Vespa GTS 300 HPE – ʼn Italiaanse ikoon.

(Foto: Verskaf)

Dit is byna ondenkbaar hoe die motorfietslandskap sou lyk as dit nie vir die Tweede Wêreldoorlog was nie. Voor die oorlog het Yamaha musiekinstrumente gemaak, Suzuki het groot weefmasjiene vervaardig en Ducati het komponente vir radio’s gebou. Na die oorlog was daar egter ’n groot aanvraag na goedkoop vervoer en hierdie maatskappye moes noodgedwonge diversifiseer om te oorleef.

ʼn Ander Italiaanse maatskappy wat vliegtuie en treine gebou het, is besit deur die Piaggio‑familie. Tydens die oorlog het hulle uiters suksesvolle vliegtuie gebou en daarom is hulle fabriek deur die geallieerde magte in puin gelê. Enrico Piaggio moes ’n ander plan na die oorlog maak want Italië was verbied om enigsins militêre toerusting te maak. Daar was dus ’n oorskot van ingenieurs wat sonder werk gesit het. Een van hulle was Corradino D’Ascanio. Italië se paaie en infrastruktuur was verwoes, en ’n motorfiets het na die ideale oplossing gelyk. D’Ascanio se eerste prototipe was uit vliegtuigonderdele geskep, selfs dele van Mussolini se vliegtuie. Toe Enrico Piaggio die eerste keer die ontwerp van die motorfiets gesien het, was hy in vervoering. Van bo, met die breë lyf en puntstert en handvatsels wat soos antennes lyk, het Piaggio gesê dit lyk soos ’n wesp. Of soos hy dit in Italiaans sou sê: Vespa. Die Vespa het diep in die harte van Italianers gekruip. Soveel so dat daar selfs ’n nuwe woordskepping was: Vespare. Dit beteken om êrens heen te gaan op ’n Vespa.

Hierdie ikoniese motorfiets word vandag steeds vervaardig en die ontwerp het grootliks onveranderd gebly. Ek het ’n voorliefde vir bromponies, alhoewel ek persoonlik nie van die Afrikaanse vertaling vir ’n scooter hou nie. Ek probeer al lank om kontak met Vespa Suid‑Afrika te maak om een vir ’n toetsrit te kry, maar met geen sukses nie. Toe ek egter my eie BMW GS moes neem vir sy jaarlike diens, ontmoet ek vir Clint van Clint’s Scoots. Hy verkoop Vespas en deel die perseel met Bavarian BMW in Centurion. Ek het my dilemma aan hom verduidelik, en hy het daar en dan vir my ’n Vespa vir Paasnaweek aangebied. Boonop het hy my genooi om die Vrydagoggend hulle weeklikse Vespa-ontbyt by te woon. Om ’n Vespa te ry, is baie meer as net blote vervoer, dit is ’n leefstyl. Nou sou ek ook kon ervaar wat Vespare is.

Clint het vir my ’n Vespa GTS 300 HPE gereël. Die fiets was afgewerk in ’n sagte pastelkleur genaamd Verde Relax. Die afwerking op Vespas is uitsonderlik. Anders as ander bromponies is die meeste Vespa‑bakpanele nog van metaal. Onder die saal is daar pakplek vir ’n paar los items en voor jou bene is daar nog ’n kompartement vir kleiner items soos jou beursie en selfoon. Daar is selfs ’n USB-sok om jou foon te laai terwyl jy ry. Die passasier se voetrusse vou mooi weg in die bakwerk. Die hele fiets is elegant en goed uitgedink.

Clint het vir my die kontroles verduidelik, maar dit was nie ’n lang gesprek nie. Daar is nie veel aan ’n Vespa nie. Dit is die eenvoud vanself. Al die kontroles is presies waar jy dit sal verwag. Daar is ’n klein spoedmeter en ’n brandstofmeter. Die fiets self is verbasend groot en breed en ek dink korter ryers kan dalk sukkel om hulle voete plat op die grond te kry. Daarvoor het Vespa darem die kleiner Primavera‑modelle ook.

(Foto: Verskaf)

Toe ek by Clint wegry, het ek besef hoekom baie bromponies graag soos ’n Vespa wil lyk en ry. Die kraglewering is glad en verbasend goed. Jy sal enige resies met ’n voertuig maklik wen by ’n verkeerslig. Op die snelweg tel die Vespa goed spoed op en bereik die spoedgrens met gemak. Ek was baie beïndruk met hoe stabiel en solied die Vespa gevoel het.

Die volgende oggend het 17 Vespas in Hazelwood bymekaar gekom, en mense het met my gesels asof hulle my al jare ken. Ons het oor alles behalwe politiek gesels. Nuwelinge het verskillende modelle bewonder en ons het hartlik saamgekuier. En net hier lê die bekoring van die Vespa‑gemeenskap. Verbeel jou ’n kulinêre rit, al langs die Amalfi-kus in Italië. Of ’n groep Vespas wat rustig ry tot in Clarens. Dit moet jy eerstehands ervaar met ’n Vespa onder jou. Kyk verby die deurstap‑ontwerp en kom beleef dit. Gaan maak ’n draai by Clint en kom beleef wat dit is om te Vespare!

(Foto: Verskaf)

Clint’s Scoots se Facebook blad : https://www.facebook.com/ClintsScoots

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kirst ·

Bromponie beskryf mooi wat dit is. Maar as jy nie daarvan hou nie kan jy altyd die Afrikaanse naam gebruik wat in die Wes-Kaap daaraan gegee is; poegie.

Nierkie ·

Ek het nog altyd ‘n sagte plekkie gehad vir ‘moderne’ Vespas, maar moet net nie vra oor die prys nie, jy sal op jou rug val.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.