Verbruikersake: Voertuigopsporing, maar jou motor is steeds weg?

Argieffoto (Foto: LauraTara, Pixabay)

Baie verskeringsmaatskappye vereis dat verbruikers, wat hul motors verseker, ’n satellietopsporingstelsel laat installeer om te verseker die motor word gevind as dit gesteel word. Dis ook ’n goeie idee vir verbruikers wat ouer motors ry, want dit is beter om jou ou motor terug te kry as om met ’n klein bedraggie wat die versekering uitbetaal, te gaan soek na ’n motor om te koop. Ongelukkig is daar ook mense wat probleme daarmee ondervind. Ina Opperman gee raad oor hoe om jouself te beskerm wanneer jy hierdie soort ooreenkoms sluit.

Verbruikers kla gewoonlik oor satellietopsporingsdienste wanneer hul motors nie teruggevind word nie en wanneer hulle nie bestaande kontrakte kan kanselleer wanneer hulle ’n motor verkoop nie.

Maak seker die toestel werk

Jy mag gewoonlik nie teenwoordig wees wanneer die toestel geïnstalleer word nie, sodat rowers jou nie later kan dwing om te sê waar dit is nie. Dit beteken egter nie dat jy nie kan seker maak dat die toestel reg geïnstalleer is en reg werk nie. Vra die verkoopspersoon waar jy die toestel gereeld kan laat nagaan om te sien of dit nog werk om te keer dat jy met valse gemoedsrus rondry.

Maak ook seker wat jou regte volgens die kontrak wat jy teken, gaan wees indien jou motor gesteel word en nie teruggevind word nie. Is die alternatief vir jou aanvaarbaar?

Kanselleer só jou kontrak

Verbruikers word gewoonlik gevra om ’n vastetermynkontrak te sluit vir ’n satellietopsporingstelsel. Sommige verbruikers kla egter later dat hulle nie hierdie vastetermynkontrakte kan kanselleer nie, selfs al het die kontrakte verval.

Verbruikers wat satellietopsporingskontrakte wil kanselleer, loop hulle dikwels in ʼn muur vas. Selfs al verkoop jy jou motor en trek landuit, weier hierdie diensverskaffers dikwels om jou kontrak te kanselleer.

Die Wet op Verbruikersbeskerming

Artikel 14 en regulasie 5 van die Wet beheer die gebruik van vastetermynkontrakte in Suid-Afrika, deur aan te dui hoe lank die kontrak mag wees en hoe mens te werk moet gaan om dit te kanselleer.

Lengte van vastetermynkontrakte

Regulasie 5 van die Wet dui aan dat vastetermynkontrakte net 24 maande lank mag duur, tensy jy instem tot ʼn langer tyd omdat die verskaffer kan bewys dat dit tot jou finansiële voordeel sal wees om so ʼn kontrak te teken.

Artikel 14

Volgens Artikel 14 kan jy ʼn vastetermynkontrak kanselleer wanneer dit verval, sonder om ekstra te betaal, behalwe vir die laaste bedrag verskuldig aan die einde van die kontrak.

Diensverskaffers moet jou ook binne 40 tot 80 kantoordae voordat jou kontrak verval, op skrif in kennis stel dat die kontrak gaan verval en dit ook duidelik maak of die prys wat jy maandeliks betaal, dieselfde gaan bly indien jy die kontrak hernu.

Jy moet ook die opsie kry om met die kontrak voort te gaan op ʼn maand-tot-maand-grondslag, onderworpe aan belangrike veranderinge soos prys, tensy jy dit duidelik maak dat jy die kontrak wil kanselleer op die datum waarop dit verval, of instem om die kontrak te hernu vir nog ʼn termyn.

Kansellasie voor die vervaldatum

Jy kan ʼn vastermynkontrak vir satellietopsporing kanselleer voordat dit verval deur die verskaffer 20 dae kennis op skrif te gee. Die verskaffer kan egter ʼn kansellasietarief hef vir goedere wat verskaf is, soos ʼn selfoon, dienste verskaf of afslag wat toegeken is tot op die datum van kansellasie.

Indien jy egter ʼn vastetermynkontrak uitgeneem het toe iemand van ’n opsporingsmaatskappy jou bel en die kontrak aangebied het, kan jy die kontrak binne vyf dae op skrif kanselleer sonder enige kansellasieheffing, ingevolge die afkoelperiode van vyf dae vir direkte bemarking waarvoor die Wet voorsiening maak.

Die Wet bepaal die kansellasiefooi moet bereken word na gelang van die bedrag wat jy nog skuld, sowel as die waarde van die transaksie tot die datum van kansellasie en die waarde van die goedere, soos die toestel wat in jou motor is, die waarde van die toestel as jy dit teruggee, die lengte van die kontrak, jou voordele en nadele, die aard van die goedere of dienste, die lengte van die kennistydperk, die moontlikheid om iemand anders te kry om binne die kennisgee-tydperk die kontrak oor te neem en die algemene praktyk in die betrokke bedryf.

Die diensverskaffer mag egter nie ʼn kansellasietarief hef wat dit vir jou onmoontlik sal maak om jou reg tot kansellasie uit te oefen nie. Wanneer jy ʼn vastetermynkontrak sluit, moet die diensverskaffer dit ook duidelik maak dat ʼn kansellasietarief gehef sal word indien jy kanselleer voordat die kontrak verval.

Die diensverskaffer kan die kontrak kanselleer binne 20 dae nadat hy jou kennis gegee het dat, indien jy nie die vasgestelde bedrag betaal of hou by ander voorwaardes van die kontrak nie, dit gekanselleer sal word. Kansellasievoorwaardes mag ook nie in fynskrif onderaan die kontrak weggesteek word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johanna Botha ·

Hulle vat net jou geld …doen niks as iets wel gebeir nie ! !

Wielspore ·

Een van ons voertuie het so ‘n stelsel gehad en as klient kan jy hom een keer per jaar gratis laat toets. Die toets was onsuksesvol en die maatskappy het die opsporing stelsel kom regmaak. Die daaropvolgende toets was weer onsuksesvol. Die stelsel is verwyder omdat dit nie betroubaar is. In ‘n ander geval het een van ons gebruikte voertuie ‘n elektriese fout gehad wat die battery oornag ontlaai. Die oorsaak was twee foutiewe opsporing stelsels. Na my mening lewer van die opsporings instansies nie die diens wat hulle veronderstel is om te lewer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.