Versneller die vlieg in Micra se salf

Nissan Micra (Fotos: Verskaf)

Nissan het ʼn ruk gelede sy Micra met ʼn beter 1.0-driesilinderturbopetrolenjin toegerus. Dit is ʼn reuseverbetering teenoor die 900 cc-enjin waarmee hy aanvanklik bekendgestel is … maar daar’s steeds ʼn kwaal.

Die Micra is ʼn mooi tjor. Die ontwerp is uniek genoeg sodat die voertuig uitstaan en aantreklik is, sonder om belaglik te lyk. Die binneruim is ʼn reuseverbetering op sy tweeling, die Renault Clio.

In die reeksleidende Tekna Plus-model wat ons nou getoets het, is ek self nie oortuig van die swart kleur van die bakverf nie, én die wynrooi leer aan die binneruim is vir my ʼn treetjie te ver – maar ek is waarskynlik nie die teikenmark nie, en diegene wat is, sal mal wees daaroor.

Nissan Micra (Fotos: Verskaf)

Die binneruim voel werklik luuks vir dié klas voertuig. Daar is leerbekleedsel, ʼn magdom veiligheidstelsels, klimaat en spoedbeheer, en my gunsteling – Apple Carplay en Android Auto. Ruimte is billik vir ʼn kompakte luikrugmotor en die kattebak is in die kol vir dié klas voertuig.

Dan kom ons by die enjin. Die 900 cc-Micra en -Clio kan stadig voel. Bó op die platorand kan die turbotraagheid irriterend raak in die verkeer, en sodra mens begin stoei met die rathefboom en koppelaar word daar skade aan die koppelaar aangerig. Die 1.0 is ʼn reuseverbetering – afgesien van een groot probleem.

Nissan Micra (Fotos: Verskaf)

In die 900 cc het ek gekla oor die kalibrasie van die versnellerpedaal self. Die goed is alles deesdae drive by wire-soorte met ʼn sensor aan albei kante. Daar vloei krag, die een stuur ʼn sein en die ander een ontvang dit. Die onderdeel in die Micra is heeltemal verkeerd gekalibreer. Al hou jy jou voet doodstil, kan mens voel hoe die kar minder en dán meer versnel – onophoudelik. Die ander probleem is, die eerste 20% van die pedaal is dalk 10% van die enjin se krag … nie genoeg om mooi weg te trek nie. Dan gee mens nóg bietjie vet, en die volgende 20% van die pedaal is 80% van die krag – sodoende is die hel los, daar’s wieltol, koppelaars word beskadig en allerhande onaangename dinge.

Die Micra is maklik om op te som. Indien jy ʼn Micra moet hê, is die een om te koop beslis die 1.0-Tekna. Ek sou ongelukkig net nie met dáái versneller kon saamleef nie – veral nie in die stad waar dié buksie meestal gaan rondry.

Die reeks lyk só:

Nissan Micra 66 kW turbo Visia66 kW/140 Nm5.1 ℓ/100 kmR257 100
Nissan Micra 66 kW turbo Acenta66 kW/140 Nm5.1 ℓ/100 kmR284 100
Nissan Micra 66 kW turbo Acenta Plus66 kW/140 Nm5.1 ℓ/100 kmR300 400
Nissan Micra 84 kW turbo Acenta Plus84 kW/180 Nm5.0 ℓ/100 kmR311 100
Nissan Micra 84 kW turbo Tekna84 kW/180 Nm5.0 ℓ/100 kmR331 800
Nissan Micra 84 kW turbo Tekna Plus84 kW/180 Nm5.0 ℓ/100 kmR342 600

Die reeks word gedek deur ʼn 6 jaar/150 000 km-waarborg en 3 jaar/90 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Opel Corsa 1.4 Enjoy auto66 kW/170 Nm4.6 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

3 jaar/60 000 km-diensplan

R263 000
Citroën C3 1.2T Shine81 kW/205 Nm6 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/100 000 km-diensplan

R299 900
Peugeot 208 1.2 GT-Line81 kW/205 Nm4.5 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/100 000 km-diensplan

R299 999
Mazda 2 1.5 Individual85 kW/148 Nm5.7 ℓ/100 km3 jaar/ onbeperkte km- waarborg

3 jaar/ onbeperkte km- diensplan

R302 400
Honda Jazz 1.5 Elegance88 kW/145 Nm6 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R302 600
Kia Rio 1.4 Tec74 kW/135 Nm5.8 ℓ/100 km5 jaar/ onbeperkte km- waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R309 995
Volkswagen 1.0TSI Highline85 kW/200 Nm4.7 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

R315 100
Suzuki Swift 1.4T Sport103 kW/230 Nm6.1 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R317 900
Toyota Yaris 1.5 S79 kW/140 Nm5.9 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

3 dienste-diensplan

R321 300
Ford Fiesta 1.0T Titanium92 kW/170 Nm4.3 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R328 500

Nissan Micra (Fotos: Verskaf)

Hier is ʼn magdom mededingers. In vergelyking met die res is die Micra baie duur. Die Corsa is ʼn ware winskoop. Die Citroën C3 is ʼn puik pakket vir die prys. Die Mazda is puik afgerond met ʼn hoë spesifikasievlak. Die Honda Jazz sal nooit ʼn voet verkeerd sit nie. Die Polo is die meer konserwatiewe produk tussen dié klomp. Die Swift Sport is verreweg die verrigting-winskoop en die sterkste van die klomp. Ek sou óf die Citroën C3 of die Swift Sport kies in dié klas, na gelang van wat presies jy soek. Gaan toetsbestuur wel almal, een sal beslis jou hart roer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wielspore ·

Sal graag meer wil weet van turbotraagheid op die op die platorand, na my mening het lugdruk (hoogte bo seevlak) min tot geen invloed op ‘n turbo enjin.

Brendon Staniforth ·

Dagsê Wielspore

Baie dankie vir jou kommentaar. Ja, die lugdruk hier op die platorand het wel ‘n invloed op selfs ‘n turboenjin. ‘n Atmosferiese enjin verloor ongeveer 17.5% hier bó, en ‘n turbo enjin slegs omtrent 7%.

Die dunner lug het wel ‘n invloed op die turbo. Dit vat langer vir die turbo om aan die gang te kom – en dit is dan die turbotraagheid waarvan ek praat. So die twee loop hand in hand.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

tweeling ·

Wielspore, dit het nie met die lugdruk uit te waai nie maar met die minder suurstof op platorand. Jou turbo gee meer suurstof en dan nog die tussenverkoeler wat nog ekstra bydra.

Wielspore ·

Ek haal aan uit ‘n bekende SA tydskrif: However, this is negligible when compared with the air-pressure difference between Johannesburg and Durban (standardised pressures are 83 kPa in Johannesburg and 101 kPa at sea level), which results in an estimated power loss at altitude of about 17% in a naturally aspirated engine. The performance of turbocharged engines is much less affected because the boost-control strategy attempts to achieve similar set points at altitude than at the coast, bar any turbine-speed limitation.

andre ·

Brendon ,ek dink dis n 1.0L .die 1.2L is n 4 silinder. Teen hierdie pryse sal die Swift n goeie keuse wees

Brendon Staniforth ·

Dagsê Andre,

Baie dankie vir jou kommentaar. Jammer vir die oorsig. Die artikel is reeds gewysig.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.