Dit is Sondag die derde en finale dag by die Simola-heuwelren. Vandag vind die King of the Hill-eindronde plaas.
As ons na die vinnigste tye kyk oor al die kwalifiserende rondtes, is Robert Wolk met sy Pillbeam Infinity V8 nog die vinnigste met ʼn tyd van 40.221 sekondes gevolg deur Reghard Roets in sy verstommende Nissan GT-R. Roets is in 40.296 sekondes oor die 1,9 km. Roets word naby gevolg deur Franco Scribante in sy GT-R met 40.619 sekondes.
Die son skyn vandag en die manne (en vroue) begin nou die krane oopdraai – hier is renmotors met oor die 2 000 perdekrag! Dit vat dae om die voertuie presies ingestel te kry, sodat die turbo’s tot volle mag oopgedraai kan word. Teen vanmiddag laat sal ons weet wie is die koning van die Simola-heuwel.
Volg die pret aanlyn by http://www.simolahillclimb.com/ of http://www.facebook.com/SimolaHillclimb/ of op die kassie:
- Sondag 8 Mei – 14:15 tot 14:55 – regstreeks (Sports Arena S3)
Meer oor die borg:
Suzuki Auto Suid-Afrika kom wys hul staal by Simola met verskeie speelgoed. Suzuki het verlede maand rekordverkope aangeteken met 3 696 eenhede. Uit dié verkope was die gewildste Suzuki-model hul Swift, wat boonop die topverkoper van alle passasiersmotors was. Hier by Simola het Suzuki twee Swift Sport-tjorries wat tot dusver verstommende tye teen die bult op aangeteken het. Die vinnigste tyd is deur Wesley Greybe aangeteken: ʼn fantastiese 55.079 sekondes vir ʼn absoluut standaard Suzuki Swift Sport met ʼn handrat.
Reuben van Niekerk, ʼn mede-motorjoernalis was op sy hakke in die outomatiese weergawe met ʼn tyd van 55.901 sekondes. ʼn Ford Mustang was tussen hulle met ʼn tyd van 55.809 sekondes.
In die segmente waar Suzuki-motorfietse meeding, sit hulle met ʼn 10,95%-markaandeel. Suzuki-motorfietse het sopas hier by Simola hul Suzuki GSX-S 1000 GT gewys. Brian Cheyne, een van Maroela se verslaggewers, sal waarskynlik binne die volgende maand ook sy beurt kry op hierdie motorfiets. Dit is ʼn broer van die GSX-S1000 naak fiets en is meer gefokus op gemak en die lang pad, en is hul splinternuwe mededinger in die 800cc plus klas. Suzuki-motorfietse het in 2021 hul beste verkope in die afgelope vier jaar gehad.
Suzuki wil graag probeer om ʼn motorfietsklas te skep by Simola. Die motorfietsrenjaer AJ Venter is dus hier met sy eie Suzuki GSX-R1000 R-renfiets. AJ jaag jaarliks by die wêreldberoemde Isle of Man TT-ren. Kommunikasie-ghoeroe by Suzuki Motorfietse, Chris Kuun, jaag self teen die bult op met die nuwe GSX-S 1000 GT. Dalk sien ons volgende jaar hoe meer motorfietse teen die bult opjaag.
Oor die algemeen is Suzuki Auto Suid-Afrika op ʼn opwaartse mars en sal binnekort sy splinternuwe Baleno by Nampo ten toon stel.