Video en foto’s: ʼn V8 soos min

Die Lexus RC F. Foto: Verskaf

In ʼn tyd waar meeste enjins kleiner word en turbo’s kry, maak dit ʼn gedeelte van die motorman in my hartseer. Hoewel turbo-enjins loop dat dit klap, is daar min dinge wat vergelyk met ʼn goeie atmosferiese enjin waar mens die toere bo 7 000 r/min. kan jaag. Nóg lekkerder is wanneer die toerenaald bó 5 500 r/min. kom en die enjin dán regtig begin trek … Hy begin dán ook vir mens regtig laat weet daar is iets aan die gang soos hy sy stem dik maak deur die vier uitlaatpype.

Ons ken die Lexus RC. Ons het die bekendstelling van die 350 bygewoon en het hom ook later op toets gehad. Ek is gaande oor die gemak en die ontwerp. Die gehalte van die Lexus is soos gewoonlik uit die boonste rakke. Die RC 350 is ʼn lieflike sportmotor en het sy plek in die mark. Die 350 het wel plek in die reeks gelos vir die vuurvretende F. Die Lexus RC F word aangedryf deur Lexus se 5,0 V8 met 351 kW en 530 Nm gepaard met hulle agtspoed-wringkragomsitter-outokas.

Die Lexus RC F. Foto: Verskaf

Een van Lexus se puik eienskappe is die ritgehalte. Al is die RC F ʼn sportmotor met ʼn asemrowende V8 ry hy steeds soos ʼn Grand Tourer. Die RC F het sitplek vir vier – maar eintlik eerder net vir 2 + 2. Daar is ʼn ruim kattebak vir jou naweek weg se pakkerasies. Op die oop pad teen 120 km/h luier die V8 teen ʼn lae 1 900 r/min en dus is die brandstofverbruik regtig puik. Ons het aan die Suidkus 9,1 ℓ/ 100 km gehandhaaf. As mens sy keel ooptrek op die baan is dit ʼn ander storie – maar dis te wagte.

Die RC F bied ʼn indrukwekkende balans tussen verrigting en gemak. Daar is blitsvinnige sportmotors wat verskriklik vinnig is – maar hulle is eenvoudig té hard om die langpad mee aan te durf. Die RC F kán loop soos ʼn windhond, 270 km/h om presies te wees – maar hy doen dit in uiterste gemak.

Die Lexus RC F. Foto: Verskaf

As mens nou werklik “groot” is, en jy soek ʼn unieke sportmotor wat pasgemaak is vir om ʼn baan jaag – is die RC F Track Edition moontlik die antwoord. Dit is dieselfde enjin en onderstel as die RC F met ʼn verskeidenheid CFRP- (koolstofvesel- versterkte plastiek) bakpanele soos die enjinkap, dak en so meer. Die Track kry ook spesiale liggewig-sierwiele. Dit spaar altesaam 80 kg teenoor die standaardmodel. Dit bied ʼn 0,2 sekonde vinniger naellooptyd tot 100 km/h. Die Track-weergawe het ook koolstofkeramiek-remme. Om die baan voel die remme onvernietigbaar.

Die Lexus RC F. Foto: Verskaf

Op die langpad is die sjarme van die V8 effe gedemp andersins sou mens heeltyd teen 200 km/h en meer getoer het. Waar dit losbars, is om die baan. Waar mens regtig die V8 se staal sien, is om die baan in die Track-weergawe met Giniel de Villiers agter die stuur (video volg onderaan die berig).

Maak geen fout – Lexus kan met die RC F heeltemal sy man staan in die swaargewigkategorie teen die Duitsers. Die Lexus het sy eie unieke Japannese sjarme, en ek is gek daaroor. Die RC F word gedek deur Lexus se omvattende sewe jaar/105 000 km-waarborg en instandhoudingsplan. Daar hoef ook nie aan Lexus gerapporteer te word indien jy met jou eie Lexus om ʼn baan gaan jaag nie, en sy waarborg word nie daardeur beïnvloed nie.

Die RC F-reeks lyk só:

Lexus RC F351 kW/530 Nm4,3 sek.270 km/hR1 318 300
Lexus RC F Track351 kW/530 Nm4,5 sek.270 km/hR2 098 200

Brendon Staniforth en Giniel de Villiers jaag om diie baan by Dezzi Raceway in Port Shepstone:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Vraagteken ·

Hi Brendon, het ek reg gelees? Hoef ek nie aan hulle te rapporteer as ek op ‘n baan gaan ry nie?

Beteken dit dat hulle meganismes soos die ratkas, ewenaarslot, en enjin gaan dek nogsteeds? Indien so, kan ek aflei dat hulle baie vertroue in hulle produk het…

Brendon ·

Dagsê Vraagteken

Baie dankie vir jou kommentaar. Ja, dit is inderdaad reg. Ek het spesifiek gevra oor die koolstof remme en die kostes om dit te vervang want dit is bitter duur. Die remme word onder die instandhoudingsplan gedek, en daar is geen renbaan beperkings daarop nie. Ek is nes jy verstom
daaroor en ek dink jou afleiding is in die kol.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

koos ·

En daai waarborg. Ander bied gewoonlik 2 jaar onbeperkte waarborg. Toyota het werklik vertroue in die kar, of hulle verwag dat nie veel gaan verkoop nie en die aanbod meer aanloklik maak.

Hansi DiKnoppio ·

Pragtige motor….net jammer dat…….as ek naar die foto van die Enjin kyk dit net ‘n “Tupperware-Moderne-Kuns” soort van ‘n Enjin laat sien….! ! !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.