Veteraantoer se fut nog lank nie uit

Philip Kuschke by sy 1915 Model T Ford

“Die helfte van die motors wat vir vanjaar se toer ingeskryf is, is ware veterane – die oudste onder hulle ’n 1908 Model S Ford.”

Só sê Philip Kuschke wat aan die stuur staan van die 2022 Zesto Café Veteraantoer, wat die voorloper is van twee dae se enjinplesier wanneer die langverwagte George Oumotorskou sy 25ste bestaansjaar op 12 en 13 Februarie by die Eden Tegniese Hoërskool (voorheen PW Botha Kollege) vier.

Die eienaar en bestuurder van die Model S Ford is Ali van Jaarsveld, wat jaarliks van Johannesburg af reis om by die toer aan te sluit.

“Dis dus nie net vir mans nie: baie eienaars word deur hul vennote vergesel, en my vrou Rosita skuif dikwels agter ons 1915 Model T Ford se stuur in. Dis ook die geval met mede-SKOMK‑lid Phillip Rosser, wat beurte maak met sy gade Amanda wanneer dit by die bestuur van hul 1926 Model T Ford kom.

Rosita Kuschke in ‘n 1911 Model T Ford

“Daar is ’n tasbare gevoel van afwagting onder ons. Een deelnemer van Kaapstad sê hy reël sy jaarlikse vakansie om die geleentheid. Netso beplan ’n Kanadese deelnemer die besoek aan sy Tuinroete-tuiste om spesifiek met die veteraan toer en oumotorskou saam te val,” sê Kuschke, tans sekretaris van die Model T Ford-klub van Suid-Afrika.

Veterane moes noodwendig voor 31 Desember 1918 gebou gewees het. Aangesien hierdie motors so skaars soos hoendertande is, maak die Veteraantoer voorsiening vir modelle sonder voorremme, waarvan die vervaardiging om en by 1930 ’n natuurlike dood gesterf het.

As ʼn mens die geringe aantal goed bewaarde bejaarde motors wat vandag in omloop is in ag neem, is dit verrassend dat 22 toergangers vir vanjaar se uitstappie ingeskryf het. Hulle is woonagtig in groot sentra soos Gauteng en Kaapstad, maar ook dorpies soos Bethlehem en Piet Retief. Dié deelnemers word sonder uitsondering met ope arms ontvang deur hul George‑kollegas.

Die 2022 Zesto Café Vet Toer skop amptelik op Donderdag 10 Februarie in Calitzdorp af. Robinsonpas word oorgesteek op pad kus toe, en dan word daar verby Hersham en Bothastrand gery voordat Zesto Café as bestemming vir middagete dien.

Ali van Jaarsveld in ‘n 1902-Oldsmobile

“Verskeie toerdeelnemers maak ook die Crankhandle Klub se Kalkbaaitoer mee, wat op 6 Februarie begin. Ons vertrek dus Vrydag 4 Februarie uit George en slaap in Bredasdorp voor ons Saterdag in die Moederstad aanland,” sê Kuschke.

“Nadat ons uit Kalkbaai vertrek, keer ons via Wellington en Franschhoek terug waar ons Dinsdag die oumotormuseum besoek, en dan ʼn paar wynplase op pad Montagu en Calitzdorp toe verken.”

Zesto Café Vet Toer val dan amptelik op 10 Februarie in die pad, voor die kundig gerestoureerde stoet se deelname aan George Oumotorskou op 12 en 13 Februarie.

Die Silwer Jubileum GOMS‑geleentheid word weer eens trots ondersteun deur SCRIB BENZeum, en vanjaar se voorafgaande padslaan van veteraan‑ en klassieke motors is moontlik gemaak deur Zesto Café by Eden Meander.

Volg hulle op Facebook en koop jou toegangskaartjie deur Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.