Vergelykende toets: Ford en Mazda nie meer identiese tweeling

Die Mazda BT-50 en Ford Ranger (Foto: Ford/Mazda)

Ons het onlangs ʼn beurt gehad om ʼn Mazda BT-50 en Ford Ranger te toets. Albei is die hoogste spesifikasie 2.2 TDCi sonder 4×4 en met outomatiese ratkaste. Die Ford is die 2.2 dubbelkajuit Hi-Rider XLT outo en die Mazda is die 2.2 dubbelkajuit SLE outo. Albei kos ook ʼn amper presiese R497 700 op die Mazda en R497 900 op die Ranger.

Albei bakkies is amper ewe groot. Die Ranger is vir my ʼn mooier bakkie – maar dit is slegs ʼn smaakding. Ek hou van die meer aggressiewe vierkantige lyne. Mazda het hul eie KODO-ontwerpstyl op die bakkie toegepas en dit is vir my bietjie te veel aan die gang daar vir ʼn man se bakkie. Soos ek sê, dit is wel pure smaak.

Die binneruim van die Ranger voel dadelik meer luuks as die Mazda. Hoewel die dimensies amper presies dieselfde is, het elke vervaardiger hul eie afrondings gedoen. Die Mazda het ʼn skoner en meer eenvoudige uitleg, maar die Ford beïndruk met sy slim nuwe SYNC-inligtingstelsel. Die Ford se instrumentasie kan ook verander word om die inligting te wys wat jy sou verkies.

Die BT-50 en die Ranger deel presies dieselfde enjin. Hoewel die hardeware identies is, het elke vervaardiger sy eie sagteware toegepas, en die verskille is groter as wat mens verwag. Die Ford se ratkas is beslis beter geprogrammeer as die Mazda s’n. Die Mazda hang heeltemal te lank aan ʼn rat vas voor hy oorskakel, onnodig op ʼn dieselenjin met 375 Nm-wringkrag. Dus toer die Ford rustiger in verkeer as die Mazda en beweeg met minder geweld deur sy ratkas. Die enjins voel so te sê identies. Die verskil van 8 kW en 10 Nm is nie opmerkbaar nie.

Die ritgehalte in albei bakkies is nogmaals dieselfde. Albei bakkies is gemaak om ʼn loonvrag van 1 075 kg te dra sonder diesel en passasiers en 3,5 ton te sleep. Oor die algemeen gedra albei bakkies hulle dieselfde op die teerpad, hulle lyk net bietjie verskillend.

Ek sal die bakkies so opsom. Ek’t gedink ek rook iets oor die Mazda se ratkas, toe gee ek die bakkie vir Esté, een van my kollegas by Maroela Media, sy ry self ʼn vroeër generasie BT-50 en sy kon ook nie ʼn houvas kry op die Mazda se ratkas nie. Ek sou nie sê die Ford is beter as die Mazda nie, dit is dieselfde voertuig en hardeware, maar dié Mazda word nou in die Thailand-fabriek gebou en ons Rangers hier in Silverton. Ek sal wel sê dat die Ranger beslis ʼn lekkerder voertuig is. Hy voel net meer afgerond as die BT-50.

Dié twee vergelyk so:

Ford Ranger 2.2 dubbelkajuit Hi-Rider XLT outoMazda BT-50 2.2 dubbelkajuit SLE outo
R497 900R497 700
4 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/100 000 km-diensplan

20 000 km-diensintervalle

3 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/onbeperkte km-diensplan

15 000 km-diensintervalle

118 kW/385 Nm110 kW/375 Nm
7.5 ℓ/100 km9.4 ℓ/100 km
7 lugsakke6 lugsakke

Mazda gee ʼn meer geloofwaardige gemiddelde brandstofverbruik-syfer. Indien jy reusemyle aflê elke jaar maak die Mazda se onbeperkte km-diensplan en waarborg sin, andersins koop ek die Ford.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Marcel ·

Jy weet vir so min of meer R15000 meer kan jy ‘n 2.8 GD-6 Hilux koop met so paar ekstras by. Vir my ‘n baie maklike besluit as jy dink aan betroubaarheid, ek het al te veel stories oor die Ranger se 2.2 engine gehoor.

Zack ·

Ek was Toyota en is weer weg by hulle na Ford. My 3.2 XLT sal ek vervang met n ander Ford 3.2
Stap by ‘n Toyota handelaar in en jy sal sien hulle het ook probleme. Kyk op FB na die 2.8 Revo se foute. Almal kla dis nie dieselfde as die ou Hiluxe nie. Alle make het foute maar sommiges praat nie oor dit nie.

Marcel ·

Ek stem Zack, met die 3.2 hoor ek nie van baie probleme nie maar dan gaan jy ver oor die R500000 betaal. Ek het half probeer in dieselfde prysklas bly maar indien prys nie te veel saak maak nie, dan kan jy die heel grootste Hilux koop en hy gaan steeds meer betroubaar wees. Volgens die JD power verslag het Toyota se bakkies 165 foute per 100 voertuie waar Ford se bakkies op 264 foute staan. Mense kan maar sê wat hulle wil, die Hilux sal altyd die betroubaarste bakkie wees.

Daan Erasmus ·

Stadig. Versigtig. Pasop. Bakkie koop is soos trou. Baie persoonlike smaak en bitter min plek vir feite.

cr ·

Ek sal die Mazda koop, sal te bang wees die frot slaan aan die brand!

Johan ·

Ek onlangs met iemand gepraat wat ‘n grootkop by Mazda is, en toe ek die persoon vra waarom word die nuwe BT50 ingevoer vanaf Thailand was sy antwoord: daar was te veel probleme met Ford se Silverton fabriek tov. kwaliteitbeheer in die verlede.

Laat mens nogal dink oor die gehalte van ons “plaaslike arbeid”…

Chris Ws ·

Sou ek opsoek wees na ‘n nuwe bakkie sal ek sonder om te twyfel ‘n ingevoerde produk koop inplaas van ‘n plaaslik vervaardigde een ongeag die fabrikaat want die hande wat plaaslik aan voertuie bou dink net aan toi-toi en staak en gee nie ‘n vlenter om vir werhsgehalte nie.Die Taiwanese het werkstrots in hulle wat plaaslik nie die geval is nie

Naam? ·

Soos wat sommige op die pad ry is dit eerder die ‘Ford Danger’.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.