handelaar het die snoeier weer reggemaak, maar dit het ’n maand later weer gebreek. Hierdie keer het die handelaar aangebied om dit gratis reg te maak, maar die verbruiker het gemeen die handelaar moet dit vervang. Die ombudsman het gesê die Wet op Verbruikersbeskerming bepaal dat daar ’n driemaandewaarborg op herstel- en onderhoudswerk en die arbeid daaraan verbonde is en dat die verbruiker die handelaar ’n kans gegee het om die herstelwerk weer te doen. Hy het bevind die handelaar moet die snoeier gratis herstel.

Leer hierdie les: Alle herstelde goedere het ’n outomatiese waarborg van drie maande op die herstelwerk.

Waarborg op gebruikte motors

’n Gebruikte motor het drie maande nadat die verbruiker dit gekoop het, gebreek, maar die handelaar wou dit nie herstel nie, aangesien hy meen die motor het weens slytasie gebreek omdat dit so ’n hoë kilometerlesing gehad het. Volgens die ombudsman moet ’n gebruikte motor in ooreenstemming met die Wet op Verbruikersbeskerming vir ’n redelike tyd lank bruikbaar en duursaam wees en die Wet bepaal ook dat hierdie bepaling nie uitgesluit mag word nie. Die Wet bepaal dat goedere ’n geïmpliseerde waarborg van ses maande het en die handelaar moes dit gratis herstel ingevolge die waarborg.

Kla hier:

MIOSA se kontakbesonderhede en klagtevorms is beskikbaar by www.miosa.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kevin ·

Sal graag wil weet watse klagtes is opgelos deur die motorombudsman, die motorombudsman beteken absoluut niks nie. Jy kan kla en kla en kla, hulle doen steeds niks nie,

Gerhard ·

Miskien is dit opgelos, die klaer was dalk net nie tevrede om te hoor hy het niks om oor te kla nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.