Video: Vroue vat voor in dié fabriek

Die vroue wat by die motorfietsfabriek sal werk. (Foto: Twitter)

Vergeet van glasplafonne en vroue wat verbete veg om op gelyke voet met hul manlike eweknieë in die raadsaal mee te ding. In Indië vat vroue vreesloos voor in ’n splinternuwe fabriek wat elektriese motorfietse vervaardig. Gerat om, moersleutel in die hand, te wys dat die Evasgeslag nie skroom om skouer aan die wiel te sit nie.

Volgens Bhavish Aggarwal, medestigter en uitvoerende hoof van Ola Electric se FutureFactory in Tamil Nadu in Indië, sal meer as 10 000 vroue uiteindelik hier in diens geneem word.

Die eerste groep vroue het reeds die afgelope week in dié fabriek begin werk, en produksie sal na verwagting teen einde 2022 op volle vaart laat wiel.

Volgens Aggarwal is die fabriek die grootste wat slegs vroue in diens het en die enigste vervaardigingsaanleg van sy soort ter wêreld.

Meer as 10 miljoen elektriese motorfietse sal per jaar hier vervaardig kan word, oftewel een elke twee sekondes, wat 15% van die wêreldwye tweewielmark verteenwoordig. Altesaam 20 miljoen motorfietse word jaarliks in Indië verkoop en 12% van die bevolking spog met só ’n ryding.

Die FutureFactory is enorm en die Moembai- en Delhi-lughawens kan albei met gemak binne-in pas. “Die verlede van vervaardiging lê in China en die toekoms in Indië. Produkte van die toekoms wat in fabrieke van die toekoms beslag kry,” meen hy.

Aggarwal glo gelyke geleenthede vir vroue in die werkplek kan Indië se bruto binnelandse produk (BBP) met 27% laat groei. ’n Ekonomiese inspuiting wat dié land broodnodig het, nadat hy verlede jaar sy eerste resessie in dekades beleef en tussen April en Junie 2020 ’n rekorddaling van 24% in BBP beleef het, het CNN berig.

Volgens Aggarwal is motors verantwoordelik vir 40% van alle besoedeling in Indië. “Ons missie is om deur ons elektriese motorfiets ’n positiewe bydrae te lewer om klimaatsverandering in sy spore te stuit. Die toekoms is elektries.

“Ons begin ’n rewolusie. Net soos die een wat ons vryheid in 1947 verseker het, maar dié keer ’n rewolusie wat ons van petrol bevry. Die motorfietse wat tans op die mark is, is vervelig, vaal, bonkig en stadig. Ons produk spog met ’n moderne ontwerp, puik werkverrigting en die nuutste tegnologie,” het die groep gesê.

Die Ola S1 Pro-motorfiets is in tien kleure beskikbaar. (Foto: Verskaf)

Die Ola S1 Pro-motorfiets, wat in tien kleure beskikbaar is, kan van 0 tot 60 km/h in slegs vyf sekondes laat spaander en ’n topsnelheid van 115 km/h haal. Die battery hoef eers ná net meer as 180 km herlaai te word en ’n 8,5 kW-motor vuur dié blitsige, sleutellose tweewiel aan.

Die S1 kom met ’n 750 W-laaitoestel wat jou in staat stel om jou motorfiets binne ses uur tuis vol te laai, gereed om môre die pad te vat, of jy kan dit binne 18 minute tot op 50% laai by een van die Ola Hyper-laaipunte regdeur Indië.

Ander indrukwekkende kenmerke van die S1 en S1 Pro sluit in ’n truratfunksie, outomatiese spoedbeheer, verskeie klankopsies wat die fiets soos iets uit ’n wetenskapfiksierolprent kan laat klink, stemopdragbeheer, en ’n aanpasbare raakskerm met 4G-, Wi-Fi- en Bluetooth-funksionaliteit wat selfs wys hoeveel koolstofdioksied jy kilometer vir kilometer bespaar.

Boonop hoef jy nie alleen die pad te vat nie, die bagasieruimte onder die sitplek het plek vir twee valhelms.

Loer hier na Ola se elektriese motorfiets:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Francois Le Cochon ·

Mean time in RSA kan ons nie eers ‘n grasmasjien vervaardig nie. Moet se^, ek weet van ‘n gebou in Kaapstad waar die gebou se lugversorging teen R500 miljoen vervang is. Die hele span tesame met die ingenieur en topbestuur, was almal vroue. Die arc welding veral, was ongelooflik goed gedoen. Dan ook in Kaapstad is ‘n maatskappy wat handel in elke moontlike tipe batterye, en batterye bou op aanvraag. Almal vroue. Die eienares is ‘n eks-vloot duikboot ingenieur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.