Video: Dié super-vragskip laat SA se (uitvoer)wiele rol

(Foto: Brendon Staniforth)

Op ʼn globale skaal is Suid-Afrika se motorbedryf werklik piepklein. Ons verkoop sowat 500 000 nuwe motors per jaar in Suid-Afrika. China het verlede jaar 27 miljoen nuwe motors verkoop en Amerika die helfte daarvan met amper 14 miljoen.

Ek was onlangs in China, en dis nie nét Chinese handelsmerke wat daar rondry nie. ʼn Mens kry elke denkbare motor in ʼn L-weergawe, vir lang afstand en al die luukse Duitsers is daar. As jy op Suid-Afrika fokus, het ons sewe aanlegte in Suid-Afrika wat motors vervaardig – Isuzu en Volkswagen in Gqeberha, Mercedes-Benz in Oos-Londen, Toyota in Durban, BMW, Nissan en Ford in Pretoria.

(Foto: Brendon Staniforth)

Daardie sewe alleen het die vermoë om sowat 1,4 miljoen motors ʼn jaar te vervaardig. Waar gaan die miljoen heen wat nie verkoop word nie?

ʼn Interessante feit wat baie mense nie weet nie, is dat ons Suid-Afrikaanse motoraanlegte wêreldwyd gereken word vir puik bougehalte. Dit is hoe ons BMW se X3, Mercedes-Benz se C-klas, Volkswagen se Polo én Ford se Ranger, wat pas as motor van die jaar gekroon is, hier kan bou. Die surplus, gepaardgaande met goeie bougehalte én ʼn swak wisselkoers met die dollar, maak Suid-Afrika ʼn baie aantreklike mark vir uitvoer na honderde markte wêreldwyd.

Die voertuie wat uitgevoer word, word met skepe vervoer. Ek wonder al geruime tyd hoe moet só ʼn skip lyk en wat is die logistiek daaraan verbonde.

Ná gesprekke met Ford en ʼn klompie maande later val alles in plek. Die hoof van logistiek by Ford moet vir sy kwartaallikse terreinbesoek gaan. Ford vra vir NYK Line toestemming om ʼn joernalis aan boord te bring. NYK Line kry toestemming by die ander handelsmerke wat ook op die skip vervoer word – ons mag net nie foto’s van hul karre neem nie.

Met ʼn hoësigbaarheidsbaadjie én ʼn paar veiligheidstewels aan ry ons by die hawe in asof ons die plek besit. Ons moes blaas om seker te maak ons is nie onder die prop nie – en siedaar, daar staan ons langs die kaai waar NYK Line se Cassiopeia Leader oor ʼn paar minute gaan vasmeer.

Die skip kom om die hoek en dis regtig indrukwekkend. Staaaaadig skuif hy al nader tot hy vasgemeer is. Die skaal is eenvoudig asemrowend. Omtrent 200 m lank en 32 m breed. Die deur agter vat byna ʼn uur om oop te maak – en soos ek staan en wonder hoekom dit só lank vat, val dit my by dat daai deur maklik ʼn honderd ton weeg… dis nie nét ʼn geval van maak hom gou oop nie.

Uiteindelik word ons toegelaat om aan boord te gaan. Dit is verstommend. Dit is opvallend hoe baie dit in die skip raas, maar al die waaiers loop voluit om seker te maak dat al die uitlaatgasse van die bakkies wat gelaai word vinnig uit die skip verwyder word. Ons klim in op dek vyf. Daar is vier onder ons waar die motors geberg word; drie van hulle onder die waterlyn. Daar is sewe bó ons. Twaalf in totaal. In dié skip kan daar ongeveer 6 000 motors pas. Indien daar op dek vyf Mercedes-Benz se C-klas gelaai word, kan óf dié dek gelig word om meer spasie te maak onder hom, óf die een bó hom kan laat sak word – dan word daar meer spasie op daardie dek geskep vir ʼn groter voertuig soos Ford se Ranger.

ʼn Span van 35 bemanningslede laai byna 1 000 Ford Rangers wat uitgevoer word na meer as 100 markte wêreldwyd – almal trots vervaardig in Suid-Afrika. Die volgende hawe waar die boot sal aandoen, is Spanje.

Ons stap deur die skip. Die skaal hou aan verstom. Ons gaan op na die brug. Die kaptein wys vir ons al sy toerusting en ek vra: “Hoeveel is die algehele bemanning op die skip… 36?” “Nee, slegs 24,” vertel hy laggend. Mensig! Vier en twintig mense hou in stand, kook, maak skoon, maak seker die enjin loop klopdisselboom en gaan elke ratelomslag na, elke dag. Elke kar het minstens vier. Dit is minstens 24 000 ratelomslae wat elke dag nagegaan moet word.

Ons gaan na die agterkant van die skip, af met ʼn hysbak tot in die enjinkamer, ʼn paar verdiepings onder die waterlyn. Dis oombliklik opvallend hoe warm en raserig dit in die enjinkamer is. Een enjin gee aandrywing en daar is agt silinders wat 15 000 kW bied. Die enjin dryf een propeller van 6,2 m in deursnee. Daar is drie dieselkragopwekkers. Dis juis twee van hulle wat voluit staan en brul, een vir krag en ligte en die ander een om al die waaiers aan te dryf. Die derde kragopwekker word gebruik wanneer die skip dok om die propeller voor in die boeg aan te dryf.

Soos ons van die skip af stap, hang my mond oop. Só ʼn eenvoudige oplossing, dog só indrukwekkend. Ek dink toe aan die enorme taak wat ʼn vervaardiger soos Ford het om elke stukkie van die legkaart presies te laat pas om miljoene voertuie wêreldwyd elke jaar te verkoop… en dan dink ek aan ons plaaslike uitdagings soos beurtkrag en die verval van die spoorweg. Om elke hoek en draai is daar reuse-uitdagings, tog staan Ford sterk.

(Foto: Colin Mileman)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Groen Ghoen ·

Uiters indrukwekkend! Ek sal graag wil sien hoe dit in die motorfabrieke lyk…. robotika op sy beste?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.